‘Fraksie’ eersdaags op kykNET te sien

Edwin van der Walt as Schalk Smit in die kykNET-dramareeks, ‘Fraksie’. (Foto: Verskaf)

“ʼn Opwindende nuwe reeks wat storielyne en temas wat nog nie vantevore gedoen is nie, vreesloos ondersoek. Dit is vreesloos en beslis iets om na uit te sien.”

So sê die akteur Sean-Marco Vorster wat die rol van Alwyn speel in kykNET se splinternuwe dramareeks, Fraksie, wat op 13 September begin.

Fraksie speel in Stellenbosch af en dit gaan oor Schalk Smit (Edwin van der Walt), ʼn beleggingsbestuurder met drome om eendag ʼn dollar-miljoenêr te word. Hy is getroud met Nina (Roeline Daneel) wie se ma, Deidré (Hélène Truter), uit ou geld kom. Nina se pa, Willem (André Jacobs), is ’n onkoloog en haar suster, Bianca (Daneel van der Walt), ’n narkotiseur. Schalk en Nina het twee tienerkinders, Zac (Alex van Dyk) en Mari (Jana Malan).

Tim (Marlo Minnaar), ʼn dosent in rekenaarwetenskap in Pretoria, is onlangs met Chantel (Crystal Donna Roberts) getroud. Hy het in sy vrye tyd die QPI (Quick Payment Interface) ontwikkel en is op soek na ʼn belegger daarvoor.

Jana (Trix Viviers) is ʼn kommersiële prokureur en was saam met Schalk en Tim op skool. Sy het ses maande tevore Stellenbosch toe getrek en haar man, Alwyn (Vorster), en dogter, Emmy (Rizane Rossouw), in Johannesburg agtergelaat. In Stellenbosch ontmoet Jana egter vir Jack (Duane Williams) wat probleme in haar en Alwyn se huwelik veroorsaak.

Die reeks bestaan uit 17 episodes en dit is die skeppende werk van Louis Pretorius en Albert Snyman wat vir trefferreekse soos Die Boekklub, Troukoors en Fynskrif verantwoordelik was.

“Die episodes word aaneen uitgesaai, maar is as’t ware twee mini-reekse,” verduidelik Louis. “Die eerste agt episodes wys hoe QPI opgebou word en die laaste nege wys hoe dit, én die mense betrokke, verder ontwikkel.”

Ander spelers in die reeks is Melt Sieberhagen, Brendon Daniels, Ilse Klink, Gerwen Simon, Natalia da Rocha, Lee-Ann van Rooi, Pierre van Pletzen en Hendrik Nieuwoudt.

“Elkeen van die karakters het hulle eie lewe gekry soos ons die reeks ontwikkel het,” sê Pretorius. Hy meen verder dat Schalk Smit “meer van ʼn anti-held” is en hoewel dit met tye nie maklik is om van die karakters te hou nie, hoop en glo hy dat die reeks kykers vasgenael sal hou.

“Buiten die tema om die Schalk-karakter, is daar ander kwessies soos tweede kanse, kinders en hulle verhouding met hulle ouers en die uitdagings in huwelike.”

Pretorius en Snyman is in hulle skik met die rolverdeling. “Daar is heelwat produksies wat die afgelope tyd verfilm is en dit was ʼn uitdaging om almal vas te maak vir die onderskeie rolle, maar ons glo ons het ʼn fantastiese rolverdeling bymekaar gekry. Ek hoop en glo dat kykers die reeks soveel gaan geniet as wat ons dit geniet het om dit te maak.”

Fraksie begin op Dinsdag 13 September om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144. Hier is ʼn voorsmakie van wat kykers kan verwag:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.