‘Fraksie’ se Hendrik Nieuwoudt oor plante, pannekoek en planne

Hendrik Nieuwoudt is JP in ‘Fraksie’. (Foto: kykNET)

Deur Ilza Roggeband

Hendrik Nieuwoudt is te sien as JP in Fraksie, die jong man wat glo hy gaan ’n sosialemedia-ster word en saam met sy pa en dié se huismaat ’n huis deel.

Vertel meer van jouself. Waar kom jy vandaan, watter drome het jy as kind gekoester en wat is jou beste herinneringe?

Ek is gebore op Citrusdal en het daar grootgeword. Klein, klein warm dorpie en plaasgemeenskap. Op hoërskool het ons Ceres toe getrek wat eintlik maar dieselfde is – net oor die berg en nie so warm nie. Beslis daardie small town boy-gevoel.

Dis moeilik om herinneringe uit te sonder. Ek het sulke flitse van my en my niggies en nefies wat ure en ure in die rivier en by die see deurbring en koekies saam met my ma bak voor die Kersvakansie.

My ma het ook altyd, as dit net amper lyk na reën, pannekoek gebak. As daar nou net ’n druppel val, bak ek pannekoek en maak ek sop, net soos my ma. My pa is ’n dominee en het ’n kwekery op my oupa-hulle se plaas gehad. Ek het altyd saam met hom na ander kwekerye toe gegaan om plante af te laai of nuwes te koop.

Hendrik Nieuwoudt en Melt Sieberhagen in ‘Fraksie’. (Foto: kykNET)

Ek het dit destyds gehaat, maar toe ek ouer word, het ek besef hoeveel van daardie kennis het ek by hom gekry. My hele woonstel is vol plante en daar is die hele tyd steggies besig om plante te word.

Dis moeilik om te sê wat my droom was, maar my ma – wat ’n kleuterskool by die huis gehad het – is lief om te vertel dat ek altyd deel van die konsert was. Ek was een jaar die koning en toe iemand my vra wat ek eendag wil word, het ek gesê ’n koning.

Jy weet nie wie jy is wanneer jy so jonk is nie, maar ek het altyd ’n groot verbeelding gehad. Ek kom ook uit ’n familie wat daarvan hou om stories te vertel.

Wanneer het jy besluit om ’n akteur te word?

Ek koester die droom al lank, maar ek het dit nie altyd erken nie. Ek het soveel flieks en reekse gekyk en nou nog wanneer ek soms flieks kyk, besef ek net dít is wat ek wil doen.

Ek het vir almal gesê ek gaan regte studeer, maar ek dink dit was van die begin af onafwendbaar dat ek drama sou kies.

Wat was jou loopbaan-hoogtepunte tot dusver?

Beslis om in Oliver Hermanus se fliek Moffie te wees. Dit was net ná ek klaar studeer het en dit was ’n lang oudisieproses, maar om die storie te vertel en te sien hoe hy sy rolprente maak, het my so baie geleer en my lewe verander. Om na die rolprentfees in Venesië te gaan het my weggeblaas. Ek kan steeds nie glo dit het gebeur nie.

Wat was jou reaksie toe jy gehoor het jy het die rol van JP in Fraksie gekry?

Ek was uit die veld geslaan en dit het goed gevoel om te weet Louis Pretorius en Albert Snyman het iets in my gesien. Elke keer dat ek saam met hulle en hulle span werk, besef ek net dis die beste mense wat so goed is met wat hulle doen. Hulle werk met soveel omgee.

Hendrik Nieuwoudt is JP in ‘Fraksie’. (Foto: kykNET)

Wat is die groot rol wat jy nog wil speel?

Ek wil graag in ’n fliek speel waar die karakter nie die perfekte mens is nie, iemand wat donkerte in hulle het en aan die buitekant van die lewe staan. Ek was nog altyd die saggeaarde, snaakse kind gewees. Ek sal ook baie graag nog teater wil doen.

Waarmee jou jy jouself besig tussen rolle?

Enigiets. Van oorklanking tot produksie-assistent tot die kostuumafdeling. Ek skryf ook stukke vir Tienertoneel, wat ek baie geniet. Ek woon in Kaapstad en gaan stap by die see of in die strate, sorg vir my plante en kook te veel.

Wat geniet jy die meeste van JP?

Die pa-en-seun-verhouding waarna die reeks kyk. Dit kan soms moeilik wees en dit is hoekom dit vir my so lekker was om te doen. Dit is lig, maar tog so eg.

Hendrik Nieuwoudt, Brandon Daniels en Melt Sieberhagen in ‘Fraksie’. (Foto: kykNET)

Wat is jou planne vir die res van die jaar?

Ek werk nog aan die produksie waar ek in die kostuumafdeling werk en dan gaan ek vakansie hou. Dit was ’n besige jaar. Ek wil see toe gaan, my familie sien en dalk by Knysna gaan stap.

Fraksie is elke Dinsdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien. Dit word ook op DStv CatchUp uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.