Foto’s: Niel se Cheréze sê ‘ja’

Cheréze en Niel van Boer soek ‘n vrou-faam is verloof. (Foto: Inecke Photography)

In Mei vanjaar het boer Niel Bruwer van Boer soek ʼn vrou-faam nog aan Maroela Media gesê dat hy en Cheréze Maree, wat hy op dié maatsoekreeks ontmoet het, “gesels oor die volgende stap”.

Nou, slegs sowat twee maande later, spog Cheréze met ʼn diamantring aan haar vinger en is daar ʼn belofte dat die drome wat hulle as paartjie het eensklaps waar kan word.

Niel, ʼn vrugteboer van Prince Alfred Hamlet in die Wes-Kaap, het Saterdag die jawoord by die Lanzerac-wynlandgoed in Stellenbosch gevra.

Niel en Cheréze het mekaar sowat ʼn jaar gelede op dié landgoed ontmoet tydens die Boer soek ʼn vrou-blitsafsprake van die 13de seisoen waaraan hulle deelgeneem het.

Niel vertel aan Maroela Media dat “die sirkel voltooi is” toe hy op die landgoed op een knie gesak het. “Lanzerac het ons genader om vir ons ʼn gratis wegbreek te gee en ek het dit gesien as gulde geleentheid om die groot vraag te vra.”

Hy vertel dat hy reeds in Junie met ʼn juwelier begin gesels het en moes subtiel verskeie besonderhede uit Cheréze trek om seker te maak hy laat die regte ring maak.

“Die ring is al geruime tyd in die kluis, maar ek die tyd laat uitspeel want ek wou graag ʼn deeglike en ordentlike ding doen. Toe Lanzerac ons nader het ek gevoel dit sal perfek wees en die sirkel van ons ontmoeting tot nou voltooi.”

Niel het agteraf met ʼn fotograaf en die eienaars van Lanzerac gekonkel om seker te maak die dag verloop seepglad en dat Cheréze nie snuf in die neus oor sy planne kry nie.

Hy vertel laggend dat ʼn deurmekaarspul met die grimeerkunstenaar amper die doppie vir sy geheim geklink het.

Cheréze en Niel van Boer soek ‘n vrou-faam is verloof. (Foto: Inecke Photography)

“Ons het die dinge Saterdagoggend so toegesmeer dat sy toe van die idee vergeet het dat ek haar dalk gaan vra om te trou. Toe ek tydens die fotosessie op my knie neersak, was sy so verbaas dat sy gevra het: ‘Wat doen jy?’”

Niel het tussen die trane deur die groot vraag gevra. “Ek het vooraf geoefen wat ek gaan sê, maar toe die oomblik kom, het daar net twee sinne uitgekom: ‘Daar is so baie dinge wat ek vir jou wil sê en wat jy vir my beteken, maar alles kom net na een ding toe. Sal jy met my trou?”

Cheréze het tussen die trane deur uiteindelik “ja” gesê, vertel Niel.

As ʼn tweede verrassing vir Cheréze, het Niel gesorg dat hulle albei se ouers ook op die groot dag teenwoordig is.

“Nadat ons van die fotosessie af gekom het, het hulle ons ingewag om ʼn glasie saam met ons te klink. Dit was weer ʼn tranedal van voor af en almal se emosies was deur die dak. Almal is baie opgewonde saam met ons en wil net weet wanneer die troudag gaan aanbreek.”

Volgens Niel is hulle onseker oor wat die situasie met Covid-19 sal wees in die toekoms, maar beoog hulle om in Desember vanjaar of in April volgende jaar voor die kansel te staan.

“Ek het ʼn prentjie in my kop gehad van hoe ek die verlowing wou hê en wat ek gedink het Cheréze sou wou hê en ek dink nie ons kon iets beter doen om nader aan daardie droom te kom as wat ons het nie. Alles het een honderd persent uitgewerk.”

Niel en Cheréze se verlowingsfoto’s is geneem op die Lanzerac-wynlandgoed – www.lanzerac.co.za deur Inecke Photography – www.ineckephotography.co.za. Cheréze se grimering is deur Klara Gilbert Makeup Artistry – www.klaragilbert.co.za. 

Nuwe reeks

Kyk hier na vanjaar se TV-boere wat voor die kameras na liefde gaan soek.

Diegene wat vir een van dié boere ’n brief wil skryf moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee/wewenaar wees. Inskrywings moet voor middernag op 29 Julie ingedien word.

Persone wat die boere beter wil leer ken en wil inskryf, kan dit op een van die volgende maniere doen:

  • Skryf in op kykNET se webwerf by www.kyknet.tv
  • Skakel 079 335 5137
  • Stuur ’n e-pos na [email protected] (Let wel .media en nie .co.za nie)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.