Bykans vier jaar ná die verfilming van die sewende seisoen van die gewilde kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou blom die liefde steeds tussen boer Gerrie en sy Carna.
Dié egpaar, wat in September verlede jaar die ouers van ʼn skattige babadogtertjie geword het, vertel dit is steeds byna onwerklik dat hul liefde aan dié reeks toegeskryf kan word.
Sanri, hul eersteling wat na Carna se ma vernoem is, bring vir hulle “onbeskryflike geluk”. “Sy is ongelooflik oulik,” vertel Gerrie in ʼn onderhoud met Maroela Media. “Sy is die vriendelikste baba en weet presies hoe om ons om haar pinkie te draai. As sy opgetel wil word, wil sy nóú opgetel word en nié later nie.”
Gerrie het voorheen grappenderwys gesê hy gaan baba Sanri sommer leer om saam met hom te boer – maar daarvoor is sy nou nog gans te jonk. “Ek het anderdag vir Carna gesê ek gaan wanneer sy so ʼn jaar oud is haar saam met my in die bakkie laat ry as ek op ander plase gaan kuier. Sy is dalk nou nog bietjie jonk, maar een van die dae gaan sy saam met haar pa die lande in vaar.”
Die egpaar sê hul liefde vier nog hoogty. “Dit raak by die dag net al hoe beter,” sê hy. “Ons het ʼn wonderlike verhouding en is gelukkig. Dan is ons gemoedere ook baie goed omdat ons onlangs baie goeie reën gehad het. Ons is baie dankbaar.”
Daar is nóg nie sprake van ʼn tweede babatjie nie, maar Gerrie sê dit is nie té ver in die toekoms nie. “Ek wag tot Sanri bietjie ouer is sodat ons albei babas kan hanteer,” skerts hy. “Maar ons sal dalk volgende jaar daaroor begin gesels.”
Die verfilming van die 11de seisoen van Boer soek ʼn vrou met die sangeres Leah as aanbieder het pas begin.
Gerrie se raad aan die boere? “Wees heeltyd oopkop oor alles. Moenie noodwendig dink dat jy gaan trou na afloop van die reeks nie, skryf liewer in met die idee dat jy mense gaan ontmoet wat jou kan verbind met jou trouvrou. Moenie jouself onder druk plaas nie; onthou – jy hóéf nie ʼn trouvrou te ontmoet nie. Moenie verwagtinge hê nie en geniet jouself net gate uit.”
Die fotogalery word met vergunning van die egpaar geplaas.
Pragtige gesinnetjie. Mag julle drome waar word en julle liefde vir mekaar so sterk soos nou en vir altyd.
Dis nou n regte plaasmeisie ! Sy is so pragtig.