Foto’s: Só lyk Neels van Jaarsveld se top-12

Neels van Jaarsveld.

Die splinternuwe werklikheidsreeks Op my eish, waarin die akteur Neels van Jaarsveld voor die kameras na liefde op soek is, het Donderdagaand op kykNET afgeskop.

In die eerste episode het Van Jaarsveld virtuele afsprake met ʼn rits vroue gehad. Hy het daarna 12 van hulle uitgenooi om tyd saam met hom op Hermanus deur te bring.

Om sy keuses te help maak, het hy die hulp van sy jare lange akteursvriend Henré Pretorius ingeroep. Pretorius sal vir die res van die seisoen die veelsydige rol van aanbieder, vriend en ondersteuningsnetwerk vir Van Jaarsveld én die vroue vertolk.

Só lyk die 12 vroue wat in Hermanus gaan kuier:

Hettie, 24

Hettie.

“Ek het ingeskryf omdat ek niks het om te verloor nie. En omdat dit ʼn opwindende manier en geleentheid is om iemand te leer ken.

“Ek is op soek na iemand wat onvoorwaardelik lief sal wees vir my en my sal aanvaar net soos ek is.  Iemand wat die tyd sal maak om ʼn beker koffie saam met my in die oggend te drink, al beteken dit ons moet ʼn uur vroeër opstaan, net sodat ons die dag saam kan begin.”

Liesa, 27

Liesa.

“Neels lyk na ʼn baie interessante man ek het gedink dit sal lekker wees om hom as persoon te leer ken. Weens my werk is dit moeilik om ʼn verhouding te hê en mense te ontmoet, toe waag ek maar ʼn kans.

“Ek hou van ʼn man wat selfversekerd is en ʼn plan met sy lewe het. Hy moet weet waarheen hy op pad is en bereid wees om saam met my daai pad te loop. Hy moet natuurlik ook baie liefdevol wees, vriendelik en ʼn liefde vir diere hê.”

Janka, 28

Janka.

“Dít is my laaste poging om nie op die rak te eindig nie. Ek glo ʼn mens moet kanse waag in die lewe en ek het absoluut niks gehad om te verloor nie. Deesdae en met die Covid-19-pandemie is dit nogal moeilik om iemand spontaan te ontmoet, so ʼn mens moet gebruik maak van alternatiewe platforms.

“Ek soek ʼn man wat weet wie hy is en wat hy wil hê. ʼn Man met ʼn sterk persoonlikheid, wat ambisie het, intelligent is, ʼn sin vir humor het en my kan laat lag.”

Abigail, 30

Abigail.

“Ek het ingeskryf, want ek het na ʼn nuwe avontuur gesoek, om baie van myself te leer en om aan myself te bewys dat ek enigiets kan doen wat ek wil.

“Ek soek na eerlikheid, opregtheid en iemand wat my aanvaar vir wie ek is, binne en buite. Dan ook, ʼn man met ʼn goeie sin vir humor. Lojaliteit is baie belangrik vir my.”

Florinda, 25

Florinda.

“Ek het gevoel ek is gereed vir ʼn maat in my lewe en dat ek op soek is na daai spesiale iemand om saam met my die lewe te geniet. Wie nie waag nie, sal nie wen nie.

“Ek is op soek na iemand wat weet wie hy is, wat lojaal is en met my kan kommunikeer. Iemand wie se voete plat op die aarde geanker is en wat saam met my die lewe kan geniet en ervaar, goed of sleg.”

Sonja, 31

Sonja.

“Ek wou meer van myself leer en weer verhoudings aanpak buite die inperking – met betrekking tot Neels en die ander meisies.

“Ek soek ʼn spanmaat, steunpilaar en iemand wat gewillig is om daardie eienskappe van my te ontvang en waardeer. Natuurlik ook stabiliteit en dalk net ʼn tikkie humor. Die lewe is soms net te ernstig.”

Laurika, 39

Laurika.

“Ek het ingeskryf omdat Neels van Jaarsveld die man is wat op soek is na liefde in Op My Eish!. As dit enigiemand anders was, sou ek dit geensins oorweeg het nie. Dié man het ʼn mate van misterieuse diepsinnigheid wat ek baie aantreklik vind.

