Foto’s: ‘Binnelanders’-bekendes skenk bloed

Cindy Swanepoel, oftewel dr. Annelize Roux, skenk vir die eerste keer bloed. (Foto: Cornél van Heerden)

Die akteurs van die kykNET-sepie Binnelanders red weekaande op die kassie die lewens van pasiënte van die fiktiewe Binneland Kliniek, maar in die werklike lewe skroom hulle ook nie om ʼn verskil in ander se lewens te maak nie.

Bekendes soos Cindy Swanepoel (dr. Annelize Roux), Germandt Geldenhuys (Louis Koster), Maude Sandham (suster Gaby), Gerald Steyn (dr. Uys Wagener), Je-Ani Swiegelaar (suster Naomi Koster), Melinda Viljoen (Tracy Smit) en Lindsey Abrahams (suster Chanel Samuels) het Vrydag die naalde van die Suid-Afrikaanse Bloeddiens (SANBS) by die Stark-ateljees in Johannesburg trotseer.

Volgens Ernst Swart, publisiteitsbestuurder vir Binnelanders, wou die span van die sepie met dié inisiatief wys hoe maklik dit is om bloed te skenk.

“Só maak ʼn mens ʼn verskil: Deur klein gewoontes aan te leer wat ʼn groter impak op die mense rondom ons het,” sê Swart.

Vir die aktrise Cindy Swanepoel was dit die eerste keer wat sy bloed geskenk het, terwyl Germandt Geldenhuys ʼn meer ervare bloedskenker is.

“Germandt het al voorheen die ervaring gehad waar ʼn familielid se lewe gered is deur ʼn bloedoortapping, en daarom skenk hy self gereeld bloed,” verduidelik Swart.

Gerald Steyn het laat blyk dat hy nie ʼn man vir naalde is nie, maar hy het tog vasgebyt en ook bloed geskenk.

“As ek iemand se lewe kan red deur bloed te skenk, is dit ʼn klein prys om te betaal om my vrees vir naalde te oorkom,” het hy laat hoor.

Besoek die SANBS se webtuiste hier en registreer as ʼn skenker, of besoek jou naaste skenkingspunt om bloed te skenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
George

Glo my, die mense wat skenk neem genoeg selfies om almal te wys lol, ek stem Pienkie moet stop om so suur te wees.

George

Maude lyk soos n fun mens om, om mens te he.

Charllas

Lindsey Abrahams is van daai vroue wat jy duidelik altyd deur n ring kan trek! Sy is vir myn stunning vrou en speel haar rol so ongelooflik. Dan het sy nog `n million-dollar smile ook. Love haar