Episode 6 van ‘Nêrens, Noord-Kaap’: Foto’s teen ’n sinkmuur

Deur Ilza Roggeband

Foto-herinneringe

Gideon Lombard as jong Lourens. (Foto: Verskaf)

Foto’s van Katja (Tinarie van Wyk Loots) is twee keer deel van die sesde episode. Eers is daar ’n jonger Lourens (Gideon Lombard) wat met ’n sigaret en drank in die hand na foto’s, wat van ’n skyfieprojektor op ’n laken geprojekteer word, kyk.

Jare later maak die ouer Lourens (Frank Opperman) die skyfieprojektor reg en kyk hy, weer met ’n drankglas naby, na foto’s teen die sinkmuur van ’n skuur op die plaas. Albei kere is dit Frans (jong Frans is Thommi Swanepoel, ouer Frans is Geon Nel) wat sy pa moet help – eers deur te bid dat sy pa gehelp sal word en later deur ’n besope Lourens in die bed te gaan sit.

Die braai

Ronnie (Albert Pretorius) en klein Lourens. (Foto: Verskaf)

Ronnie (Albert Pretorius) het Suzettte (Daneel van der Walt) gewaarsku dit gaan rof wees, maar niks kon hulle voorberei op die onsmaaklike – en wrede – gesprek aan tafel nie. Dit het gelyk of Ryan (Francis Chouler) nie kon wag om vir Lourens (Arnold Swart) te sê hy gaan nie saam Mauritius toe nie.

Sit daarby die nare ouma Olivia (Aletta Bezuidenhout) wat wil hê Lourens moet kosskool toe gestuur word en jy kan verstaan waarom Ronnie en Suzette nie vinnig genoeg Lourens se goed kon pak nie. Gelukkig het Suzette haar stekie na die arrogante Ryan se kant toe ingekry toe sy vroeër na hom, in sy gesig, as Shannon (Natalie Robbie) se beursie verwys het.

Lourens se las

Klein Lourens. (Foto: Verskaf)

Die las wat jong Lourens (Arnold Swart) dra, is te swaar vir sy jong skouers. Al wat hy wil weet, is of sy maatjie Willem (Leo Geldenhuys) oukei is. Daar is ’n konfrontasie met Willem se ma by die hospitaal en later word Lourens as ’n loser uitgekryt op die klas se WhatsApp-groepie. Maar daar is ook ’n video wat iemand vir Lourens aanstuur wat wys wat gebeur het en dat dit Danie was wat die moeilikheid begin het.

Die ete by sy ma en stiefpa se huis is net nog ’n klap in sy rigting. Wanneer Lourens later die aand die pad see toe vat, word Suzette genadiglik wakker. “Ons hoef vir niemand te sê nie,” sê sy wanneer Lourens vra wat hulle vir sy pa gaan sê. Dit is duidelik dat die band tussen Suzette en Lourens al hoe sterker word en as daar iemand is by wie sy geheim veilig is, is dit sy.

Frans en Lorrie

Lorrie (Shana Mans). (Foto: Verskaf)

Hy sê dalk hy wil haar nie hê nie, maar dit is duidelik Frans (Geon Nel) wil nie hê ’n ander man moet om Lorrie (Shana Mans) kom draai nie. “Vat verantwoordelikheid vir jou woorde,” sê Shana vies vir Frans wanneer hulle mekaar Sondagoggend by die kerk sien. Later toe Frans vir Lourens op die bed help, sê Lourens vir hom hy moet haar nie verloor nie en hoewel hy nie Lorrie se naam noem nie, weet ons dit is van wie hy praat.

Andries maak oop

Andries (De Klerk Oelofse). (Foto: Verskaf)

Dit is eers nadat Fleur (Melissa Willering) vir Andries (De Klerk Oelofse) van haar eie lewe vertel dat hy effens oopmaak. Ons weet ook nou dat Katja ’n mediese student in Nederland was wat haar studie opgegee het om vrywilligerswerk vir die Rooikruis in Suid-Afrika te kom doen. Andries vertel ook vir Fleur van Maggie, maar kan haar nie vertel hoe sy ma oorlede is nie aangesien die seer nog te vlak lê. Later gee hy vir haar ’n bandjie met die woord “jakkals” op wat duidelik baie spesiaal vir hom is.

  • Nêrens, Noord-Kaap word elke Dinsdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AmY ·

Hierdie is ‘n uitstekende reeks. Die kinderakteurs is fantasties. SA hoef nie ‘n tree terug te staan vir die wêreld (veral die VSA) wat ons jong akteurs betref.
Uitstekende verhaal.

Moedeloos ·

My hart is stukkend vir klein Lourens. Hy moet so n groot las op sy skouers neem. So bly Lizzie was daar om hom te vind en te help ten spyte van haar eie emosies het sy kalm gebly. I LOVE YOU kan geen mens net sê en dit nie bedoel nie.

Potchmeisie ·

Dit was ‘n baie roerende episode. Een van ons beste tv-reekse nog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.