Foto’s: Só lyk nuwe ‘Survivor SA’-reeks se deelnemers

Die bekende televisiereeks Survivor South Africa is terug vir ʼn sesde seisoen en het pas die 18 deelnemers aan dié reeks bekend gemaak.

In dié reeks, wat in die Filippyne verfilm word, sal deelnemers blootgestel word aan al die natuurlike elemente én ook aan die gevaarlike wild wat op die eilande voorkom.

Die 18 deelnemers sal vir 39 dae op die eiland moet leef, self kos bymekaarmaak, aan fisieke en verstandelik uitdagende kompetisies deelneem, en probeer om die laaste een te wees wat staande bly en sodoende met die titel van die sesde Survivor SA wegstap.

Hier is die 18 deelnemers wat gaan meeding om dié gesogte titel:

Ace (28)

Grafiese ontwerper van Johannesburg

Ace glo sy sterkpunte lê in sy vermoë om maklik by situasies aan te pas, sowel as sy menseverhoudinge. Sy swakpunte sluit in dat hy dit moeilik vind om vir mense “nee” te sê.

 

 

 

Annalize (44)

Spysenier van Kaapstad

Annalize is ʼn ma van twee en bestuur haar eie onderneming. Sy sien haarself as ʼn groot optimis wat altyd ʼn glimlag op haar gesig het. Sy gaan nêrens sonder haar goue bikini nie, en sy meen sy lees mense goed.

 

 

Chané (28)

Administratiewe klerk van Bloemfontein

Chané beskryf haarself as ʼn charismatiese boeremeisie wat nie omgee om haar hande vuil te maak nie. Sy sê sy kan nie maklik haar trane terughou nie, en raak vinnig emosioneel.

 

 

 

Jeanne (34)

Radiovervaardiger van Kaapstad

Jeanne is ʼn selferkende grapjas en ʼn groot aanhanger van Survivor. Sy glo dat haar kennis van die program haar grootste sterkpunt sal wees. Jeanne is baie uitgesproke en een van haar swakpunte sal wees om haar mond te hou, veral wanneer sy uitgelok word.

 

 

Josie (28)

Reisjoernalis van Kaapstad

Josie is gewoond aan vreemde en nuwe plekke omdat sy haar eie reis-blog het. Josie se strategie is om betroubare bondgenote te vind en dan vir so lank as moontlik die spel stilletjies in die agtergrond te speel. Josie erken sy raak vinnig verveeld, wat soms tot ongeduldigheid lei.

 

 

Katinka (19)

Sosialemediafoendie van Mosselbaai

Borrelende Katinka is die jongste Survivor SA-deelnemer in die geskiedenis van die spel. Katinka  is bekend vir haar tong-in-die-kies-humorsin en dat sy nie die lewe te ernstig opneem nie. Katinka sê haar grootste swakpunt is dat sy nie goed is met geheime hou nie.

 

 

Marthinus (29)

Beleggingsadviseur van Durban

Marthinus is ʼn toegewyde Christen en pa van een in Durban. Hy bieg dat hy sukkel om mense en hul emosies te lees. Hy sê ook mense kan verwag dat hy ten alle tye 100% homself sal wees.

 

 

 

Murishca (34)

Bemarkingsbestuurder van Kaapstad

Murishca is ʼn ma van twee wat ma’s wil verteenwoordig wat nie bang is om ʼn uitdaging aan te pak nie. Haar pers sweetpaktop is een van die eerste goed wat sy ingepak het na die eiland, omdat sy iets van haar gunstelingkleur wou saam neem.

 

 

Neil (55)

Menslikehulpbronbeampte van Johannesburg

Neil is die oudste deelnemer in die jaar se reeks. Dié oupa is mal daaroor om aktief te wees en het al die Comrades gehardloop, die Midmar geswem die Duzi geroei. Niel is nie bang om leiding te neem nie en sal besluite neem wanneer ander te skaam is om dit te doen.

 

 

Palesa (28)

Radio-aanbieder van Johannesburg

Palesa is ʼn hoogs kompeterende ma van twee en beskryf haarself as die vriend wat jy wens jy het, en die vyand wat jy nooit wil hê nie.

 

 

 

PK (28)

Mynwese-tegnikus van Johannesburg

PK het ondervinding in MMA-gevegte, maar onder die fisieke bedreiging waarna hy voorkom, skuil ʼn baie strategiese denker. Hy erken dat hy soms situasies oordink.

 

 

 

Seamus (25)

Eiendomsmakelaar van Durban

Seamus is ʼn hiper-aanhanger van Survivor en is nie op die eiland om vriende te maak nie. Hy erken dat hy daar is om die spel hard te speel, en die meeste mense moontlik onkant te vang.

 

 

 

Stacey-Lee (27)

Besigheidsanalis van Kaapstad

Stacey-Lee speel rugby in haar vrye tyd. Sy sê haar sterkpunte is haar fisieke krag en vermoë, asook haar manier om koel en kalm te bly onder druk.

 

 

 

Tevin (24)

Mediese dokter van Durban

Tevin het reeds ál die episodes van die Survivor-reekse gekyk. Tevin beplan om baie te jok op die eiland, omdat hy voel dat dit die enigste manier is om ʼn suksesvolle sosiale spel te handhaaf.

 

 

 

Tom (41)

Avontuurkampbestuurder van Port Elizabeth

Wat jy sien is wat jy kry met Tom. Hy is ʼn familieman met baie ondervinding in oorlewing. Sy vermoëns sluit in visvang, jag, vuurmaak en die bou van skuilings, wat hom ʼn aanwins vir sy span sal maak.

 

 

Toni (38)

Inhoudsontwikkelaar van Johannesburg

Toni beskryf haarself as oopkop en passievol, maar met ʼn neiging om baie te vloek. Toni hou van lag en grappies maak, maar sal nie terugstaan om te sê wat sy wil nie.

 

 

 

Vusi (35)

Logistiekbestuurder van Johannesburg

Vusi is ʼn familieman wat hou van swem, die natuur en ʼn glas whiskey elke nou en dan. Sy strategie vir Survivor is om die sterk manne te laat voorvat, terwyl hy hulle probeer uitstem en die aandag van homself af hou.

 

 

Werner (34)

Pastoor en biokinetikus van Secunda

Werner wil strategie eet, slaap en inasem op die eiland. Hy is ʼn selferkende leier en voormalige provinsiale rugbyspeler. Werner is van plan om in die agtergrond ʼn sterk sosiale spel te speel om hom verder in die kompetisie te kry.

 

Survivor SA begin Donderdag 3 Mei op M-Net op DSTV kanaal 101.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jolene ·

Wonder of die vervaardigers agtergekom het dat julle Marthinus se naam verkeerd geskryf het in sy poster….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.