Flieks om te kies en te keur dié vakansie

Ballade vir ‘n enkeling (Foto: Facebook)

Kry die springmielies gereed en skakel die televisie aan: kykNET bring vanjaar vir ʼn derde agtereenvolgende jaar die fliekNET-kanaal na die kassie.

ʼn Groot verskeidenheid Afrikaanse flieks word vanaf 16 Desember op dié kanaal uitgesaai.

Tydens dié Desembervakansie gaan fliekNET op Maandae tydlose flieks uitsaai en op Dinsdae flieks wat jou tieners uit die moeilikheid sal hou. Woensdae sorg vir romanse en liefdesverhale, Donderdae vir flieks wat jou gaan laat nadink en Vrydae vir aksie, rillers en gruwelflieks.

fliekNET is op DStv kanaal 198.

Khumba – 16 Desember om 10:30
Khumba is ʼn jong sebra wat blameer word vir die skielike droogte wat die land getref het. Hy span kragte saam met twee ongewone reismaats om ʼn legendariese watergat op te spoor.

Lien se lankstaanskoene – 17 Desember om 18:40
Lien is die oudste kind in ʼn disfunksionele gesin wat oornag brandarm geword het. Lien moet self plan maak en inspring om brood op die tafel te sit.

Hollywood in my huis – 19 Desember om 19:50
Dit is matriekafskeid en Jana van Tonder is geïnspireer deur Charlize Theron se Oscar-uitrusting. Sy besluit om haar matriekafskeid in haar eie Hollywood-glansgeleentheid te omskep.

Vir die voëls – 20 Desember om 19:50
ʼn Korrelkop-, rabbedoe-meisie, wat daarvan oortuig is dat onafhanklikheid die enigste vorm van vryheid is, word op alle vlakke uitgedaag wanneer die seun wat haar kleintyd geterg het, weer sy opwagting in haar lewe maak.

Strikdas – 21 Desember om 16:20
Willemien se lewe verander handomkeer wanneer sy vir Vossie, die grootste “nerd” op kampus, huis toe neem om haar pa en eks-kêrel ʼn les te leer.

Sink – 21 Desember om 20:35
ʼn Mosambiekse huiswerker moet moeilike besluite neem nadat haar dogtertjie tragies sterf, terwyl haar een werkgewer toesig gehou het. Dinge word selfs verder gekompliseerd wanneer sy uitvind dat haar werkgewers hul eerste kind verwag.

Wolwedans in die skemer – 22 Desember om 19:50
ʼn Jong vrou aanvaar ʼn pos by die Hotel Njala. Op pad daarheen is sy in ʼn motorongeluk en verloor haar geheue. Sy word ingetrek by die lewe van die familie wat dié vreemde hotel bestuur.

Heidi – 23 Desember om 10:00
Beleef allerlei avonture saam met Heidi, haar oupa en Peter in die berge. Kyk ook hoe die nare Juffrou Rottenmeier haar lewe omkrap wanneer sy begin skool toe gaan.

Die windpomp – 24 Desember om 18:50
Henry beland as gevolg van omstandighede buite sy beheer by sy seniele, teruggetrokke oupa in ʼn aftree-oord. Hy kom gou agter dat daar geheime skuil en dat een van dié geheime hom die liefde van sy lewe kan kos.

Paljas – 25 Desember om 19:50
ʼn Spoorwegwerker en sy gesin bly op ʼn afgeleë dorpie in die Karoo. Hul eenvoudige dog moeilike lewe verander drasties wanneer die sirkus hul opwagting maak. Skielik kry hul bestaan ʼn magiese kwaliteit en word alles in hul lewe gelukkiger en duideliker.

Leading Lady – 27 Desember om 21:30
ʼn Engelse aktrise oorreed ʼn boer van Brandfort om haar te help voorberei vir ʼn uitdagende rol in ʼn Hollywood-rolprent – dié van ʼn Afrikaanse oorlogsheldin.

Noem my Skollie – 28 Desember om 22:15
ʼn Jong man beland in ʼn Kaapse tronk in die 1960’s. Hy gebruik sy talent as storie-verteller om homself teen die bendes in die tronk te beskerm.

Die spook van Uniondale – 29 Desember om 19:40
ʼn Jong sakeman se naweekplanne verander drasties wanneer sy voertuig meganiese probleme nét buite Uniondale ontwikkel. Terwyl hy wag dat sy motor herstel word, leer hy van die spook van Uniondale.

Nommer asseblief – 30 Desember om 22:00 
Die fliek handel oor die De Waals en hul kleurvolle familie, vriende en mededingers in en om ʼn dorpie in die Overberg.

Fiela se kind – 1 Januarie om 19:50
Fiela se Kind vertel die pragtige verhaal van ʼn bruin vrou se liefde vir haar wit optelkind. Fiela Komoetie en haar gesin word uitmekaar geskeur wanneer die landdros haar “hanskind” wil wegneem en in sy regte ouers se sorg wil terugplaas.

Jou Romeo – 2 Januarie om 20:30
Twee gedetermineerde drama-entoesiaste gaan uit hul pad uit om hul Shakespeare droomproduksie ʼn realiteit te maak; met ʼn paar onverwagse nagevolge.

Mooirivier – 3 Januarie om 19:50
Dié eerste ensemble-rolprent in Suid-Afrika volg die stories van agt paartjies, tussen die ouderdomme van 10 en 70, wat elk op hul eie avontuur van liefde gaan en uitvind wat die liefde nou eintlik beteken.

Ballade vir ʼn enkeling – 4 Januarie om 20:40
Nadat ʼn bekende Suid-Afrikaanse skrywer verdwyn, word ʼn joernalis deur ambisie gemotiveer om dié skrywer se geheimsinnige geskiedenis aan die lig te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.