[Foto’s] Boer Gerrie: ‘Ek kan nie glo sy is myne’

Boer Gerrie en Carna en hul klein Sanri (Foto: Cindy Louwrens Fotografie)

Die Boer soek ʼn vrou-egpaar Gerrie en Carna vertel hulle het Donderdagaand vasgenael voor die kassie gesit om die tiende seisoen van dié gewilde reeks op kykNET dop te hou.

Gerrie, ʼn saai- en veeboer wat in 2014 die harte van kykers gesteel toe hy en sy Carna halsoorkop verlief geraak het tydens die verfilming van dié werklikheidsreeks, vertel hulle was heeltemal té nuuskierig om nié die nuwe seisoen van die reeks te volg nie.

“Dit was lekker om na die ander couples te kyk en ook te sien wat hulle aangevang het,” skerts hy. “Ons het skoon skaam gekry om na onsself op die kassie te kyk. ʼn Mens sê sulke simpel goed en jy lyk sommer laf as jy na jouself kyk. Veral die een-tot-een-onderhoude het veral vir vermaak gesorg hier in ons huis – Carna wat op die televisie sê sy het nou skoon vlinders of dat sy verlief is. Ons het lekker gelag, dis seker maar normaal om simpel te voel as jy na jouself kyk. Nou is ons getroud en ons het ʼn wonderlike dogtertjie.”

Selfs al was albei van hulle deelnemers aan dié reeks, gaan niks hulle keer om dié storie en sy vele intriges te volg nie, spot hulle. “Carna is mal daaroor. Ons kyk die reeks elke jaar en gaan dit hierdie jaar ook weer volg. Dis lekker om te sien watter dinge die ander boere en meisies ook op televisie aanvang.”

Boer Gerrie en Carna se klein Sanri (Foto: Cindy Louwrens Fotografie)

Die egpaar het op 15 September die ouers van ʼn skattige dogtertjie geword. Die klein Sanri – vernoem na Carna se ma – het in net een maand diep spore in albei se harte getrap.

“Sy is ʼn mooi dingetjie,” vertel Gerrie. “ʼn Mens kan amper nie glo dat ʼn maand so vinnig verby is nie. Sy is maar besig en neem in dié stadium meeste van ons tyd in beslag. Elke keer as ek na haar kyk, borrel hierdie gevoel binne in my hart; dis so lekker om te weet sy is myne. Ons is reeds ongelooflik lief vir haar, ʼn mens kan amper nie dink hoe jy nog liewer vir iemand kan raak nie.”

Sy gaan steeds so “saam-saam” boer wanneer sy eers groot genoeg is. “Sy gaan nie eers wil skool toe gaan nie, ek gaan haar heeltyd saam met my in die bakkie rondry,” terg hy. “Eintlik wil ons net lief vir haar wees – en haar beskerm sodat sy gelukkig is.”

Boer soek ʼn vrou is Donderdag op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Lees meer oor dié reeks op Maroela Media.

Al die foto’s is met vergunning van Cindy Louwrens Fotografie geplaas. Vir meer inligting, besoek Cindy Louwrens Fotografie se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Denise ·

So bly vir goeie nuus baie geluk Gerrie en Carna met julle pragtige klein Sanri .

ECT ·

Toe ek gisteraand vir die eerste keer BSV kyk, het ek onmiddellik van Gerrie gedink: “So ‘n ou knorrige blikskottel!” Maar toe sien ek hom en Carna lag. Hulle lag saam, diep uit hul harte uit en lyk só gelukkig – daai deel van die “vlinders op die maag” wat Gerrie so ongemaklik laat, het my hart sommer warm laat klop – maak my glads lus om self ook volgende keer vir BSV in te skryf, al is ek al aan die verkeerde kant van 40 ……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.