Fiëstas vereer vanjaar drie veterane

Argieffoto.

Argieffoto.

Dit is amper weer tyd vir kykNET se Fiësta-toekennings. Die Fiëstas word toegeken aan die beste kunstenaars en produksies wat verlede jaar op Afrikaanse kunstefeeste landwyd gedebuteer het.

Boonop vereer die Fiëstas vanjaar drie veterane in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf: Lida Botha, Ronnie Samaai en Pieter Fourie word vereer vir hul uitsonderlike bydraes tot die vermaakbedryf.

Botha, wat bekend is vir rolle in Fiela se kind, Arende en Nommer, asseblief, word vereer vir haar bydrae tot toneel.

Botha is in 1953 in Namakwaland gebore. Sy het onderwys aan die Universiteit van Kaapstad asook drama by Babs Laker se akademie vir dramakuns studeer. Botha was ʼn non totdat sy op 35 haar man, die akteur Johan Botha, ontmoet het.

Sy het rolle vertolk in produksies soos Die Van Aardes van Grootoor, Info Scandals, Karnaval en My seuns. Later was sy ook in stukke soos Straties, Vrededorp, Faan se stasie en Ouma en Oupa sit op die stoep. Sy het in verskeie TV-reekse gespeel, onder meer Nommer, asseblief, Arende, Meester, Meeulanders, Manakwalanders, Orion, Vallei van sluiers en Donkerland.

Op die silwerdoek was sy te sien in rolprente soos Fiela se kind, Die storie van Klara Viljee, Invictus, Roepman, Hoofmeisie en Pad na jou hart.

Samaai ontvang die toekenning vir sy bydrae tot musiek. Hy is dekades al ’n onderwyser en mentor vir musikante en dien sedert 2002 op die direksie van die Kaapse Filharmoniese Orkes.

Hy het ’n BMus-graad aan Unisa behaal en ook lisensiate aan die Royal Schools of Music en Trinity College verwerf. Dit was juis toe hy met ʼn beurs van die British Council aan die Trinity College studeer het dat hy besluit het om sy talent in Suid-Afrika te kom terugploeg.

Hy het in 1996 ná meer as 40 jaar in die onderwys as vise-rektor van die Bellville Onderwyskollege afgetree. Samaai was op die keuringspaneel vir die Kaapse Filharmoniese Orkes en het ’n groot rol gespeel in die totstandkoming van die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes.

Hy is steeds ’n vioolonderwyser en is die projekleier van die Wes-Kaapse Redefine-gemeenskapsmusiekprojek wat musiekonderig aan meer as 100 kinders in Kuilsrivier en Khayelitsha bied.

Fourie word vereer vir sy bydrae tot woordkuns. Met dramas soos Faan se trein, Faan se stasie, Mooi Maria, Ek, Anna van Wyk en Die koggelaar op sy kerfstok is hy sonder twyfel een van Suid-Afrika se grootste dramaturge.

Fourie is in die Vrystaat gebore en het ná skool ʼn honneursgraad in Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Hy het in 1964 die rondreisende teatergeselskap Pieter Fourie Genootskap begin met werk wat hy self geskryf en geregisseer het.

In 1967 is hy aangestel as die artistieke hoof van Afrikaanse drama by Kruik en in 1983 het hy die inwonende dramaturg geword. Hy was in 1997 een van die stigters van die KKNK, maar het in 1999 bedank as hoof van die fees om weer op sy eie werk te fokus.

Fourie het in 2003 die Hertzogprys vir drama ontvang en in 2011 is ’n ere-doktorsgraad deur die Universiteit van die Vrystaat aan hom toegeken.

Die Fiësta-pryse word op 18 Februarie in die Staatsteater in Pretoria aan die wenners oorhandig. Die geleentheid word regstreeks om 20:00 op kykNET (Kanaal 144) uitgesaai.

Besoek kykNET se webwerf vir die volledige lys benoemdes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mien ·

Was Lida Botha nie in 1953 al in Matriek nie ? Sy is ‘n briljante aktrise en verdien hierdie toekenning. Word sy nie al 80 hierdie jaar nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.