Episode 9 van ‘Nêrens, Noord-Kaap’: Die liefde kom van ver af

Deur Ilza Roggeband

Die reën val neer en die vloed styg op

Albert Pretorius as Ronnie. (Foto: Verskaf)

Wat is die rol wat water en/of reën in die Adendorffs se lewe speel? Frans (Geon Nel) het daarvan gedroom en dit lyk of Ronnie (Albert Pretorius) ’n angsaanval gekry het toe dit hard begin reën het. Het die wrak van die geel bakkie waarna Lourens (Arnold Swart) op die plaaswerf gekyk het iets daarmee te doen? Hoekom het die jonger Lourens (Gideon Lombard) net vir klein Frans (Thomi Swanepoel) en klein Andries (Johannes Jordaan) getroos en nie vir klein Ronnie (Lehan Swanepoel) nie?

  • Die stuk musiek wat Katja (Tinarie van Wyk Loots) aan die begin speel en later ook deur klein Lourens op die klavier in die plaashuis gespeel word, is dieselfde stuk wat ou Lourens (Frank Opperman) gereeld op die platespeler luister. Die titel is “Le Cygne (Die Swaan)” en dit kom uit Camille Saint-Saëns se Karnaval van die Diere.

Die plaaskerk

Die plaaskerk. (Foto: Verskaf)

Klein Lourens waag dit om na die kerk te gaan kyk waar Frans hom later kry. In ’n terugblik word dit bekend dat Katja die kerk gebou het sodat Maggie en die ander werkers ’n kerk nader aan hulle het waarheen hulle kan gaan. Maar hoekom staan die kerk leeg?

“Jy gaan fine wees”

Suzette (Daneel van der Walt) sit in die hospitaal by Willem. (Foto: Verskaf)

Suzette (Daneel van der Walt) gaan na die hospitaal en probeer Willem (Leo Geldenhuys) se ma, Zelma (Leanna Dreyer), oortuig om vir Lourens te bel om te sê die ongeluk was nie sy skuld nie. Sy oortuig wel vir Zelma om huis toe te gaan en sê sy sal by Willem sit.

“Jy gaan wakker word en fine wees,” sê sy vir Willem wat nog in ’n koma is. Intussen is klein Lourens hartseer om verskeie redes: bekommernis oor Willem, die feit dat hy nie sy pa kan troos nie en dan stuur sy ma nog foto’s van hulle eilandvakansie om die sout verder in die wonde te vryf.

Grond

Andries (De Klerk Oelofse) word amper gevang met sy blikke vol grond. (Foto: Verskaf)

Andries (De Klerk Oelofse) word amper gevang met sy blikke grond, maar vertel ’n noodleuen dat dit die as van sy familie is. Daarna bel hy huis toe, maar praat net met Frans. Dit begin klink of Andries dalk op pad huis toe is, maar waar wil hy nog gaan voor hy die laaste rit aanpak?

Grond kom ook ter sprake wanneer Chrissie (Bianca Flanders) vir Lourens (Frank Opperman) sê sy kan ’n kontrak opstel om die grond wat hy vir Jan-Jan gegee het wettig te maak. Lourens vererg hom egter en sê niemand weet meer wie die baas van die plaas is nie.

Die liefde kom van ver af

Gaan die kaarte ooit reg val vir Lorrie (Shana Mans) en Frans (Geon Nel)? (Foto: Verskaf)

Frans en Lorrie (Shana Mans) se gevoel vir mekaar kom nie van gister nie. Sy bring vir hom ’n pasteitjie – pepper steak soos hy daarvan hou – toe sy plaas toe kom, spot hom goediglik oor die geskenke wat hy vir haar aangedra het toe hulle jonger was, en later onder die bome steek sy versigtig ’n hand uit om net aan hom te raak. Gaan die kaarte ooit reg vir dié twee val?

  • Nêrens, Noord-Kaap word elke Dinsdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.
  • Lees meer oor Shana Mans, wat die rol van veearts Lorrie Willemse vertolk, hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AmY ·

“Ek is nie meer kwaad vir Lourens nie. Ek wil net hê dat my kind moet wakker word.” Roerend.
Uitstekende reeks.

VannieBaai ·

Ek dink hiérdie storie gaan ‘n voorgeskrewe boek word vir skool. Dit is vir my so mooi hoe die storie ontleed word. Elke toneel het ‘n dieper betekenins. Welgedaan aan die skrywer/s. Dit is so lekker om weer na iets mooi uit te sien op KykNet, al is dit net 1 keer ‘n week.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.