Foto’s: Verlowing by die see vir boer Albert

Boer Albert Smit en Chanté Kruger het Saterdag op die rotse in Mosselbaai verloof geraak. (Foto: Sandre Barnard/Rooibos Photography)

Boer Albert Smit, wat deelgeneem het aan die vorige seisoen van die gewilde kykNET-reeks Boer soek ʼn vrou as een van die topvyf boere, het pas die jawoord gevra.

Die gelukkige meisie is Chanté Kruger, ʼn rekeningkundige van beroep. Albert (26) en Chanté (26) het in Mei vanjaar hulle verhouding bekend gemaak met ʼn rits foto’s op Instagram.

Chanté het Albert se topvyf gehaal van die vroue wat tydens die program die blitsafsprake bygewoon het, maar hy het haar nie gekies om plaas toe te gaan nie.

Dié twee het egter agterna weer kontak gemaak en begin kuier nadat Chanté van Pretoria na die Kaap verhuis het.

Met Clanwilliam, waar Albert met rooibostee boer, om die draai het hy besluit om haar te nooi vir koffie en van daar af was die koeël behoorlik deur die kerk.

Albert wou graag die verlowing, wat Saterdag op die rotse in Mosselbaai plaasgevind het, ʼn groot verrassing vir Chanté hou. Toe Sandre Barnard van Rooibos Photography vir Chanté nader om ʼn fotosessie as paartjie te doen, het Albert agteraf begin konkel om dit sommer in ʼn verlowingsfotosessie te omskep.

Chanté se verloofring is deur Howie Viljoen van Viljoen Juweliers op Worcester gemaak. (Foto: Sandre Barnard/Rooibos Photography)

“Sandre is in die Mosselbaai-George-omgewing en daarom het ek en Chanté dit goedgedink om vir ʼn langnaweek Mosselbaai toe te gaan en sommer die fotosessie deel van ons naweek te maak. Ek en Sandre kon dit regkry dat Chanté dink sy tref al die reëlings vir die fotosessie, maar eintlik het ek alles gedoen,” lag Albert.

“Ek moes baie ompaaie vind om die dag vir haar so spesiaal moontlik te maak. My ouers het Mosselbaai toe gery terwyl haar ouers afgevlieg het. Haar beste vriendin het ook die geleentheid bygewoon. Ek het vir ons almal plek bespreek by die Diaz-hotel en ons het almal ná die verlowing saam daar geëet en vonkelwyn gedrink. Dit was baie spesiaal.”

Die moeilikste gedeelte was om vir haar weg te steek dat hy gaan ouers vra het, vertel Albert. “Ons hou later vanjaar saam vakansie in Mosambiek en ek het heeltyd vir haar gesê ek sal hom dan vra, maar eintlik het ek lankal reeds ouers gevra. Toe ek op my een knie neersak om die jawoord te vra, was haar eerste reaksie: ‘Weet my pa hiervan?’. Sy het ʼn baie hegte verhouding met haar ouers.”

Noudat dit ingesink het, is hulle opgewonde om met die troubeplanning te begin. “Ons het al die pad van Mosselbaai af tot by haar woonstel in Bloubergstrand gesels oor gastelyste en datums. Ons wil graag volgende jaar kort ná die winter, miskien Augustus of Oktober, voor die kansel staan. Ons bespiegel nog,” sê hy.

Boer Albert Smit en Chanté Kruger het Saterdag op die rotse in Mosselbaai verloof geraak. (Foto: Sandre Barnard/Rooibos Photography)

Albert het Chanté se verloofring laat maak by Howie Viljoen van Viljoen Juweliers op Worcester. Dit was op aanbeveling van sy vriend en mede-Boer soek ʼn vrou-deelnemer, PF, wat onlangs ʼn ring aan Chantelle Pretorius se vinger gesteek het.

“Die ring het 11 diamante, een groot diamant in die middel met tien klein diamantjies rondom, vyf aan ʼn kant,” vertel Albert.

“Sy het vir my foto’s gestuur van ringe waarvan sy hou en ons het daarmee gewerk. Op die ou einde het ek gekies wat vir my die mooiste lyk en die ring het baie mooi uitgekom en perfek gepas toe ek dit aan haar vinger steek.”

Dit is die derde paartjie van die betrokke seisoen wat verloof is. Boer Niel van Grabouw in die Wes-Kaap het Cheréze Maree in Julie gevra om te trou.

  • Die jongste seisoen van Boer soek ʼn vrou skop in Januarie af en is op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Madeleine

Baie geluk!

Deirdre

“Weet my pa hiervan?” beteken jy trou ‘n oulike vrou met soliede waardes. Geluk!