Erns Grundling verken nóg ’n pelgrimstog

Erns Grundling. (Foto: verskaf)

Kykers kan hul vere begin regskud vir ’n opwindende nuwe seisoen van die TV-stapprogram Elders wat vanaand (4 Julie) afskop, en dít boonop met ’n staptog wat op plaaslike bodem plaasgevind het.

Erns Grundling, die aanbieder van die program, het die Klein-Karoo, Langkloof en Tuinroete platgestap in die vyfde seisoen van dié gewilde program en beskryf dit as nóg ’n pelgrimstog.

Hy vergelyk dié staptog, wat van Uniondale tot Mosselbaai strek en 270 km beslaan, met dié een wat hy in die derde seisoen van die program afgelê het toe hy van Kaapstad tot by Kaap Agulhas gestap het.

“Kykers kan uitsien na ’n reeks waarin daar baie gestap word, roosterkoek geëet word en gelag word. Dit is vol ontmoetings, staaltjies en ervarings saam met mense in ’n deel van die land wat nog steeds vir my voel soos ’n onontdekte juweel,” het Grundling opgewonde aan Maroela Media vertel.

Dit is vir Grundling kosbaar dat hy sedert die reeks se afskop in 2017 talle vriende gemaak het. Van dié vriende kuier weer saam met hom in hierdie splinternuwe seisoen van die reeks.

Een van die gaste wat weer saam met Grundling ’n paar stapskoene aantrek, is Amanda de Klerk, ’n vriendin wat hy reeds tydens die eerste seisoen op sy staptog in Spanje ontmoet het.

“Dit is ’n wonderlike voorreg om so te kan reis, so ver te kan stap en in die proses mense te ontmoet wat vir lank nadat die reeks uitgesaai is nog so ’n spesiale rol in jou lewe en jou hart het.”

Vir diegene wat graag só ’n staptog wil aandurf, maar vir wie die uitdagende aard daarvan soos ’n vreesaanjaende berg voor hulle lê, het Grundling raad van aanmoediging wat hy graag deel.

Hy verduidelik dat die vrees te wagte is, maar dis belangrik om dit met klein treetjies aan te pak.

“As ek die heeltyd moes dink aan die 270 km wat ek moes stap, sou dit oorweldigend geraak het.”

Die gereedheid vir ’n pelgrimstog lê vir Grundling in die voorbereiding daarvoor. Hy stel voor dat voornemende stappers hul reis begin met ’n stappie om die blok.

Dít kan dan verder geneem word deur aan ’n Park Run deel te neem waartydens daar vyf kilometer gestap word. Hy verduidelik dat wanneer daar met gemak tussen 15 en 20 km gestap kan word, ’n langer pelgrimstog waarskynlik meer vlot en met minder beserings sal verloop.

Dié voorbereiding sal ook verseker dat die stapper die pelgrimstog met meer bewustheid aanpak, aangesien daar meer op die psigiese en emosionele as die fisieke reis gefokus kan word.

“Ná so ’n pelgrimstog het mense dikwels ’n gevoel van bevrediging. Hulle het iets bereik.”

Hy beskryf stap as ’n gogga wat maklik byt en diegene wat dit aanpak hou gewoonlik nie maklik op met stap nie.

Dit is ook hoekom dié kranige stapper maklik nuwe staproetes en uitdagings aandurf, of dit nou met ’n kamera is of nie. Grundling geniet ook Suid-Afrikaanse roetes terdeë en verduidelik dat dit nie teen oorsese roetes afsteek nie.

“Die pelgrimstog van hoop gaan deur van die oudste kerkies in daardie omgewing. In daardie opsig stem dit ooreen met die Camino in Spanje, aangesien jy tydens daardie staptog ook by verskeie klein kerkies uitkom.”

Die gasvryheid wat Grundling op sy jongste tog teëgekom het, beskryf hy as iets besonders.

“Só ’n pelgrimstog gee vir jou die geleentheid om ʼn bietjie tot verhaal te kom. Dit bied jou ’n blaaskans in jou roetine, om weg te kom van al die eise wat die wêreld en tegnologie vir jou stel. Wanneer jy lank en ver stap, is dit terapeuties en helend. Jy kom terug met ander en nuwe insigte; dan sien jy weer kans vir die dolle gejaag.”

  • Elders word van Maandag 4 Julie weekliks om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokerboom ·

Met sponsors kan jy alles doen sonder om te werk. Die man in straat moet egter werk vir oorlewing

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.