Foto’s: Afrikaanse Taalmonument ’n wetenskapsfiksie-ster

‘n Skermgreep uit ‘n episode van ‘Doctor Who’ waarin die Taalmonument sy verskyning maak. (Foto: Facebook/The Village Guy)

Op ʼn koppie wat uitkyk oor die Paarl in die Wes-Kaap pryk die Afrikaanse Taalmonument wat in 1975 opgerig is ter herinnering aan die trotse dag toe Afrikaans tot amptelike taal verklaar is.

Nadat skermgrepe uit ʼn episode van die gewilde Britse wetenskapsfiksie-reeks Doctor Who vandeesweek op Facebook versprei is, laat dié monument nou alle Suid-Afrikaners se harte swel van trots.

Die foto’s is deur Myles Minnaar van The Village Guy geplaas. Dié plasing is reeds meer as 540 keer op Facebook gedeel. In die foto’s verskyn die monument as “The Gate” in die tweede episode van die 12de seisoen van dié BBC-reeks.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die Taalmonument, verskyn die monument gereeld in talle produksies. Hy sê dat die personeel in die agtergrond bly wanneer tonele verfilm word weens streng vertroulikheidsooreenkomste.

Die monument is ook te sien in die wetenskapsfiksie-rolprent Vagrant Queen en die wetenskapsfiksie-reeks The Watch. Al hierdie tonele is verlede jaar verfilm.

Jonas sê die blootstelling wat die monument só opdoen, is uiters waardevol. “Dit gee ons nie net groter blootstelling in die wêreld nie, maar is ook ʼn goeie finansiële inspuiting wat ons vir taal- en gemeenskapsprojekte aanwend.”

Hy voeg by dat die monument in 2018 en 2019 gewemel het van fotograwe wat van kos en klere tot motors en troufoto’s by die monument afgeneem het.

Die monument heropen amptelik op 1 Oktober nadat dit vroeër gesluit is weens die Covid-19-pandemie. Die monument is vanjaar 45 jaar oud.

Jonas skerts dat hy geen kennis dra van egte wetenskapsfiksie-wesens wat al besoek aan die monument afgelê het nie.

“Indien enige wesens wel binnekort via die Taalmonument ons planeet wil besoek, moet hulle tog onthou om hul maskers te dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ferryman ·

The Doctor was ook al orals in tyd ten ruimte. Een van my gunsteling reekse wat handel oor n tydreisiger.

OW ·

Ek kan nog goed onthou toe die destydse eerste minister adv John Vorster die Taalmonument ingehuldig het met sy toespraak.Op een stadium het hy gesê “En wie kan dit van ons wegvat” Vandag klink dit amper soos profetiese woorde.Afrikaans bly my taal en sal verseker voortleef.

SirDikDeDunnerin ·

Taalmonunent verskyn ook in die 3de “Starship Trooper – Maurader” film. Die ou dame lyk heel statig getooi in federasie baniere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.