Foto’s: ‘BSV’ se rooikop-teeboer haak af

Albert en Chanté van ‘Boer soek ‘n vrou’-faam is die naweek op Clanwilliam getroud. (Foto: Adorn Photography and Film)

Altesaam 115 gaste was Saterdag teenwoordig toe Boer soek ʼn vrou se Albert Smit en Chanté Kruger trou aan mekaar beloof het.

Die paartjie, albei 27, het mekaar tydens die 13de seisoen van dié gewilde werklikheidsreeks ontmoet.

Chanté het destyds Albert se topvyf gehaal van die vroue wat tydens die program die blitsafsprake bygewoon het, maar hy het haar nie gekies om plaas toe te gaan nie. Dié twee het egter agterna weer kontak gemaak en begin kuier nadat Chanté van Pretoria na die Kaap verhuis het.

Hulle het in November verlede jaar op die rotse by die Mosselbaaise see verloof geraak.

Die troue het op Albert se familieplaas op Clanwilliam in die Wes-Kaap plaasgevind. Albert, wat met rooibostee boer, kan nie uitgepraat raak oor hoe glad die groot dag verloop het nie.

“Die weer was perfek en alles het net ten goede uitgewerk,” vertel die rooikop-boer aan Maroela Media.

Albert en Chanté van ‘Boer soek ‘n vrou’-faam is die naweek op Clanwilliam getroud. (Foto: Adorn Photography and Film)

Die seremonie het op die grasperk voor Albert en Chanté, ʼn rekeningkundige van beroep, se huis op die plaas plaasgevind.

“Ons het dit gekies omdat daar niks meer spesiaal is as om trou te beloof aan mekaar voor die huis waar ons saam begin bou aan ʼn toekoms nie.”

Albert en Chanté is voor hul naaste vriende en familielede deur hul dominee ingesalf met “Shalom-olie”.

Die onthaal is ná afloop van die seremonie in die stoor gehou. “Ons eerste dans as man en vrou was beslis ʼn hoogtepunt. Ons het die dansvloer geopen met ‘Simply the best’ deur Tina Turner,” vertel Albert.

Veil Events het gesorg dat die paartjie se groot dag vlot verloop, terwyl Adorn Photography and Film die foto- en videografie behartig het.

Die pasgetroudes beplan om in die Boland uit te span vir hul wittebrood. “Ons is opgewonde om net tyd saam met mekaar deur te bring en die hele proses in te neem.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.