Fliekvlooi Floris se fliekresensie: ‘Vlugtig’

Vlugtig, wat geskoei is op die kortfliek met dieselfde titel wat in 2017 op kykNET se Silwerskermfees bekendgestel is, is vanaf vandag (Vrydag) op DStv Box Office te sien.

Die rolprent is vervaardig deur Danie Bester van The Film Factory, met Marinus Gubitz as regisseur en Ernst van Wyk as draaiboekskrywer. Die rolverdeling sluit die akteurs Arno Greeff en Jane de Wet in. Van Wyk is ook in die rol van Andreas Vog te sien.

Simon Berg (Greeff) se droom van toneelspel is aan flarde. Al sy jeugambisies van die glanstapyt het nou plek gemaak vir vernederende rolle op ʼn kinderprogram, asook desperaatheid dat iemand hom in ʼn oudisie vir die talent wat hy het sal raaksien.

Sy geluk draai wanneer sy rolmodel-regisseur aan sy deur kom klop met ʼn ultimatum. Dis ʼn byna Messiaanse oomblik wanneer Andreas Vog aan Simon die rol van ʼn leeftyd bied in sy nuwe Rooikappie-toneelstuk as die houtkapper én die wolf.

Die enigste voorwaarde is dat Simon alles wat in sy lewe aangaan, prysgee en saam met Andreas in die motor klim om te gaan repeteer. Dit vat nie veel oortuiging nie en Simon durf die reis saam met Andreas aan. Wat Simon egter nie besef nie, is dat hy eintlik Rooikappie is wat in die pad val saam met die wolf en dié se duistere motiewe.

By Andreas se huisie in die woud aangekom, ontmoet Simon sy mede-akteur, Chantel (De Wet), ’n treffende jong aktrise wat al baie meer as hy in die vermaaklikheidsbedryf bereik het. Ten spyte van die aanvanklike intimidasie wat hy ervaar, raak hy vinnig gemaklik met haar. Sy is toeganklik, oop en opgewonde oor hom as mens.

Voordat hulle begin repeteer, moedig Andreas vir Simon aan om hout te kap, sodat hy gewoond kan raak aan die gevoel van die byl. Die sessies raak egter al hoe langer en meer uitmergelend soos die proses vorder. Dis ook nie lank nie voor Andreas tydens repetisies vir Simon met kritiek begin peper.

Dit raak duidelik dat Andreas besig is met meer as net method acting. Daar is iets anders aan die broei. Simon word tot die uiterste gedryf deur Andreas se onverbiddelike aanslae, maar wanneer Andreas sy fokus na Chantel toe skuif, breek die wolf in Simon uiteindelik los.

Kyk hier na Floris Groenewald se resensie van Vlugtig:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.