Franci Swanepoel: ‘Kykers nog lief vir Toeks’

franci_swanepoel

Franci Swanepoel as Antoinette in Hartland. Foto: Talent Etc.

Dis ʼn triestige dag in Johannesburg. Buite val die reën saggies en koud teen die ruite, maar op die stel van ʼn nuwe kykNET-reeks is dit helder en lig.

Aktrise en aanbieder Franci Swanepoel plons gemaklik op die sitkamerbank langs my neer en vou ʼn kussing onder haar arm in. Sy kruis haar bene, maak ʼn grappie oor ʼn klein gaatjie in haar kous en lag uitbundig.

Sy is besig, sê sy, maar sy is gelukkig. “Ek is ongelooflik geseënd,” glimlag sy. “Ek is van Binnelanders af Hartland toe. Daarna was dit die Getroud met rugby (GMR)-reekse, Sterlopers, Donkerland, weer GMR, Bloedbroers, weer Sterlopers, weer GMR, en tussendeur klomp ander goed.” Sy dink ʼn oomblik na. “Ja nee, ek sit nie stil nie.”

‘Elke skewe pot’

Sy geniet haar nuwe rol as Sandra, die eienaar van ʼn afspraakwebwerf, in die nuwe kykNET-sitkom Elke skewe pot wat in Julie vanjaar op die kassie verskyn. “Sy het drie meisies wat vir haar werk en hulle verkoop liefde,” vertel Franci opgewek. “Hulle probeer die perfekte pasmaats vir hulle kliënte kry, maar vir een of ander rede is al die mense wat hier aankom baie skewe potte wat nie noodwendig ʼn regte deksel kan kry nie. Sandra is ʼn bietjie paranoïes en baasspelerig en heeltemal laf.”

Wat is ʼn skewe pot? “Ek wil nou nie mense in die regte lewe beledig nie,” grap Franci, “maar dis mense met ʼn persoonlike kwessie. Die een lees kaarte, die ander is ʼn hoarder; die mense het almal bietjie van ʼn afwyking. Elkeen stap by Elke skewe pot in om liefde te vind, maar raak dan in die proses van hul bagasie ontslae. Die karakters is sterk en daar is ʼn sterk lyn deur elke episode. Dit is ʼn komedie sonder ʼn aaneenlopende storielyn – elke episode staan dus op sy eie.”

Sosiale media en tegnologie

Franci was self nog nooit op ʼn afspraakwebwerf nie. “Ek het nie die vaagste benul hoe dit werk nie. Ek het dus nie navorsing vir die rol gedoen nie, nee. Ek is iemand wat my woorde leer en opdaag en dan uit die vuis uit saam met die regisseur besluit waarheen gaan ons,” sê sy beslis.

“Ek het ʼn Twitter-rekening geregistreer, maar ek gebruik dit nie. Ek weet skaars hoe om te Google,” lag sy. “Tegnologie is glad nie my ding nie. Ek stel nie regtig in sosiale media of tegnologie belang nie, en ek dink hoe ouer ʼn mens word hoe meer skrikkerig raak jy vir goed wat jy nie kan doen nie en dan is jy net nie bereid om te probeer nie.

“Hoewel ek nie ʼn profiel op sosiale media het nie, haal ek my hoed af vir mense wat byvoorbeeld borge vir sekere goed kan kry deur sosiale media te gebruik. Hulle bemark hulself as handelsmerke. Ek kan myself mos nou nie as ʼn handelsmerk verkoop nie, want ek dink altyd wie de hel is ek?” Sy verduidelik met haar hande. “Dit is so ver verwyder van my realiteit af, want ek het grootgeword toe die eerste TV-produksies begin uitkom het.”

Franci se pa, Nic Swanepoel, was ʼn bekende radiopersoonlikheid en ma Marida is ʼn stigterslid van kykNET. “Daar was niks fancy vir bemarking nie, daar was net die Huisgenoot en die koerante, maar dit was omtrent dit. Ek dink die mense wat nou die bedryf betree is op ʼn baie beter plek sover dit bemarking betref want hulle word van jongs af geleer hoe om hulself reg in die bedryf te posisioneer. Ek is een wat sit en wag vir die oproep,” skerts sy.

Deon Opperman

Nie dat Franci die laaste ses jaar langs die telefoon gewag het nie. “Sedert ek by Binnelanders weg is in 2011 het ek van die een na die ander Deon Opperman-produksie gegaan,” vertel sy. “Ons werksverhouding is fantasties. Ek weet nie waar om te begin as ek oor hom praat nie. Deon is my absolute held en hy weet dit. Hy is die slimste mens wat ek ken; sy brein is briljant. Hy is ʼn fantastiese ou om voor te werk as jy jou kant bring. Hy is ongelooflik passievol oor wat hy doen, en ek dink hy soek dieselfde passie by die mense saam met wie hy werk. Hy is ʼn ongelooflike mens en hy het ʼn baie klein hartjie wat mense nie gereeld sien nie.

“Ek het verlede jaar Raka gedoen,” vertel sy. “Dit is NP Van Wyk Louw se epiese gedig van 40 bladsye. Dis in rym geskryf en ek en Neels van Jaarsveld het dit saam gedoen onder Deon. In my tyd het jy Raka op skool en universiteit behandel, so ek het gedink ek weet alles van die gedig. Op 44 het ek vir die eerste keer in my lewe na ʼn maand saam met Deon eers besef waaroor die ding gaan. Hy kleur elke woord vir jou in. Hy is een van daai unieke mense wat so slim is, maar jou nooit laat dom voel nie, want hy leer vir jou. Hy deel graag wat hy weet. ʼn Mentor,” sê sy.

Kollig

Franci Swanepoel (Foto: Maroela Media)

Franci Swanepoel tydens verlede jaar se Tempo-toekennings. Foto: Maroela Media

Haar karakter in GMR, Letitia, se donker streke het kykers al menigte kere warm onder die kraag gehad. “Sy is so anders as Toeks van Binnelanders, maar gelukkig as mense my sien, sien hulle my nog as die vriendelike Toeks. Hulle kom sê vir my die karakter wat ek speel in GMR is aaklig, maar hulle is nog baie erg oor Toeks,” lag sy. “Dis egter vir my ʼn vreeslike kompliment as mense my groet as Franci. Mense oorval my gelukkig glad nie, ek is nie een van daai mense wat met my donkerbril in die straat hoef te stap nie. Ek is altyd bly as iemand met my kom praat en mense was nog nooit goor met my nie.”

Sy is egter nie mal oor die kollig nie, sê sy. “Omdat ek met groot geeste om my grootgeword het, is ek amper ʼn anti-ster, maar nie omdat ek ʼn punt daaroor wil maak nie, dis net glad nie vir my belangrik nie en ek dink ook nie ék is belangrik nie. Ek hou van mense, nie oor wie hulle is of wat hulle doen nie.

“Ek hou van my mense en ek hou van die Kaap,” sê sy met ʼn ver-af kyk in haar oë. “My droomvakansie is Langebaan aan die Weskus. Ek is ʼn gewone meisie. Met dié dat ek Fiësta aanbied, sien ek hoe mooi hierdie land van ons is. Ek is heeltemal te plain vir New York. Ek sal gaan, maar ek sit nie en droom daarvan nie.”

Sy gaan nou eers ʼn sigaret rook, sê sy met die groet by die deur. “Natuurlik kan ek ophou rook, want ek het al,” skerts sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ck ·

Sy is ‘n goeie aktriese wat haar goed van haar taak kwyt, soveel so dat ek haar “haat” in Getroud met rugby. Trots om sulke aktrises in ons land te he.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.