“In ʼn man soek ek ʼn vennoot, ʼn vriend, ʼn sterk man wat leiding kan neem, asook ʼn man wat my raaksien en wat lank genoeg sal rondhang om al die skatte wat ek kan bied te ontgin.”

Lizelle, 40

Lizelle.

“Ek is die soort persoon wat geleenthede met albei hande aangryp. Ek hou glad nie van spyt wees oor iets nie, en om nie eens in te skryf vir die reeks nie sou definitief een wees.

“Ek soek ʼn man wat my beste vriend en ʼn veilige hawe kan wees: Iemand wat my verstaan en aanvaar vir wie ek is, met al my mediese bagasie. Iemand wat my sal toelaat om aan te hou wees wie ek is en nie probeer om my te beheer nie. Iemand met wie ek lekker kan lag en pret hê. Geluk wat eg is, is werklik belangrik vir my.”

Tanya, 33

Tanya.

“Ek het ingeskryf, want Neels het snaaks geklink oor die radio en ek het gedink ons sou lekker kon kuier.

“Ek soek eerlikheid en lojaliteit in ʼn man; iemand wat my nie gaan probeer verander nie en wat my sal ondersteun in my passie vir liefdadigheid.

Sascha, 31

Sasha.

“Ek glo vas wie nie waag nie, sal nie wen nie. Al werk dit nie uit nie, kan ʼn goeie vriendskap daaruit ontstaan en jy leer nuwe mense ken. Dis in die uitdagende tye wanneer ons meer van onsself leer en besef waarvan jy wel gemaak is, asook wat in jou lê en hoe hard jy sal kan veg om iets te bereik. Ek is mal daaroor om mense te leer ken en ʼn nuwe uitdaging aan te pak.

“Ek glo ʼn man wat vir God eerste liefhet, sal sy gesin met Goddelike liefde kan omhels en oppas. Hy moet op sy voete kan dink en sy emosies kan beheer. Ek is ʼn pakkie van vier, so dit gaan ʼn man vat met ʼn sterk persoonlikheid en ʼn opregte hart sodat hy vir my kinders ʼn goeie vaderfiguur kan wees, asook vir my opreg sal liefhê. Ek is mal oor die buitelewe, so as hy 4X4 kan ry en braai, is dit ʼn bonus.”

Melani, 32

Melani.

“Met dieselfde passies en stokperdjies kan ʼn konneksie net sin maak. Of hy my gaan kies of nie, glo ek as mens verloor jy nooit nie, maar vind en leer jy jouself net weer ken.

“In ʼn man soek ek eerstens vir God, iemand wat glo en vertrou sodat ek weet God sal ons middelpunt wees, en dan ook iemand wat respek het vir ons ouer geliefdes en wat nooit dink hy is beter as ander nie.”

Dorianne, 28

Dorianne.

“Ek het ingeskryf omdat ek vir die eerste keer in agt jaar kon voel my hart is oop vir liefde. Aangesien ek nog altyd van Neels gehou het, wou ek die man agter die akteur beter leer ken.

“Ek soek iemand wat God eerste plaas in sy besluite. Hy moet eerlik, lojaal, spontaan en ernstig kan wees, maar bowenal moet hy my aanvaar soos ek is en my sien as sy eerste keuse.”

Skakel elke Donderdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, in om Van Jaarsveld se liefdesreis te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

MakersMark ·

Wat het van die dae geword wat ‘n man self ‘n vrou gesoek het ? Lyk my deesdae moet hulle aangery word en een of ander gefasiliteerde proses gevolg word. Dis ‘n resep om op jou eish te bly….

Chris ·

Ons lewe deesdae in n ander tyd. Die vrouens is deesdae baie meer aktief om iemand te soek as wat mans kon dink om ooit te gewees het.

Niklaas ·

Gaan hierdie dames saam ‘n huis in Hermanus deel met hierdie kêrel of afsonderlik vir hom daar “leer ken”? Die Boer soek’ n vrou reeks is meer geloofwaardig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.