Foto’s: Boer André en sy Monja se mooiste dag

André van Zyl en Monja Strydom op hul troudag. (Foto: RDK Photography)

Dit was behoorlik soos ʼn prentjie uit ʼn sprokiesverhaal. ʼn Prinses in ʼn asemrowende rok wat onder deur kristalkandelare stap na haar sjarmante prins wat op haar wag. En toe hy haar in die paadjie sien aankom –  die vrou vir wie hy al so lank wag – kon hy die trane nie keer nie.

Dit was die oomblik op 17 Mei vanjaar toe André van Zyl (35) en Monja Strydom (25) vir ewig trou aan mekaar beloof het.

Kykers het André leer ken as Boer André, wat met skape en angorabokke boer, op die 11de seisoen van die gewilde kykNET-reeks Boer soek ʼn vrou. André was een van die gunstelingboere op die reeks, maar het nie sy trouvrou op die kassie ontmoet nie.

Sy pad op Boer soek ʼn vrou het hom egter wel na sy trouvrou gelei, want nadat Monja hom op die televisie gesien het, het sy vir hom ʼn vriendskapsversoek op Facebook gestuur. Daar het hulle begin gesels en ná ʼn warrelwind-romanse is die twee in Februarie vanjaar verloof.

André en Monja het beslis nie gras onder hul voete laat groei om die troue te reël nie – net ʼn bietjie meer as drie maande later was hulle voor die kansel. “Ons was baie rustig deur die hele proses,” vertel Monja aan Maroela Media.

“Ek het presies geweet wat ek wil doen en hoe ek wil hê alles moet lyk. ʼn Mens droom mos maar vandat jy ʼn klein dogtertjie is oor hierdie dag en het ʼn prentjie in jou kop van hoe dit moet lyk. André is gelukkig ook ʼn baie maklike mens en was ongelooflik akkommoderend. Vir hom het dit gegaan oor sy bruid en dat die troue presies moet wees soos ek dit graag wou hê. Ons het al die besluite saam geneem, maar hy was regtig so maklik oor alles.”

Dit was vir André en Monja ‘n dag vol vrolikheid. (Foto: RDK Photography)

Boonop moes die troue oor ʼn paar honderd kilometer gereël word. Monja het tussen Witbank en Middelburg in Mpumalanga gewoon, terwyl André se plaas in die Colesberg-distrik in die Noord-Kaap is.

Die paartjie het Lace on Timber buite Pretoria gekies vir hul groot dag en die vars, groen blare en ruikers oral, houttafels en blompatrone het ʼn natuurlike en egte voorkoms aan die troue verleen. Monja het asemrowend gelyk in haar Werner Dey Couture-rok wat spesiaal gemaak is presies soos sy dit wou hê.

“Om jou rok deur Werner Dey te laat maak, is soveel meer as net ʼn rok. Jy stap ʼn pad saam met daardie man, geestelik ook, en dit wat daar uitkom, is presies wat jy wou gehad het en meer,” sê Monja.

Sy vertel dat sy die hele dag baie rustig en ontspanne was, maar dat die senuwees so ʼn bietjie geknaag het toe sy by die kapel aankom. “Dit is maar baie emosioneel! Ek het vreeslik gebewe,” lag sy. “Ek het net vir my pa gekyk en toe moet ek stap en ek besef, o jitte, hier is dit nou.”

Die senuwees was egter skoonveld toe sy vir André aan die ander kant van die paadjie sien wag.

Die egpaar het tot laat saam met hul gaste gekuier. (Foto: Verskaf)

En daarna kon die Van Zyl-egpaar net makietie hou saam met sowat 200 van hul familie en vriende. “Ons het die aand so lekker gekuier, dit was net heerlik. Ons was daar tot die venue toegemaak het en toe het ons nog agterna in die boma ook gaan sit en kuier. Ek wens net ek kon meer tyd met almal deurgebring het. Daar was so baie mense en die aand gaan so vinnig verby, daar was nie regtig tyd om behoorlik saam met almal te kon kuier nie,” sê sy.

Ná ʼn heerlike wittebrood in Thailand is Monja sak en pak plaas toe om haar lewe saam met André daar te begin. “Om getroud te wees is anders as toe ons net verloof was, want ons sien mekaar nou elke dag waar ons dit nooit voorheen kon doen nie. Dit is vir ons baie lekker,” sê sy.

“Dit is beslis ʼn aanpassing. ʼn Nuwe dorp, nuwe werk, nuwe huis en nuwe huwelik. ʼn Mens pas nie oornag in die Karoo aan nie! So, ek vind nog maar my voete.” Monja het reeds begin skoolgee by die skool op die plaas en sê haar liewe buurvrou help haar ongelooflik baie om aan al die onbekende dinge gewoond te raak. Om huis op te sit, hou haar ook baie besig.

In die aande wanneer André by die huis kom, is dit egter net hulle twee. “Hy is baie besig deur die dag en wanneer hy in die aande by die huis kom, wil hy net hê ek moet daar wees. Hy is klaar gewoond aan my daar en dit is vir hom so lekker dat ek daar vir hom wag,” vertel sy.

(Foto: RDK Photography)

Mense wat meen dat hulle te vinnig getrou het, skeel Monja min. “André sê altyd, as ons langer gewag het, wat sou anders gewees het? As God ʼn man en vrou by mekaar gebring het, en jy pas God se raad en leiding in jou huwelik toe, kan jy net ʼn gelukkige huwelik hê. André sê nog altyd, as jy weet, dan weet jy. Ons het geweet ons wil vir ewig by mekaar wees en dit is al wat saak maak.”

Dít is waarop hulle nou wil fokus, sê Monja. “Nee, daar is nog geen babaplanne nie!” lag sy. “Ons wil nou net eers ons huwelik geniet. Tyd sal leer.”

En as jy sien hoe dié twee vir mekaar kyk, kan jy nie help om te dink nie – sprokiesverhale word tóg waar.

Foto’s word gebruik met vergunning van RDK Photography.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

leser ·

baie pragtig, hoop julle sal vir altyd gelukkig wees in alles wat julle sal besluit
hou by God en julle sal geseen wees
ek wil nie negatief wees nie, maar wees altyd paraat

Kyker ·

Wow! Julle maak ‘n prentjie!!! Dankie dat dat julle dit met ons deel! Net die mooiste vir julle!

Susan le roux ·

Regte sprokie troue … pragtig bruid .. Andrey en Monja … baie seën vir julle

Anka le Roux ·

Dis die mooiste strooimeisie rokke wat ek in n lang tyd gesien het

Deloris ·

Baie geluk julle… Laat julle liefde en respek en vertroue julle grond fondasie wees vir n gelukkig huwwlik. Julle troue is iets uit n ander wereld… Asemrowend

Marinda ·

Anka, ek stem saam met jou. Dis voorwaar pragtige rokke.

Geluk André en Monja.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.