Feestyd-musiekgenot vir die hele gesin op kykNET

Jannie du Toit.

Jannie du Toit.

Die jaar is op die hond se stert en die kykNET-kanale vang vanjaar die gees van die Kerstyd vas met ʼn paar spesiale uitsendings gedurende die feestyd.

Die feesmaand skop af met ʼn besonderse opname van Afrikaanse musieklegende Jannie du Toit se musiekproduksie Bonjour Monsieur Brel. Du Toit sing op 1 Desember om 10:30 op kykNET en kykNET NOU! Jacques Brel se liedjies in Frans, Afrikaans, Engels en Nederlands. Hy word begelei deur Susan Mouton op tjello en Chanie Jonker op klavier en akkordeon.

Du Toit is ook op 29 Desember om 10:30 op kykNET en kykNET NOU! te sien in die musiekproduksie Kiekies: Lucas se liedjies, waarin hy saam met die sanger en musikant Thean Kotzé hulde bring aan Du Toit se ontslape vriend en liedjieskrywer, Lucas Maree. Hulle herontdek Maree se verbeeldingryke uitkyk op die lewe en laat die gehoor met persoonlike staaltjies iets beleef van sy uitsonderlike menslikheid en kreatiewe gees.

Albei dié produksies is tydens ʼn spesiale geleentheid by die Atterbury-teater in Pretoria geskiet. Du Toit is in Mei vanjaar deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vereer vir sy 50 jaar in die Afrikaanse musiekbedryf.

Die Kaapse barokorkes Camerata Tinta Barocca speel op 8 Desember om 11:30 op kykNET en kykNET NOU! in ʼn program van gewilde barokwerke op outentieke 18de eeuse instrumente.

Op 15 Desember om 10:30 op kykNET en kykNET NOU! saai Ouverture: Messias ʼn opwindende opname van die a capella-vertolking van Händel se Messias wat by Aardklop 2010 in die Sanlam Ouditorium opgeneem is, uit.

Die soliste is Hanli Stapela (sopraan), Minette du Toit-Pearce (mezzo-alt), Siyabonga Maqungo (tenoor) en Rouel Beukes (bas). Die gebruiklike orkes word vervang met ʼn vokale ensemble van Anneke Visagie (sopraan), Mariette Labuschagne (mezzo), Heidi Edeling (alt), Fanie Fouche (tenoor) en Roelof Colyn (bas), en die enigste musiekinstrumente in die uitvoering is die clavinola (Charl du Plessis) en tjello (Susan Mouton). Die PUK-koor met ad hoc‑lede en die Nasionale Koorakademie is onder leiding van prof. Awie van Wyk, en die musiekregisseur is Janine Neethling.

André Rieu.

André Rieu.

André Rieu: Love in Maastricht word op 21 Desember om 20:00 op kykNET en op 24 Desember om 20:00 op kykNET NOU! uitgesaai. Maak gereed vir ʼn konsert wat jou sal meevoer, met gewilde arias, soos “Nessun Dorma”, sowel as treffers, soos “Can’t Help Falling In Love” en “You Raise Me Up”.

Op 24 Desember om 21:00 op kykNET en 25 Desember 20:00 op kykNET NOU! vertoon André Rieu: Christmas down under: Live from Sydney. Sluit by Rieu aan vir ʼn onvergeetlike aand van musiek en dans, met die wêreldklastenore, The Platin Tenors, wat saam hom optree. Dié opvoering is opgeneem by die Sydney Town Hall.

Christmas in July is op 22 Desember om 10:30 op kykNET en kykNET NOU! Vier Kersfees saam met internasionale balletsterre soos Adiarys Almeida en Taras Domitro en word deur ikoniese tonele na ʼn pragtige Kersfees weggevoer.

Op Kersdag word die Groote Kerk: Kersuitsending, ʼn diens met kersliedere vir die hele gesin om Kersfees saam te vier, om 08:30 op kykNET & kie uitgesaai. Met die Filharmoniese Koor van Kaapstad, die Stadskoor Tygerberg en die Groote Kerk Kamerkoor.

Gaan die nuwe jaar binne saam met kunstenaars soos Theuns Jordaan, Juanita du Plessis, Elizma Theron, Brendan Peyper, Robbie Wessels, Elandré en Refentse wanneer Die Krone 6-konsert op 31 Desember om 21:00 op kykNET uitgesaai word.

Christmas in July.

Christmas in July.

Krone is die grootste saamsingkonsert in Suid-Afrika, waar die gehoor die kans kry om die treffers van ons tyd te “bekroon”, terwyl dit deur van Suid-Afrika se bekendste kunstenaars opgevoer word. Hierdie byeenkoms is gevul met ononderbroke musiek van begin tot einde, waar oud en jonk vermaak word met al die treffers van ons tyd!

Kykers wat eerder lus is om deur liedjieboer Anton Goosen vermaak te word, kan op 31 Desember om 21:30 op kykNET & kie inskakel vir die uitsending van die Soweto String Quartet, Anton Goosen & vriende.

Die wêreldbekende Soweto String Quartet en Goosen het onderskeidelik diep spore in die Suid-Afrikaanse musiekwêreld getrap. Die legendariese sangeres, Sonja Herholdt, wat ʼn lang musiekpad saam met die liedjieboer stap, die veelbekroonde sangeres en televisie-aanbieder Lynelle Kenned, asook die talentvolle rymkletser Early B kan ook gesien word in hierdie geskiedkundige optrede.

Skakel in op DStv-kanaal 144 vir kykNET, 145 vir kykNET & kie en 146 vir kykNET NOU!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.