‘Friends’-reünie, ‘The Crown’ voorlopers vir Emmys

Die gesogte Emmy-beeldjie. (Foto: Robyn Beck/AFP)

Die Emmy-bekroonde pa-en-dogter-duo Ron Cephas Jones (This Is Us) en Jasmine Cephas Jones (Blindspotting) het Dinsdagoggend die Emmy-benoemings vir 2021 aangekondig.

Die Emmy-toekennings vereer jaarliks die room van die televisiebedryf en die gesogte beeldjies word vanjaar vir die 73ste keer uitgedeel.

HBO en HBO Max het die meeste benoemings ingeoes met altesaam 130 benoemings. Netflix is kort op hul hakke met ʼn totaal 129 benoemings. Disney Plus het ʼn noemenswaardige sprong gemaak van verlede jaar met 71 benoemings in die tweede jaar wat dié platform vir die toekennings in aanmerking kom.

Netflix se The Crown en Disney Plus se The Mandalorian is die voorlopers met altesaam 24 benoemings elk, gevolg deur Marvel en Disney Plus se WandaVision met 23 benoemings en Hulu se The Handmaid’s Tale met 21 benoemings.

Die opspraakwekkende Friends: Reunion-program het vier Emmy-benoemings ontvang. Die program is benoem in die kategorie vir beste verskeidenheidsprogram wat vooraf opgeneem is, uitstaande produksieontwerp, uitstaande regisseur van ʼn verskeidenheidsprogram (Ben Winston) en uitstaande beligtingsontwerp.

Courteney Cox. (Foto: Emiley Schweich/Everett Collection/Facebook)

Dit het byna drie dekades geneem vir Courteney Cox, wat die rol van Monica Geller in Friends vertolk, om ʼn Emmy-benoeming vir dié reeks te kry.

Cox was een van die uitvoerende vervaardigers van die reünieprogram saam met die skeppers van die reeks, Marta Kauffman en David Crane, asook medesterre Jennifer Aniston (Rachel Green), Lisa Kudrow (Phoebe Buffay), Matt LeBlanc (Joey Tribiani), Matthew Perry (Chandler Bing) en David Schwimmer (Ross Geller).

Die NBC-komediereeks het tydens sy oorspronklike uitsaaiperiode van 1994 tot 2004 altesaam 62 Emmy-benoemings ontvang.

Aniston het vyf benoemings ontvang voordat sy in 2002 sukses behaal het as beste aktrise in ʼn hoofrol in ʼn komedie.

Kudrow het ses benoemings gekry voordat sy in 1998 aangewys is as beste aktrise in ʼn ondersteunende rol in ʼn komedie.

LeBlanc is in 2002, 2003 en 2004 benoem, Perry in 2002 en Schwimmer in 1995, maar nie een van hulle het ooit gewen nie.

Die 73ste jaarlikse Primetime Emmy-toekennings vind op 19 September plaas en word deur CBS en Paramount Plus uitgesaai. Cedric the Entertainer is die seremoniemeester.

Kyk hier na ʼn volledige lys van benoemings.

Bronne: Emmys.com, Variety.com, Hollywood Reporter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.