Erica Wessels oor Ragel-Lee, medespelers en 40-wees

Erica Wessels. (Foto: ericuys.com via Instagram/Erica Wessels)

Erica Wessels. (Foto: ericuys.com via Instagram/Erica Wessels)

Erica Wessels, die bekende aktrise wat Dinsdagaande op die kassie te sien is as die boetebessie Ragel-Lee in Dwaalster, is op 40 baie gemakliker in haar vel as die karakter wat sy in dié omstrede kykNET-dramareeks vertolk.

Só vertel Wessels in ʼn onderhoud met Maroela Media. “Net soos Ragel-Lee is ook ek so ʼn bietjie vreemd, maar ek is sedert my 40ste verjaarsdag meer gemaklik in my eie vel, waar sy weer baie ongemaklik is. Ragel-Lee is ook meer sosiaal wanaangepas, maar ek kom agter dat ek ook deesdae, net soos sy, my al hoe meer aan mense onttrek en die stilte geniet.”

Ragel-Lee is die suster van Tinarie van Wyk Loots se karakter, die ondersoekende joernalis Annabel, wat in ʼn motorongeluk saam met haar ma haar oog verloor het. “Dit is vir haar moeilik om kwesbaarheid te wys. Haar hoogste waarde is die beskerming van haar geliefdes en die gemeenskap van Maanhaarsdrif. Sy doen eintlik net haar werk en is na aan haar familie,” vertel Wessels.

Sy vertel sy is mal oor dié karakter. “Dit is lekker om so ʼn vreemde persoon te speel wat so ver verwyder is van jouself. Toe ek genooi is vir ʼn oudisie vir die rol, het ek nie gedink ek gaan dit kry nie, want my keuses is nogal dapper. Ek dink egter Jaco Bouwer wat die regie behartig het, het met sy teateragtergrond gehou van dapper keuses, solank dit geanker is in egtheid.”

Erica vertolk die rol van Ragel-Lee, die boetebessie in 'Dwaalster'. (Foto: Verskaf)

Erica vertolk die rol van Ragel-Lee, die boetebessie in ‘Dwaalster’. (Foto: Verskaf)

Die beeldskone aktrise vertel sy het daarvan gehou dat Ragel-Lee nié opgetof is nie. “Sy het geen grimering gedra nie, en haar vel is effe sonbeskadig en pigmentasierig. Dan is daar natuurlik daai verskriklike zef haarstyl met die knippie soos ons in die tagtigs gedra het en die aaklige sonbril,” skerts sy.

“Ek het vir haar ʼn baie slegte postuur gegee, amper asof sy haar vroulikheid probeer wegsteek. Sy het ook die snye om haar mond en aan die kant van haar gesig. Ek hou daarvan om ʼn transformasie te ondergaan, want dit is vir my lekker om verskillende mense op te maak en ek is mal oor die idee dat baie mense my nie dadelik herken het nie.”

Sy vertel dit was ʼn groot uitdaging om soveel tonele agter ʼn sonbril te doen. “As akteur is jou oë en gesigsuitdrukkings deel van jou gereedskap. Dit was moeilik om konstant die gevoel te hê dat ek nie kan deurbreek nie. Ek moes dus Ragel-Lee se emosies verklap deur my mond en sekere mannerismes te gebruik en ek moes haar ongemak in haar postuur aandui.”

Buiten die sonbril, was die boetebessie-uniform in die hitte van Calvinia, waar die meeste tonele van Dwaalster geskiet is, ook uiters ongemaklik. “Die broek wat ek dra, is ʼn egte konstabeluniform, en dit is stekerig en krap jou. Ek het later vir die kostuumdepartement gevra of ek sykouse onder my broek kon dra, maar dit het weer bygedra tot die hitte.”

Gesoute akteurs soos Neels van Jaarsveld, Albert Maritz, Terrence Bridgett en Joanie Combrink is ook deel van die Dwaalster-rolverdeling en vir Wessels het dit soms op die stel gevoel soos ʼn reünie van kreatiewe siele.

Erica in 'n toneel uit 'Dwaalster'. (Foto: Verskaf)

Erica in ‘n toneel uit ‘Dwaalster’. (Foto: Verskaf)

“Ek het al teenoor soveel van my medespelers in Dwaalster in teaterstukke en ander reekse gespeel. Ek en Nicola Hanekom, wat hoofsaaklik die draaiboek geskryf en die storie geskep het, het ook al saam gespeel in Smag en Vloeksteen en ken mekaar al jare. Dit was ʼn wonderlike ervaring om weer saam met hierdie mense te kon werk, en omdat ons mekaar so goed ken, was daar geen ego’s op die stel nie.”

