Fliekvlooi Floris se resensie: ‘Gaia’

Gabi, vertolk deur Monique Rockman, is ʼn natuurbewaarder op ʼn roetine-patrollie in ʼn wildernisgebied. (Foto verskaf)

“In die dieptes van die oerwoud is iets aan die groei. Iets ouer as die mensdom self en dalk belangriker ook. ’n Natuurbewaarder ontdek ʼn vreemde man en sy seun wat in die wildernis leef, en daarmee saam ’n geheim wat die wêreld gaan verander.”

Dit is die loksin van die ekologiese riller Gaia, en as jy daarvoor kans sien, sal dit ʼn rolprent wees wat jy nog nooit van te vore in Afrikaans beleef het nie.

Gabi, vertolk deur Monique Rockman, is ʼn natuurbewaarder wat op ʼn roetine-patrollie in ʼn wildernisgebied ʼn kluisenaarpa en -seun teëkom wat ʼn post-apokaliptiese leefstyl volg.

Hulle het skynbaar hul eie godsdiens en staan hiervolgens in ʼn geheimsinnige verhouding met die natuur. Vele aspekte van hul bestaan is verdag, maar wanneer hul skuiling een nag deur vreemde, onmenslike wesens aangeval word, besef Gabi dat daar ʼn veel groter bedreiging in hierdie ontluikende wildernis skuil.

Gaia gaan nie oor ʼn liefdevolle aardmoeder nie. Dit is ʼn ekologiese gruwelfantasie wat die mens se geskiedenis irrelevant maak.

Die akteurs van “Gaia” by die Silwerskermfees. (Foto: Maroela Media)

Volgens die regisseur, Jaco Bouwer, lê die kern van die fliek juis daarin dat Gaia, as gruwelfliek ʼn storie is wat as ʼn oorlewingsdrama kommentaar lewer op die politiek van ekologie – dié van die mensdom wat in staat is om die wêreld te omvorm op maniere wat voorheen onmoontlik was, en gelei word deur ’n generasie wat ten volle bereid is om sy eie nageslag op te offer.

“Gaia” (Foto verskaf)

Gaia het dus ’n portret van teologiese paranoia geword en in ’n sekere sin is dit ’n omgekeerde gruwelprent want die monster is nie buite nie maar reeds binne; ons is die monster. Iewers tussen fantasie en werklikheid word ons uitgespoeg om te besin oor hoeveel van hierdie karakters se monsteragtige visie van die natuur werklik is, en hoeveel ʼn psigotiese illusie is,” sê Bouwer.

Sedert Gaia in Maart verlede jaar op die hoog aangeskrewe South by South West-fees in die VSA gedebuteer het, het dié grensverskuiwende rolprent wêreldwyd lof en entoesiastiese resensies ontvang.

Gaia is op vanjaar se Silwerskermfees as die beste vollengte rolprent aangewys en het ook met die pryse vir die beste regisseur (Jaco Bouwer), beste grimering en haarstilering (Sulani Saayman), asook klankontwerp (Tim Pringle) en redigering (Leon Visser) weggestap. Dit het ook in Desember Variety en Forbes se lyste vir die tien beste rillers van 2021 gehaal.

Die riller is van Vrydag op DStv Box Office te sien.

Kyk hier na Floris Groenewald se resensie van Gaia:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.