Finale episode van ‘Nêrens, Noord-Kaap’ bring drade bymekaar

Ilse Klink as Maggie en De Klerk Oelofse as Andries. (Foto: Verskaf)

Deur Ilza Roggeband

ʼn Emosionele finale episode van Nêrens, Noord-Kaap het die reeks afgesluit en die los drade is byeengebring.

Lourens (Frank Opperman en Gideon Lombard) het nooit oor Katja (Tinarie van Wyk Loots) se dood gekom nie. Hy kon ook nooit ʼn sterk verhouding met sy seuns opbou nie. Frans (Geon Nel en Thommi Swanepoel) was die oudste en moes die swaarste las dra. Ronnie (Albert Pretorius en Lehan Swanepoel) is as’t ware deur Lourens gestraf omdat hy die oorsaak was dat sy die ongeluk gemaak het. Andries (De Klerk Oelofse en Johannes Jordaan) was die een wat die ligste van sy pa se nyd afgekom het, maar dit het dalk te doen met die feit dat hy 12 jaar lank nie op die plaas was nie.

Frans het gewillig ingegee en sy rol as oudste aanvaar, al het sy pa hom daarin geboelie. Wanneer hy uiteindelik knak terwyl hy sy toespraak op sy pa se partytjie maak, is dit die eerste keer dat sy pa én sy broers hoor hoe hy werklik voel. Gelukkig was Lorrie (Shana Mans) daar om te troos. Is dit die begin van ʼn lang en gelukkige verhouding?

Andries en sy pa, Lourens. (Foto: Verskaf)

Die skuldgevoel oor sy ma se dood ry Ronnie bloots en dit is waar al sy probleme gewortel is. Hy voel soos die swartskaap en hoewel sy ma vir hom op haar sterfbed gesê het die ongeluk is nie sy skuld nie, kon hy homself nog nooit vergewe het nie. Suzette (Daneel van der Walt) was tot dusver nog geduldig, maar is sy gewillig om hierdie wilde perd verder op te saal?

Dit is nou duidelik hoekom Andries die wêreld vol gereis het met die blikke vol grond wat hy oral bymekaargemaak het: Hy het sy ma se reis-kaartboek, die een wat die familie nooit gebruik het nie, gevolg en dit gedoen om te kyk of hy weer sy pa gelukkig kan sien. Maar Andries se voete jeuk steeds, selfs al het hy sy ma se reis voltooi.

Wanneer Maggie (Ilse Klink), die vrou wat hom seker die beste ken, hom groet voordat hy weer die pad vat, sê sy: “As jy jou vrede gekry het, en jy weer soos jouself voel, dan kom jy terug na ons toe, hoor?”. Gaan Andries vir Fleur (Melissa Willering) haal en terugbring Nêrens toe?

Andries en pa Lourens. (Foto: Verskaf)

Jan-Jan (Dean Balie) en Chrissie (Bianca Flanders) is duidelik deel van die Adendorff-familie en is daar wanneer almal weer aan Katja se kerk bou. Gaan hulle hul nuwe huis kry? En waarvoor gaan die kerk gebruik word? ʼn Troue, dalk ʼn doop?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Filistyn ·

Uitstekende reeks. Opvolg sal met ope arms ontvang word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.