Erns verken Namibië in nuwe seisoen van ‘Elders’

Erns Grundling verken Namibië. (Foto: Verskaf)

Erns Grundling is terug op die kassie met ʼn nuwe seisoen van Elders, en hierdie keer verken dié gesoute skrywer, joernalis en reisiger die natuurskoon van Namibië.

Dieselfde kameraspan van Bonanza Films, wat verlede jaar saam met hom die Pelgrimstog van hoop in die Wes-Kaap aangepak het, het saam met hom na Namibië gereis.

Frankie Opperman, regisseur en medevervaardiger, Jaen Kleynhans, kameraman en redigeerder, Jean de Villiers, kameraman, en Bertus Mostert, klankman, het saam met Grundling die Suid-Afrikaanse buurland aangedurf.

Dit was vir die span van Elders: Namibië belangrik om op die natuurskoon te fokus deur die landskappe met wye kamera- en hommeltuigskote vas te vang.

Hoewel die skietproses van die program veeleisend was, vertel Grundling hy kon maklik die pas volhou aangesien hy dié keer fikser was.

“Ek het tydens die inperking dit reggekry om gewig te verloor en fiks te raak. Dit was op ʼn manier my behoud, anders sou ek heeltemal van my verstand af geraak het.”

Hy onthou hoe hy destyds met die verfilming van Elders: Japan kortasem geraak het met die veeleisende afstande tussen die magdom geboue in Tokio en die berge en dale van berg Foedji.

“Dit help dus nou om so bietjie fikser te wees, aangesien ons ook baie gestap het in Namibië.”

Hy vertel hy was verras deur die kykersgetalle van die vorige seisoen van Elders, wat plaaslik geskiet is.

“Ek het gedink mense wil net eksotiese plekke of plekke wat ver weg is sien – ek sal self nog graag ʼn reeks in Patagonië of China wil skiet – maar toe besef ek mense wil ook plekke sien wat aan hulle bekend is of wat hulle na aan die hart lê.”

Hulle het besluit om te fokus op die klassieke toeristebestemmings waarvoor Namibië bekend is. “Natuurlik het die land ook wonderlike staproetes en dit is uiteraard deel van Elders se DNS.”

Erns Grundling en Boesman Davids. (Foto: Verskaf)

Volgens Grundling was een van die hoogtepunte om weer kennis te maak met Boesman Davids, ʼn legendariese kaalvoetgids by Sossusvlei. Hulle kuier saam in ʼn episode getiteld Die rykste man in die woestyn.

“Boesman het in die laat-negentigs lewensversekering verkoop in Windhoek, dag in en dag uit, maar het later besef hy jaag net ander mense se geld na. Hy het op ʼn dag besluit om alles wat hy het te verkoop en na Sossusvlei te trek waar hy langer as ʼn jaar onder ʼn boom gebly het.

“Hy is heeltemal kaalvoet en het ʼn baie goeie toergids geraak by Sossusvlei en het sy eie sakeonderneming, Sossus on foot, begin. Hy het ook later ʼn Japanse toeris hier ontmoet en hulle het verlief geraak en vir mekaar briewe geskryf. Toe hy weer sien, kom Yuri terug van Japan en bly vir ʼn rukkie saam met hom onder die boom.

“Boesman spog gedurig met sy rykdom, maar die belangrikste ding is dat hy nie sy rykdom aan geld en materiële dinge meet nie. Hy meet sy rykdom aan sy liefde en konneksie met die woestyn en die feit dat hy vry is.”

Grundling stap ook die Tok Tokkie‑roete saam met Sebastiaan Kizumba, ʼn puik gids by die NamibRand-natuurreservaat.

“Ons het teen sonsondergang gestap op die rooi duine op die rand van die Namib-woestyn en dit het skielik gelyk asof ons in hierdie gloeiende Pierneef-skildery stap en hier is ek saam met hierdie ongelooflike mens wat so lief is vir die natuur.”

