Foto’s: TV-boer vind liefde weg van die kassie

Christo Nel en Emerike Smit trou in Januarie. (Foto: Stephanie Grace Photography)

Christo Nel en Emerike Smit trou in Januarie. (Foto: Stephanie Grace Photography)

Christo Nel, wat in 2011 aan die vierde seisoen van die gewilde kykNET-werklikheidsreeks Boer soek ʼn vrou deelgeneem het, het liefde weg van die kassie gevind en staan eersdaags voor die kansel.

Nel, wat destyds ʼn saai-en-beesboer op Leandra was, en sy verloofde, Emerike Smit, trou in Januarie volgende jaar.

Die paartjie het mekaar in 2014 by die Ewige Lig-kerk in Pretoria ontmoet. “ʼn Goeie vriend van die kerk, Willie, is in 2016 met kanker gediagnoseer. Nadat die Here my dit sterk op die hart gelê het om ʼn pad saam met Willie te stap, het Hy in ʼn droom aan Willie vir hom gewys om my en Emerike aan mekaar voor te stel,” het Nel aan kykNET vertel.

Op 23 Oktober 2016, by die kerk se koffietafels, stel Willie, met Smit se ma se hulp, hulle aan mekaar voor. “Van daar af volg daar toe baie koffies, geseënde tye en opwindende troureëlings.”

Nel het intussen sy plaas vir die stad verruil en bedryf nou ʼn verpakkingsonderneming asook ʼn boumateriaalonderneming.

Emerike Smit het Christo Nel se hart gesteel. (Foto: Stephanie Grace Photography)

Emerike Smit het Christo Nel se hart gesteel. (Foto: Stephanie Grace Photography)

“Ek woon tans in Pretoria en bestuur my ondernemings van hier af. Ek moet sê, ek loop hier in die stad rond met ʼn trotse boerehart. Baie van my kliënte is in die Leandra- en Mpumalanga-omgewing, wat my die geleentheid bied om twee keer ʼn week die plattelandse lug in te asem.”

Volgens Nel vul hy en Smit mekaar aan op alle gebiede en maak gebed ʼn groot deel van hul verhouding uit. “God is ons middelpunt en ons albei se grootste liefde. Ons is loshande mekaar se beste vriend en geniet die lewe met al sy uitdagings. Emerike staan vierkant agter my as man en ondersteun my. Sy is ʼn opregte mens wat baie omgee vir haar medemens. Ek kyk baie op na haar.”

Nel en Smit het op 22 November verlede jaar verloof geraak in Pretoria. “Daar was die dag swaar weer op pad. Ek het haar ontvoer vir ʼn kamstige wine and dine-aandjie. Toe Emerike weer sien, laai ons ʼn vlieënier by die hek van Wonderboom-lughawe op.”

Christo Nel en Emerike Smit. (Foto: Stephanie Grace Photography)

Christo Nel en Emerike Smit. (Foto: Stephanie Grace Photography)

Smit het glo iets vermoed, maar nie die ringboksie in sy broeksak gewaar nie. “Ons het in ʼn Cessna-vliegtuig opgestyg en ʼn draai oor die Roodeplaatdam gevlieg. Kort voor ons geland het, het Emerike die groot letters op die grond gesien (wat my twee strooijonkers uitgepak het): “Trou met my”.

“Ek het gebid en die Vader gevra om die reën terug te hou tot ons klaar gevlieg het. Net toe ons die vliegtuig in die hanger ingetrek het, het die hemele oopgemaak. By die restaurant by die lughawe het ek op my knie gegaan, weer die vraag gevra en Emerike se droomring aan haar fyn, pragtige vinger gesit. Daarna het ons sjampanje gedrink en die lekkerste driegang-maaltyd geniet.”

Die paartjie sal op 19 Januarie by die Oxbow Country Estate naby Bronkhorstspruit ewige trou aan mekaar beloof. “Ons hoop op ʼn vol, gelukkige toekoms saam met mekaar. Ons wil onder God se genade en leiding mekaar geniet en ons drome uitleef.”

Bron: kykNET

Foto’s: Stephanie Grace Photography

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Theresa B ·

Baie, baie geluk julle. Alles is soos wat dit moet wees. Geniet elke sekonde.

mc ·

Baie baie geluk julle twee, julle kan nooit verkeerd gaan met God as middepunt van jul huwelik en lewe nie. Alles wat mooi is vir die toekoms.

Maria ·

Julle is pragtig met geseene mensie. In Here se hande en SY besluit glo ek julle het regtige besluit gemaak …so Verseker is ek. Dankie vir julle getuie.
Baie geluk!

Avra ·

Pragtige paartjie. Baie geluk. Voorspoed, vreugde en vrede, bo alles: liefde.

Ander Annie ·

Twee pragtige jongmense. Baie geluk met die groot besluit wat julle geneem het. Mag ons Hemelse Vader Sy Hand van beskerming en liefde oor julle hou sodat julle vele, vele jare saam gelukkig sal wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.