[Foto’s en video] SA se Michelinster-sjef nou op Via en Showmax!

Jan Hendrik van der Westhuizen (Foto verskaf deur Showmax)

Vir die eerste keer in Suid-Afrikaanse televisie kom daar ’n eksklusiewe kos-reeks wat die werk en wêreld verken van Suid-Afrika se eerste Michelinster-sjef, Jan-Hendrik van der Westhuizen.

In Jan nooi dié bekroonde sjef en kulinêre genie DStv-kykers om te kyk hoe hy die Franse en Suid-Afrikaanse kookkuns bymekaarbring in sy restaurant, JAN, in Nice, Frankryk. Die program begin Dinsdag 24 Oktober op VIA (DStv-kanaal 147) en tegelykertyd op Showmax.

In dié program kry kykers ’n intieme blik op die lewe van die skeppende kunstenaar asook die proses waardeur Jan-Hendrik inspirasie kry vir sy bekroonde kosskeppings. Ons ontdek hoe sy kinderdae op ’n melkplaas in Mpumalanga hom voorberei het om sy restaurant in die hoofstad van die koswêreld te open en drie jaar later die hoogste toekenning in die restaurantwese te ontvang.

“Jan-Hendrik van der Westhuizen is een van Suid-Afrika se uitvoer-goedere waarop ons bitter trots is en om sy binnewêreld via die kameras te verken, is ’n groot eer,” sê Izelle Venter, kanaalhoof van VIA. “Omdat die program in Afrikaans, Engels, Frans en Italiaans is, het die hele reeks Engelse onderskrifte. Almal kan dus saamkyk.”

Jan Hendrik van der Westhuizen (Foto verskaf deur Showmax)

Die program begin by sy spogrestaurant aan die Franse Riviera waar Hollywood-sterre, internasionale sportmanne en ander BBP-gaste toustaan vir ’n sitplek. Die kameras volg hom dan na die klein Italiaanse dorpie Apricale waar hy sy batterye gaan laai en besonderse bestanddele verken saam met plaaslike karakters. Elke reeks eindig met ’n beeldskone gereg wat geïnspireer is deur die episode se karakters en bestanddele – gewoonlik met ’n stewige skeut Suid-Afrikaansheid by.

“My restaurantgaste moet nie net sê hulle het lekker geëet nie – hulle moet sê hulle het ’n goeie ervaring gehad. Dis dieselfde met die reeks: ons neem kykers op ’n visuele en sensoriese reis. As kykers sê die program is ook vir hulle ’n ervaring, dan het ons ons werk gedoen,’’ sê Jan-Hendrik wat spesiaal vir die reeks se bekendstelling na Kaapstad kom.

Nuwe episodes van Jan wys elke Dinsdag om 19:30 met heruitsendings op Sondae om 20:30. Die program is tegelykertyd beskikbaar op Showmax. Die program bestaan uit nege episodes van 50 minute elk in Afrikaans, Frans en Italiaans met Engelse onderskrifte. Caesarstone is die program se uitsaaivennoot.

Die program is vervaardig deur Carien Loubser van Brainwave Productions, wat bekend is vir TV- programme soos Bobby en Karlien: In jou skoene en die kykNET-treffer Die Republiek van Zoid-Afrika.

Hierdie reeks is van 24 Oktober beskikbaar op Showmax vir kykers in Suid-Afrika en die buiteland. Kry al die vermaak op jou gunstelingtoestel by Showmax: teken nou in of maak gebruik van die gratis proeflopie. Showmax is nou ook gratis beskikbaar as deel van jou DStv Premium-pakket! Klik hier om meer uit te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.