Foto’s: Homer Simpson bied 71ste Emmy-geleentheid aan

Die animasiekarakter, Homer Simpson, was een van die aanbieders tydens die 71ste Emmy-toekenningsgeleentheid. (Foto: Chris Pizzello/Invision/AP)

Die room van die televisiereeksbedryf is Sondagaand by die Microsoft-teater in Los Angeles, Kalifornië in die VSA, vereer tydens die 71ste jaarlikse Emmy-toekenningsgeleentheid.

Game of Thrones het vanjaar ʼn rekordgetal van 32 benoemings ontvang, ten spyte van hewige kritiek onder kenners en aanhangers oor die agtste en laaste seisoen van dié uiters gewilde George R.R. Martin-reeks.

Peter Dinklage, wat die rol van Tyrion Lannister in Game of Thrones vertolk, is met sy vierde Emmy as beste byspeler in ʼn dramareeks vir dié fantasiereeks bekroon. Die reeks het ook stof in die oë van ander gewilde reekse soos Better Call Saul, Bodyguard, Killing Eve, Ozark, Pose, Succession en This Is Us geskop en is as die beste dramareeks aangewys.

Billy Porter is aangewys as beste akteur in ʼn dramareeks vir sy rol in die Netflix-drama, Pose. Jodie Comer is met die beeldjie vir beste aktrise in ʼn dramareeks vir haar rol in Killing Eve vereer en Julia Garner is bekroon as beste vroulike byspeler in ʼn dramareeks vir Ozark. Dit was albei se eerste Emmy-benoemings.

Peter Dinklage met sy vierde Emmy-toekenning vir sy rol as Tyrion Lannister in ‘Game of Thrones’.(Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Die Engelse aktrise, Phoebe Waller-Bridge, se reeks Fleabag is met drie gesogte toekennings vereer – vir beste komediereeks, beste skryfwerk in ʼn komediereeks en beste aktrise in ʼn komediereeks. Fleabag is geskoei op die aktrise se eenvroustuk met dieselfde naam. Harry Bradbeer is met die toekenning vir beste regisseur van ʼn komediereeks huis toe vir Fleabag.

Bill Hader is vir die tweede keer aangewys as beste akteur in die komediereeks Barry. Tony Shalhoub en Alex Borstein is onderskeidelik bekroon as beste manlike en beste vroulike byspelers in ʼn komediereeks vir The Marvelous Mrs. Maisel.

Chernobyl is as die beste beperkte reeks aangewys. Michelle Williams is vereer vir haar rol in Fosse/Verdon en Jharrel Jerome vir sy rol in When They See Us.

Saturday Night Live is vir die derde agtereenvolgende jaar as die beste verskeidenheidsketskomediereeks aangewys. RuPaul’s Drag Race is bekroon as beste werklikheidsreeks en RuPaul is ook huis toe met die beeldjie vir beste aanbieder van ʼn werklikheidsreeks.

Die geleentheid het vanjaar nie ʼn aanbieder gehad nie en die animasiekarakter Homer Simpson, Anthony Anderson van Black-ish en Bryan Cranston van Breaking Bad-faam het die aand in vrolike luim afgeskop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.