Foto’s: Baftas in Londen uitgedeel

Lady Gaga op die rooitapyt tydens die Bafta-toekennings by die Royal Albert Hall in Londen, Brittanje. (Foto: Tolga Akmen/AFP)

Die wetenskapfiksie-rolprent Dune was die groot wenner van die aand op die 75ste jaarlikse Britse Akademie vir Film- en Televisiekuns- (Bafta-)toekenningsgeleentheid, wat Sondagaand by die Royal Albert Hall in Londen, Brittanje, aangebied is.

Dit was ʼn sterbelaaide geleentheid, met die room van die internasionale rolprentbedryf wat dit bygewoon het. Die Australiese aktrise Rebel Wilson was die seremoniemeester vir die aand.

Dune se tegniese spanne het vyf toekennings gewen, met die toekenning vir beste klankbaan wat deur die komponis Hans Zimmer ingeoes is.

Greig Fraser het die beeldjie vir beste kinematografie losgeslaan, terwyl Patrice Vermette en Zsuzsanna Sipos die toekenning vir beste stelontwerp gewen het.

Die spanne wat onderskeidelik vir Dune se klank en visuele effekte verantwoordelik was, het die pryse vir beste klank en beste spesiale visuele effekte ingeoes.

Jane Compion het die beeldjie vir beste regisseur vir The Power of the Dog gewen, terwyl dié fliek ook stof in die oë van die rolprente Belfast, Don’t Look Up, Dune en Licorice Pizza in die kategorie vir beste rolprent geskop het.

Belfast het die prys vir uitsonderlike Britse rolprent gewen en Encanto het die prys vir beste geanimeerde rolprent ingeoes.

Die Britse aktrise Joanna Scanlan het die Bafta-toekenning vir beste aktrise in ‘n hoofrol gewen vir ‘After Love’. (Foto: Ben Stansall/AFP)

Joanna Scanlan het die toekenning vir beste aktrise in ʼn hoofrol gewen vir After Love, terwyl Will Smith die toekenning vir beste akteur in ʼn hoofrol gewen het vir sy rol as Richard Williams, pa van die tennissterre Venus en Serena, in die rolprent King Richard. Smith was egter nie teenwoordig by die seremonie nie.

Ariana DeBose het die beeldjie vir beste aktrise in ʼn ondersteunende rol gewen vir Steven Spielberg se West Side Story, en die dowe akteur Troy Kotsur het die prys vir beste akteur in ʼn ondersteunende rol vir CODA gewen.

Die 007-lokettreffer No Time to Die het die prys vir beste redigering ingeoes, terwyl die aktrise Lashana Lynch, wat as MI6-agent Nomi in dié rolprent verskyn het, die Rising Star-toekenning – waarvoor lede van die publiek stem – huis toe gevat het.

Hier is ʼn volledige lys van vanjaar se Bafta-wenners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.