Finaliste in ‘Die Kontrak’ aangewys

Bobby en Karlien van Jaarsveld (Foto: Verskaf)

Altesaam 24 hoopvolle sangers is dié week uit bykans 2 000 inskrywings as finaliste vir die Via-musiekprogram Die Kontrak aangewys.

Luidens ʼn verklaring van dié program se produksiespan moes Coleske Artists, die platemaatskappy wat uiteindelik ʼn platekontrak aan een wenner sal oorhandig, spook om die 24 mees indrukwekkende inskrywings van Facebook, Instagram, Twitter en die NetNuus-app kies.

Die onus rus nou op die mentors, die sangers Elvis Blue, Tarryn Lamb, Monique Steyn en Dewald Wasserfall, om elkeen twee finaliste uit dié 24 sangers te kies.

Die top-agt-finaliste, wat dan deur die loop van die reeks om die Coleske Artists-platekontrak van R1 miljoen gaan meeding, sal eers met die eerste episode van die musiekreeks bekend gemaak word.

Izelle Venter, VIA-kanaalhoof, sê die produksiespan is “stomgeslaan” oor die hoeveelheid inskrywings wat ontvang is. “Ons is selfs nog meer beïndruk deur die gehalte van die sangtalent daarbuite. Dit gaan beslis vir ons vier mentors ongelooflik moeilik wees om net agt finaliste te kies. Hier kom heerlike kykgenot!”

Arnold Coleske van Coleske Artists sê hy is “oorweldig” deur die diversiteit van talent wat in die inskrywings vorendag gekom het. “Dit was baie moeilik om by ʼn top-24 uit te kom, maar ons voel ons het afgekom op ʼn groep deelnemers wat uniek en uitsonderlik talentvol is. Ons sien met opwinding uit na ʼn strawwe kompetisie.”

Die Kontrak sal deur Bobby en Karlien van Jaarsveld aangebied word. Die agt finaliste sal week na week ook dopgehou word deur ʼn kennerpaneel wat uit die sangers Theuns Jordaan en Corlea Botha, asook Barry Pretorius, die regisseur van die Afrikaans is Groot-megakonserte, bestaan.

Die wenner van Die Kontrak word op 23 November 2018 by vanjaar se eerste Afrikaans is Groot-konsert aangekondig. Die program word vanaf 2 Oktober om 20:00 op VIA (DStv-kanaal147) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.