Foto’s: Gerrie en Carna spog met hul skattige Sanri

Gerrie en sy skattige Sanri. (Foto: Verskaf)

Gerrie en sy skattige Sanri. (Foto: Verskaf)

Sedert hulle mekaar in 2014 tydens die sewende seisoen van die gewilde kykNET-realiteitsreeks Boer soek ʼn vrou ontmoet het, het boer Gerrie en sy Carna se verhouding van krag tot krag gegaan en hulle pienkvoet raak by die dag net skattiger.

Só vertel Gerrie in ʼn telefoniese onderhoud met Maroela Media. “Ek kan amper nie dink dit is al vier jaar gelede wat ons mekaar ontmoet het nie. Die tyd gaan ongelooflik vinnig verby!”

Gerrie en Carna is in Augustus 2015 op ʼn perdeplaas buite Bothaville getroud en sedertdien boer hulle saam én het hulle op 15 September 2017 ʼn dogtertjie, Sanri, ryker geword. Sanri is vernoem na Carna se ma.

Hy vertel dat hy en Carna nog voor die kassie inskuif wanneer daar ʼn nuwe seisoen van Boer soek ʼn vrou is. “Ons geniet dit veral om na die eerste afsprake te kyk waar die boere en die meisies net tien minute het om met mekaar te gesels. Ek en Carna spot oor hoe ongemaklik en lomp ons was tydens ons tien-minute-afspraak en dan lag ons te lekker.”

Gerrie kan nie uitgepraat raak oor sy dogtertjie nie. “Sanritjie is die oulikste ding, en sy loop al so mooi. Sy is verskriklik besig. Sy is nou in die fase waar sy huil in die oggende as ek lande toe gaan, want sy wil saam ry. As ek haar in die bakkie sit, is sy all smiles, maar ek kan haar nie lande toe vat nie, want sy is nog te klein.

Gerrie en Carna. (Foto: Verskaf)

Gerrie en Carna. (Foto: Verskaf)

“Dit is nou vir my lekker, want aan die begin wou sy net haar ma hê,” skerts hy. “Nou lyk dit darem as of sy my ook wil hê. Sy is baie slim ook, jy kan sien haar hand‑oog‑koördinasie is baie goed. Ons is verbaas met al die goedjies wat sy al so mooi kan regkry,” spog hy.

“Carna is ʼn briljante ma,” sê hy. “Sy kyk baie mooi na Sanri as ek die heeldag in die lande is.”

Hy verklap dat hulle ook na die jongste reeks, met Leah as aanbieder, op televisie kyk en dat hulle gaande is oor boer Duncan en boer André. “Hulle lyk albei na baie goeie ouens. Cassie is ook nie te sleg nie.”

Destyds het mense hulle op straat oorval om te gesels en foto’s te neem, maar deesdae het die belangstelling gaan lê. “Nou en dan kom ons nog mense teë wat wil foto’s neem en jy kan sien mense herken jou soos hulle na ʼn mens wys, maar nie almal kom gesels nie. Baie mense herken ons ook, maar hulle weet nie altyd van waar af nie.”

Hy vertel hulle het Oukersaand op die plaas saam met sy familie deurgebring. “My broer en my ma-hulle het by ons kom kuier op die plaas en op Kersdag was ons na Carna se familie toe op Ventersburg. Ons gaan nooit hierdie tyd van die jaar weg nie, want dit is ʼn besige tyd op die plaas. Ons beplan om in Februarie weer die see te sien, dalk gaan ons Ballito toe of selfs ʼn bietjie Kaap se kant toe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.