Foto’s: Fiëstas vereer drie legendes

Nic de Jager (Foto: Nardus Engelbrecht)

Drie legendes – ’n radioman, regisseur en akteur asook ʼn bekende in die vermaakbedryf en ’n wêreldbekende fotograaf – word vanjaar by die Fiësta-toekennings vir hulle lewensbydrae vereer.

Die 11de kykNET Fiëstas word vandag (Sondag) om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. As gevolg van die pandemie sal dit nie ’n regstreekse uitsending voor ’n groot gehoor soos in die verlede wees nie, maar wel net so opwindend soos vorige jare.

Nic de Jager wat verlede jaar sy 80ste verjaardag gevier het, het op Stellenbosch grootgeword en ná skool argitektuur aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. In sy sesde jaar het hy ’n radiotoets gedoen wat die begin van ’n luisteryke loopbaan agter die mikrofoon en voor én agter die kameras beteken het.

De Jager was van 1966 tot 1974 ’n omroeper en regisseur by die destydse Afrikaanse Diens van die SAUK. As akteur was hy te sien in die eerste Afrikaanse reeks wat vir TV gemaak is, Dokter Dokter, en ook later in reekse soos Vallei van die sluiers, Geraldina die tweede en Egoli: Plek van goud asook rolprente soos The Gods Must Be Crazy en Die geheim van Nantes. Sy veelsydigheid het egter ook beteken dat hy een van die eerste nuuslesers op Suid-Afrikaanse TV was.

As regisseur was hy verantwoordelik vir onder meer Die vlakte duskant Hebron en 1945, asook ’n dokumentêre program oor die kunstenaar Judith Mason. As radio-aanbieder is hy die afgelope paar jaar verantwoordelik vir die immergewilde Nic se goed op RSG.

Terry Fortun (Foto: Nardus Engelbrecht)

Terry Fortune is ’n veteraan in die vermaakbedryf. Hy is 1948 in Kaapstad as Tyrone Robertson gebore. Ná skool het hy maatskaplike werk studeer en later as maatskaplike werker vir die Kaapstadse stadsraad gewerk. In 1971 het hy aan ’n talentkompetisie by die Luxurama in Wynberg deelgeneem en daar is sy alter ego, die fopdosser Terry Fortune, gebore.

Sy suksesvolle loopbaan het hom regoor die wêreld geneem. Fortune – hy sê net mense wat hom sy lewe lank ken noem hom nog Tyrone – het in ook in Europa, Brasilië en Brittanje gewerk. Hy het opgetree by die onafhanklikheidsvieringe van Namibië en Mosambiek.

Hy het ook in verskeie verskeidenheidskonserte, kabarette en musiekspele opgetree het het in 2009 ’n Fleur du Cap-toekenning gewen vir sy werk in die musiekspel Songbook. Hy woon steeds in Kaapstad en is ’n mentor en leermeester vir jongelinge in die vermaakbedryf.

Bob Martin (Foto: Nardus Engelbrecht)

Bob Martin se lewe het ’n paar interessante draaie gemaak – van sy kinderjare op Villiersdorp tot die vloot, van balletdanser tot internasionaal bekroonde fotograaf.

Martin het sy loopbaan as fotograaf in Kenia begin waar hy as reservis saam met die polisie gewerk het. Terug in Suid-Afrika was hy aanvanklik ’n fotograaf by Sunday Times en later as hooffotograaf by Satoer waar hy verskeie internasionale toekennings ontvang het.

Dit was egter toe hy by die destydse TRUK as teaterfotograaf begin werk het, waar sy talent werklik na vore gekom het. “Dit is asof ek my roeping gevind het,” het hy gesê.

Verskeie bekendes soos Sandra Prinsloo, Jana Cilliers, Katinka Heyns en Gordon Mulholland en ook internasionale sterre soos Eartha Kitt was voor sy kamera en sy foto’s van toneel, ballet, opera en rolprentproduksies word vandag nog hoog aangeskryf.

  • Skakel Sondag 7 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) in vir die 11de kykNET Fiëstas.
  • Kyk hier na ’n paar eksklusiewe foto’s van hoe dit agter die skerms lyk by vanjaar se Fiëstas:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.