Wessels sê sy is self mal oor die reeks, hoewel dit baie uiteenlopende kommentaar van kykers ontlok. “Ek het al agtergekom dat mense ongemaklik raak met dinge wat hulle nie verstaan nie of wat ʼn bietjie anders is as dit waaraan hulle gewoond is. Die reeks spreek tot die absurde en eksentrieke. As jy nie daarvan hou nie, is dit eenvoudig – skakel oor na ʼn ander kanaal en moet dit nie kyk nie. Jy hoef dit nie te kritiseer nie.

Erica in 'n toneel uit 'Dwaalster'. (Foto: Verskaf)

Erica in ‘n toneel uit ‘Dwaalster’. (Foto: Verskaf)

“Daar is baie mense, wat meer kreatief en oop is vir die ongewone, wat baie opgewonde is oor die reeks. Hulle sê dit is heerlik om na iets te kyk wat hulle ʼn bietjie uitdaag en eienaardig is.”

Sy verklap dat sy in 2014 die besluit geneem het om nie meer teaterwerk te doen nie, maar dat sy steeds ʼn groot liefde vir die kamera het en binnekort in ʼn Engelse rolprent, I Am All Girls, geregisseer deur Donovan Marsh, verskyn. Marsh was verantwoordelik vir flieks soos Spud, Avenged en die internasionale rolprent Hunter Killer, met Gary Oldman en Gerard Butler.

“Dit was ʼn ongelooflik spesiale projek met ʼn plaaslike rolverdeling, maar met groot name in die internasionale rolprentbedryf wat deel gevorm het van die produksie,” sê sy oor dié fliek wat nog in post-produksiefase is.

“Op die oomblik is ek net rustig. Ek was verlede jaar verskriklik besig. Dit is mos maar deel van die vryskutlewe. Dit is ʼn kuns om te weet wat om te doen met jou tyd wanneer jy nie werk nie,” lag sy.

Erica en haar man, Willem, tussen die blomme by die Weskus Nasionale Park. (Foto: Instagram/Erica Wessels)

Erica en haar man, Willem, tussen die blomme by die Weskus Nasionale Park. (Foto: Instagram/Erica Wessels)

Wanneer sy nie werk nie, geniet sy dit om te reis en staptoere te onderneem saam met haar man, Willem Boshoff. “Ek het ʼn klein obsessie daarmee. Ek het nie ʼn gunsteling nie – gunstelinge maak nie sin in my kop nie. Elke plek, stad en ervaring is soos wat dit moet wees, waar die elemente en plant- en dierelewe verskil. Ek hou daarvan om my kop skoon te kry.”

Sy voeg by hoe ouer sy raak, hoe meer geniet sy diere en die natuur. “In my twintigs het ek meer van mense gehou, maar dit is asof hulle my gaandeweg meer teleurstel. Ek hou van wegbreek.”

Hoewel 40 nie soos ʼn groot mylpaal voel nie, het sy tog bestekopname van haar lewe geneem ʼn paar maande voor haar 40ste verjaarsdag in Augustus verlede jaar.

“Jy begin terugkyk op jou lewe en wonder wat jy die afgelope 40 jaar gedoen het wat mooi en belangrik is en wel saak maak. Dit is nogal ʼn moeilike tyd, maar daarna het ek gevoel: Hier is ék. Die ouderdom is nie noodwendig goed vir ʼn mens se ego in terme van dinge wat begin hang en lyne wat begin vorm nie, maar jy moet dit omarm en met grasie die ouderdom binnestap.”

Dwaalster is elke Dinsdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

My mening ·

Ons lief “Dwaalster”! Dis bietjie anders as die gewone stories en daar is mos meer op ons aarde as wat ons van weet of verstaan!

Gideon ·

Erica Wessels hoe wens ek jy en jou man kon op my pad gekruis het!!! Ek sou nie vriende wou wees omdat ek belangrik wou wees nie, maar omdat ek ook soms net wil wegkruip van mense en myself wees! Wees net versigtig dat jy nie ‘n ongeslypte diamant miskyk nie, soos wat sommige mense nie kyk en die dwaalster raaksien nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.