Familie, deelnemers gebroke ná ‘Plaasjapie’-deelnemer sterf

Suzette van Walt op ‘Plaasjapie’. (Foto: Verskaf)

Boodskappe van medelye stroom in nadat Suzette van der Walt (56), ʼn deelnemer uit die eerste seisoen van die kykNET-werklikheidreeks Plaasjapie die afgelope naweek oorlede is.

Chantall Victor, Suzette se dogter, het die nuus oor haar ma se dood Sondag in ʼn plasing op ʼn Plaasjapie-aanhangersblad op Facebook gedeel.

“Ons kosbaarste mamma is gisteraand oorlede. Bid asseblief vir ons familie. Ons is stukkend,” lui haar inskrywing.

Die presiese oorsaak van haar dood is nog nie amptelik bekend nie, maar sy het na bewering in ʼn motorongeluk gesterf.

Nuus oor die dood van Suzette, ʼn ma van vier en ouma van nege, het voormalige deelnemers, kykers en ook die Plaasjapie-produksiespan geskok.

“Suzette was baie geliefd onder haar mededeelnemers, die produksiespan en kykers. Haar deelname aan Plaasjapie was vir haar ’n verrykende ervaring, terwyl Suzette se opregtheid en sagte persoonlikheid ’n blywende indruk op almal gelaat het.

“Ons dink aan Suzette se familie en geliefdes in hierdie tyd van verlies,” het Wilmer Müller, woordvoerder van kykNET vir Plaasjapie, aan Maroela Media gesê.

Suzette was in die eerste reek van ‘Plaasjapie’ te sien. (Foto: Verskaf)

Dié reeks se eerste wenner en een van Suzette se Noubees-spanmaats, Dian Louw, was onder die eerstes om op die nuus te reageer. Dian sê dat Suzette se dood hul hele Plaasjapie-groep geruk het.

“’n Klompie van ons het skaars ʼn maand terug die eerste episode van die tweede reeks saam by ʼn kykerspartytjie geniet. Ek, Michelle, Jurie en Suzette het nog saam eenkant gesit, uit die warboel omdat my en my vrou se babatjie saam met ons was,” vertel Dian.

“Dit voel so onwerklik. ʼn Mens besef opnuut hoe kosbaar tyd is. Sy’s nog bitter jonk; so ʼn skielike dood vang ʼn mens onkant.”

Dian vertel dat Suzette ʼn moederlike rol onder spanmaats ingeneem het tydens hul deelname aan die program.

“Sy’t meer as haar kant op die plaas gebring. Sy het ons huisie skoon gehou en huislik probeer maak. Sy het almal onder haar vlerk geneem. Bean het selfs na haar as ‘mamma Suzette’ verwys.”

Volgens Dian dien voormalige deelnemers se medelye as bewyse van die unieke ervaring wat hul saam as groep op dié program beleef het.

“Nie eens my vrou kan heeltemal verstaan hoe uniek daai ervaring was nie, net ons groepie het 100% begrip vir dit waardeur ons saam is. Ek dink dit is hoekom dit ons almal nou so raak.”

Plaasjapie-regisseur Nina Swart, asook seisoen een se Leon-Nene Rabe en Gerda van Zyl, en seisoen twee se Etienne de Villiers en Liezle Wiese, het op Chantall se plasing gereageer.

‘Sy was ʼn formidabele vrou – sterk, gedetermineerd en eerlik. Maar sy het ook ʼn wonderlike sin vir humor gehad wat telkemale die lang, stowwerige dae vir almal rondom haar vergemaklik het,” lui Nina se inskrywing.

“Haar toewyding aan en liefde vir haar familie was moontlik die eienskap van haar wat ek die meeste waardeer het. Sy het haar kinders áltyd eerste gestel en was lief vir hulle met haar hele hart.

“Ek, en die span wat die reeks vervaardig het, is verpletter deur die nuus. Ons dink met innige meegevoel aan haar familie. Suzette sal vir ons almal ʼn blywende inspirasie wees, en ons sal haar nie vergeet nie.”

Suzette het kykers in 2022 verbaas nadat sy halfpad deur die reeks self besluit het om haar tas te pak en die plaas te verlaat. Die Vrystater het geglo dat haar ouderdom moontlik teen haar in dié kompetisie begin tel het, maar het destyds aan Maroela Media vertel dat haar kinders nietemin trots was om hul ma op die kassie te sien.

“As ʼn mens 50 tref, word jy skielik deur sommiges as ʼn ‘bejaarde’ gesien, en ek het besluit om aan Plaasjapie deel te neem juis om te wys ʼn mens kan steeds werk en dinge bereik, ongeag jou ouderdom,” het sy destyds gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.