Grundling het ook ʼn nuwe Live the Journey-staptog, die Namib100, wat 100 km in die Namib-woestyn beslaan en sowat 50 km suid van Walvisbaai afskop, saam met ʼn groep van 15 ander mense aangedurf. Dié ervaring was nie sonder sy uitdagings nie, sê hy.

Erns Grundling, aanbieder van ‘Elders: Namibië’ saam met dr. Philip Stander. (Foto: Verskaf)

“Dit is ʼn ongelooflike ervaring om so te sê stoksielalleen in die woestyn langs die kus te stap, maar ons het die slegte geluk van die berugte Oosweer gehad. Dit gebeur so af en toe vir tot vyf dae lank, waar dit verskriklik warm is en die wind baie sterk waai. Dit het met tye gevoel of dit eerder ʼn Bear Grylls-episode is as Elders, maar ten spyte daarvan het die stappers ʼn gevoel van kameraderie beleef.”

Hy het ook die geleentheid gehad om saam met dr. Philip Stander, die bekende leeunavorser, te kuier saam met wie hy in die Hoanib-rivierloop na ʼn woestynleeu gesoek – en gevind – het.

“Ons het ʼn tydperk van twee ure gehad om die leeu te vind en ons kon daarin slaag. Dit was beslis ʼn hoogtepunt.”

Grundling vertel hy is “bevoorreg” dat hy al voorheen die geleentheid gehad het om na Namibië te reis, hoofsaaklik toe hy as reisjoernalis vir die Weg-tydskrif gewerk het.

“Van my eerste besoek aan Namibië het dit my opgeval hoe gasvry die mense is. Van die Afrikaanse boere tot Duitsers wat ʼn plaas het tot ʼn Herero-persoon. Twee goed is spesiaal aan Namibië: Almal praat Afrikaans, wat bydra tot die geselligheid, en natuurlik ook die gasvryheid.

“Dit is so ʼn groot land met so min mense en ek dink as jy so afgesonder leef, is jy op ʼn manier meer afhanklik van mekaar. Daar is meer van ʼn konneksie. Jy kan in Outjo wees naby die Etosha-pan, en dan gesels jy daar met iemand en hy ken omtrent almal wat in die suide van die land bly, wat ʼn duisend kilometer ver weg is.

“Dit maak dat ʼn mens net meer en meer soontoe wil gaan en kuier. Selfs dalk woon en werk, wie weet,” lag hy.

Elders: Namibië is Woensdae om 20:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Ek het die eerste episode gekyk, maar sal nie die res kyk nie. Dit was/is eintlik ‘n “infomercial” waar Erns heeltyd tussendeur verskeie produkte adverteer, baie irreterend. Ek kyk eerder na Noraly Schoenmaker se Itchy Boots op Youtube, waar sy deur Namibia ry op ‘n motorfiets (Seisoen 5). Sy “post” tans elke tweede tot derde dag ‘n video, ongelooflike fotografie!

Erns ·

Hallo Francois, gun my die geleentheid om te verduidelik: die reeks se begroting is afhanklik van borge, ons kry nie elders (verskoon die woordspeling) fondse nie. Soos met byna al die ander leefstylprogramme op kykNET kry die borge ‘n vooraf bepaalde “incidental” blootstelling in die program. Ek wil verskil van jou oor die “heeltyd” en “infomercial” waarna jy verwys. Die episodes is 23 minute lank, en die borge se blootstelling wissel tussen 10 en 30 sekondes, versprei deur die episode. Ons probeer so veel as moontlik om hierdie blootstelling saam met die inhoud te vloei. Ons is baie dankbaar en trots op ons hoë gehalte borge se lojale ondersteuning. Dankie vir die opmerking oor Itchy Boots, ek het gaan kyk en die aanbieder is super talentvol en suksesvol. Sy kon duidelik daarin slaag om ‘n groot ondersteuningsbasis op YouTube te bou, wat sekerlik ook help met haar inkomste. Ek dink ‘n mens gaan meer hiervan sien in die toekoms. Lekker dag!

Rian ·

Ek weier ook om verder te kyk, en ek weier ook om enige produk wat geadverteer word binne in programtyd aan te koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.