Frank Rautenbach terug in SA vir RoepTV

Nico Panagio en Frank Rautenbach by die bekendstelling van RoepTV (Foto: Facebook)

RoepTV is Suid-Afrika se eerste Afrikaanse Christelike aanlyn platform wat op 1 September vanjaar sy buiging sal maak.

Talle bekende gesigte, soos Frank Rautenbach, Lindie Strydom, Gretha Wiid en Karien Basson, is deel van hierdie platform wat wêreldwyd kykers met “Die Waarheid” sal bedien.

Frank Rautenbach, ʼn ambassadeur van RoepTV, het gesê hy is opgewonde oor só ʼn soort platform in Suid-Afrika.

“Ek dink daar is ʼn groot deel van die mark wat hunker na ʼn alternatiewe soort televisie. Mense wat eerder na inhoud wil kyk wat meer ʼn weerspieëling van hul eie kultuur is, eerder as ʼn vreemde kultuurproduk wat mense partykeer gedwing word om te kyk,” het Rautenbach gesê.

Stefan Enslin, die vervaardigingshoof van RoepTV, het beaam wat Rautenbach gesê het en meen dit is belangrik om hierdie platform in Suid-Afrika te skep.

“In dié stadium is dit baie belangrik. Mense word daagliks gebombardeer met soveel goed wat in die wêreld gebeur – so erg dat mense begin onseker raak oor hul identiteit. RoepTV bied jou hele familie die geleentheid om saam te kom en na inhoud te kyk wat jou gaan inspireer en van binne af gaan begin verander,” het hy gesê.

“Jy hoef ook nie bang te wees vir wat klein oortjies of ogies dalk mag sien of hoor nie. Ek dink die wêreld het so ʼn platform nodig wat Die Waarheid verkondig,” het Enslin gesê.

Rautenbach het gesê hy is verlede jaar genader om deel van RoepTV te word. Hy en sy vrou, Leigh, het in daardie stadium nog in Los Angeles gewoon.

“Ons het vir 11 jaar in die buiteland gebly, maar dit het sin gemaak om terug te kom. Die strategiese idee vir ons was altyd om burgerskap in die VSA te kry, en ons het dit nou. Die vermaakbedryf is ook baie groot daar en hulle weet wat hulle doen.

“Ek wou nog altyd ʼn brug probeer bou en van die goed wat ek daar geleer en die ondervinding wat ek opgedoen het, hier na Suid-Afrika terugbring,” het hy gesê.

Rautenbach is nie net die ambassadeur van RoepTV nie, maar hy help ook met die skryf en vervaardiging van programme.

Rautenbach en sy vrou het na die VSA, hoofsaaklik na Los Angeles, verhuis om die meeste van sy akteursloopbaan te maak.

“Ek het daar interessante oorwinnings en interessante verliese gehad. Dit is my roeping om in die vermaakbedryf te wees. Maar die hele tyd in die buiteland het ek geworstel met wat dit beteken en hoe ek werk moet maak daarvan.

Die RoepTV-span (Foto: Faceook)

“Dit is net soos Paulus wat ʼn roeping gehad het en ʼn rigting waarin hy moes werk, maar hy het ʼn worsteling binne homself gehad tot die dag dat hy dood is. Maar nou kan ek met ʼn geruste hart sê ek het gevind wat ek gesoek het – ek het my stem gevind.”

“Talent is iets wat aan mens gegee word, jy kry dit verniet. Dit is jou worsteling om jou stem te vind en die feit dat jy die pad geloop en gekry het waarvoor jy gesoek het, wat jou anders maak as die res,” het hy gesê.

RoepTV is wêreldwyd toeganklik deur die internet. Al wat jy nodig het, is ledegeld van R149 per maand. Vir meer inligting, besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Driekie ·

Ek sou dit baie graag wou kyk maar kan nie onbeperkte data (plus subskripsie) bekostig nie… Dit gaan dus net aan “meer bevoorregte Christene” beskikbaar wees…..

OWO ·

TV kyk in hierdie land het ongelukkig baie duur geword.Elke dag word nog meer voordele geadverteer van aanlyn tv,explora,showmax en paaiemente wat net meer word.Roep TV kan ondersoek instel om miskien te kyk of hulle nie kan saamwerk met Kyknet ,om dalk kostes laer te hou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.