Hans steek die Rubicon oor vertel die verhaal van Hans van Kraaienburg, ʼn hupse 90-jarige man wie se lewe omvergewerp word wanneer hy gedwing word om na die Huis Madeliefie-ouetehuis te trek.
Huis Madeliefie is verkramp en sy kamertjie is piepklein, en dan word Hans boonop gedwing om verskeie reëls en regulasies te gehoorsaam.
Met Hans in die omtrek kan jy egter net sports verwag en kort voor lank is daar ʼn ouetehuis-opstand, daggakoekies en ontkleedansers, alles as deel van Hans se “oudword op eie terme”.
Die regisseurspaar Corné en René van Rooyen, wat bekend is vir die flieks Hollywood in my huis en Vaselinetjie, asook die gewilde TV-reeks Alles Malan, het in Augustus die Silwerskermfees-toekenning vir beste regisseur huis toe geneem vir dié komedie.

Nicola Hanekom, Ivan Abrahams, Tobie Cronjé, Pierre van Pletzen en Diaan Lawrenson verskyn in “Hans steek die Rubicon oor”. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)
Die fliek is geskoei op die Afrikaanse skrywer Rudie van Rensburg se gelyknamige roman.
“Die storie wys hoe ‘oud word op eie terme’ gevier kan word en baie opwindend kan wees. Dit is ook ʼn groot voorreg om saam met van Suid-Afrika se grootste veteraan-akteurs te werk om werklik Rudie se boek tot lewe te bring.”
Die rolverdeling sluit akteurs in soos Pierre van Pletzen as Hans, Tobie Cronjé as Vasie, June van Merch as Baby, Sandra Prinsloo as Liesbet en Nicola Hanekom as die drakoniese Matrone. Diaan Lawrenson is Karla en die nuweling Juan-Pierre Moller is Esmuraldus.
Pierre het die Silwerskermfees-toekenning vir beste akteur in ʼn vollengte rolprent op vanjaar se fees gewen.
Hans steek die Rubicon oor is vanaf Vrydag 29 September in fliekteaters landwyd te sien.
Floris Groenewald, Maroela Media se eie fliekkenner, het na die fliek gaan kyk. Hier is wat hy te sê het:
Wen kaartjies vir dié fliek
Wil jy graag Hans steek die Rubicon oor gaan kyk, maar jou finansies is net te knap? Of is jy sommer net lus om Donderdagaand te gaan fliek? Wel, kykNET wil jou stiek vir ʼn fliek.
Klik op die skakel en beantwoord ʼn eenvoudig vraag, en kykNET kan vir jou en iemand van jou keuse kaartjies gee om dié skreeusnaakse fliek in Pretoria of Kaapstad te gaan kyk op 28 September om 17:30 vir 18:00 by NuMetro Woodlands of Ster-Kinekor Somerset-Wes.