Foto’s: Franse sjef se suikersoet skeppings gryp wêreld aan

Amaury Guichon kan bykans enigiets maak uit suiker en sjokolade. (Foto: Facebook/Amaury Guichon)

Die Franse nageregsjef Amaury Guichon se sjokoladeskeppings en ander gebak het die ganse wêreld in vervoering sedert die program School of Chocolate twee weke gelede op Netflix begin wys het.

School of Chocolate is eerder ʼn leerskool as wat dit ʼn kompetisie is, hoewel pryse van $100 000 (sowat R1,5 miljoen) op die spel is. Die deelnemers is almal professionele sjefs, entrepreneurs, instrukteurs en restauranteienaars uit eie reg, maar word studente in Guichon se klas wat gretig is om by een van die wêreld se voorste nageregsjefs te leer.

Niemand word uitgestem of uitgeskakel nie. Guichon lei die deelnemers geduldig deur elke uitdaging en lewer opbouende kritiek, bied hulp aan en is vrygewig met sy kennis.

Guichon, hoof van The Pastry Academy in Las Vegas in die VSA, is tans met meer as 4,9 miljoen volgelinge die sjokolademaker ter wêreld met die meeste Instagram-volgelinge.

Sy skeppings sluit onder meer lewensgrootte leeus, arende, drake, horlosies en telefone, paddas wat goggas vang, robotte, motorfietse, musiekinstrumente en ʼn replika van die Statue of Liberty in.

Die 30-jarige bakker is met die Kanadese fotograaf Fiona Guichon getroud en sy neem ook gereeld sy meesterstukke af, wat hoofsaaklik uit sjokolade en ander soetighede bestaan. Fiona is ook die eienaar van ʼn tatoeëermerk-ateljee.

Guichon is gebore in Cannes, Frankryk, maar het grootgeword in die Haute-Savoie-streek en het op 14-jarige ouderdom reeds geweet dat die tradisionele skoolkurrikulum nie vir hom is nie. Hy het hom by ʼn beroepsgerigte skool aangesluit en het twee jaar lank by die Thonon-les-Bains-kookskool klasgedraf.

Hy het uiteindelik sy passie vir soetgebak ontdek en is van daar af na Genève, Switserland, waar hy ʼn twee jaar lange internskap gedoen het om sy kuns te slyp.

Guichon het daarna ook twee jaar lank sy soetgebakvaardighede by die Maison Lenôtre in Parys, Frankryk, uitgebrei.

In 2013 het hy die derde plek behaal in die Franse werklikheidsreeks Who will be the next great pastry chef?, maar het sy bekendheid grotendeels aan sosiale media te danke.

Hy het in 2016 besluit om sy meesterstukke wat in sy sjokoladewerkswinkel geskep word op Instagram en YouTube te deel. Kykers en volgelinge kan nie genoeg kry nie, en is veral beïndruk deur die noukeurigheid waarmee Guichon sy sjokoladekunswerke skep.

Guichon se boek, getiteld The Art of Flavour, is onlangs weer herdruk en hy het ook ʼn reeks sjokolade- en bakprodukte wat op sy skool se webwerf te koop is.

School of Chocolate is nou op Netflix te sien.

https://www.instagram.com/p/CV0W0LbpV0u/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.