Foto’s: ‘Sterstatus’-wenner aangewys

Larissa Bester (regs) en Charné Kemp (links). (Foto: Marilize Coetzee Photography)

Larissa Bester, ʼn dansinstrukteur van Pretoria, is Sondag as die wenner van VIA se werklikheidsprogram Sterstatus aangewys.

Dié program bied ʼn platform vir jong meisies wat daarvan droom om in die kollig te wees, hetsy as aktrise, aanbieder, model, sosialemediaster, sakevrou of glanspersoonlikheid.

Bester is tydens ʼn glansgeleentheid by Platteland in Pretoria gekroon en neem die leisels oor by Charné Kemp, wat verlede jaar as die wenner van Sterstatus aangewys is.

Die rooikop dansinstrukteur het ʼn hele rits pryse van borge soos Wildebees, SL Lasers, dr. Esmari van Untouched, Bodytec, Hair & Beauty Warehouse en Annique losgeslaan.

Carma van Niekerk was in die tweede plek en sal vir die wenner instaan waar dit nodig is, terwyl Anelle Kleinsmith die derde plek verower het.

“Getrou aan my naam Larissa se betekenis, is ek ʼn borrelende fontein, maar ook vroulik en grasieus soos die betekenis van my tweede naam, Madeleine. Ek glo daarin om die lewe voluit te leef tot die beste van my vermoë, oop te wees vir groei, deur die storms te dans, te blom waar ek gaan, en om die krone van ander vroue te herposisioneer,” sê Bester.

“Ek glo met my hele hart en wese dat daar skoonheid uit die as kan verrys. Elke seerkry, teleurstelling, mislukking, en groeipyn is nie net verbrande as sonder ʼn doel nie – dit is in afwagting om in mooi te verander. Ek kies dit en ek glo dit.”

Volgens Bester het Sterstatus ʼn uiters belangrike rol gespeel in die ontdekking van wie sy is. “Ek kon nooit verstaan hoekom elke vrou ʼn pragtige bos blomme is nie – een is ʼn bos rose, die ander is ʼn bos sonneblomme, maar my reis met Sterstatus het my laat besef dat ek ʼn gemengde bos blomme in my eie uniekheid en mooi is en dat dit nie ʼn slegte ding is nie.”

Angeline Swanepoel, Lané Bronkhorst (middel) en Cindy-Lee Burrell. (Foto: Marilize Coetzee Photography)

Die donkerkop Lané Bronkhorst is aangewys as Sterstatus se liefdadigheidswenner. Bronkhorst sal ook instaan as mede-aanbieder van die volgende seisoen van Sterstatus.

Cindy-Lee Burrell en Angeline Swanepoel is onderskeidelik as tweede en derde prinsesse in dié kategorie aangewys.

Ander titels wat gedurende die aand toegeken is, sluit in:

Bianca Bezuidenhout as Sterstatus se direkteurskeuse, Lulu Joubert as SterPersoonlikheid, Cindy-Lee Burrell as wenner van die Debutant-prys en Courteney Abrie as wenner van die publiek se keuse.

Sterstatus is die eerste werklikheidsreeks van sy soort op eie bodem en fokus daarop om jong vroue aan die vermaakbedryf bekend te stel deur middel van werkswinkels en opleidingsessies om hulle voor te berei op ’n lewe in die kollig.

Die wenner van die reeks kry ook haar gelukkige deurbraak as aanbieder van die volgende seisoen van Sterstatus op VIA, DStv-kanaal 147.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louise ·

Wow, dit is darem ‘n paar mooi mense bymekaar, geluk aan almal en voorspoed en mag Vader daar bo julle seen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.