Foto’s: Naelbyt-episodes wag op ‘Binnelanders’-kykers

Bradley Olivier vertolk die rol van Danny Jantjies in 'Binnelanders'. (Foto: Verskaf)

Bradley Olivier vertolk die rol van Danny Jantjies in ‘Binnelanders’. (Foto: Verskaf)

Kykers van die kykNET-sepie Binnelanders sal tydens vanaand en môreaand se episodes op die punte van hulle rusbanke vasgenael wees wanneer ʼn volgende ambulanskaping deur Tracy (vertolk deur Melinda Brink) en Albert (vertolk deur Miles Petzer) uitgevoer word.

Dié twee span die hulp van paramedikus Danny Jantjies (gespeel deur Bradley Olivier) in en die poppe dans behoorlik wanneer Jax Davids (vertolk deur Kim Syster) ook op die kapingstoneel beland en besluit om haar voet neer te sit en vrou-alleen in te tree om Danny te beskerm.

Volgens Ernst Swart, publisiteitsbestuurder van Binnelanders, besef die sepie se skrywers dit is ʼn baie omstrede storielyn. “Hoewel daar reeds baie kykers is wat bevraagteken hoe relevant dit is, is daar elke dag toenemend meer nuusberigte oor die bedreiging en veiligheid van paramedici wat in plaaslike koerante en op nuuswebwerwe opduik,” sê Swart.

“Die ambulanskapingdrama is al sowat ʼn jaar gelede deur skrywers voorgestel, maar ons het gevoel die tyd daarvoor was nog nie reg nie. Die skrywers het ander dramas en intriges gehad wat moes aandag geniet. Vroeër vanjaar is die besluit geneem dat ons met die ambulanskapingsdrama kan voortgaan en dat dit ʼn storie is wat vertel moes word.

“Sowaar as vet het die eerste nuusberigte die media getref oor ware ambulanskapings ʼn week voor die eerste uitsending. Dit het ons opnuut laat besef dat die tyd ryp is om die veiligheid van paramedici onder die vergrootglas te plaas met ʼn karakter wat reeds in kykers se harte ingekruip het,” voeg Swart by.

Kim Syster agter die skerms van 'Binnelanders'. Sy vertolk die rol van Jax Davids. (Foto: Verskaf)

Kim Syster agter die skerms van ‘Binnelanders’. Sy vertolk die rol van Jax Davids. (Foto: Verskaf)

Volgens hom was sommige lede van die publiek aanvanklik skepties oor dié gewaagde storielyn. “Ons het ʼn hele paar boodskappe ontvang van kykers wat voel dat ons nou vir misdadigers idees gee oor waar om volgende hul fokus op te plaas, maar dan moet ʼn mens vinnig verduidelik dat hierdie nie reaktiewe storievertelling is nie, maar proaktiewe storievertelling. Mitzi Booysen, hoofskrywer van Binnelanders, en haar span skrywers het weereens hul vingers op die pols gehad.”

Getroue aanhangers van dié gewilde sepie volg tans die storie van Tracy en Albert wat besluit het om vir Danny af te pers om hom sodoende deel te maak van hulle slinkse planne, nadat Joel, vertolk deur Kushyall Singh, noodlottig gewond is in ʼn vorige ambulanskaping. Die tweemanskap het vir Danny mooi laat verstaan dat dit as gevolg van sy onwettige wapen is dat dié tragedie afgespeel het.

Danny het geen ander keuse as om saam met Albert en Tracy te werk nie, want hy is beslis nie van plan om agter slot en grendel sy tyd te verwyl terwyl hy mense kan red in sy beroep nie. Een van Danny se voorwaardes vir sy hulp is dat daar geen wapens gebruik sal word in hierdie volgende kaping nie, maar soos die noodlot dit wil hê is Binnelanders se nuutste Bonnie en Clyde nie ingenome met sy idee nie – maar Danny weet niks hiervan nie.

Miles Petzer en Melinda Brink vertolk die rolle van die kapers, Albert en Tracy, in 'Binnelanders'. (Foto: Verskaf)

Miles Petzer en Melinda Brink vertolk die rolle van die kapers, Albert en Tracy, in ‘Binnelanders’. (Foto: Verskaf)

Daar word al lank bespiegel of Danny die appel is wat nie te ver van die boom geval het nie: sy pa is immers Tim Jantjies (gespeel deur Lesley Fong), die Kaapse mafiabaas wat al meer as een keer sy sakeryk in Gauteng kom uitbrei het, en selfs kragte gemeet het met die magtige At Koster (vertolk deur Hans Strydom).

“Kykers sal moet kyk wat gebeur met die nimlike Jax Davids, en hoe die trio gaan reageer met haar onverwagse verskyning op die toneel,” het Swart bygevoeg. “Danny gaan vanaand sy staal moet wys of sy ware kleure ten toon stel: al wat ons kan verklap is dat hierdie episode ʼn hele paar mense se lewens gaan verander.”

Binnelanders saai elke weeksaand om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

J ·

1. Maak die geweer realisties, daai is n geverfde BB gun. 2. Leer hoe om die ding vas te hou. 3. Gelukkig n beeldskone meisie:D sy en Jax.

Christine van Hyussteen ·

Ek love Maroela Media en al die nuus wat hulle gratis hier aanbied. Dankie aan julle Maroela Midia.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.