Gaan dit die Afri-Visie Top 10 wees?

AfriVisie-beoordelaars

Pierre Greeff, Joe Niemand en Louiso Bala is die beoordelaars van die AfriVisie liedjieskryfkompetisie. Foto: Twitter.com

Die eerste Afri-Visie Skryf ʼn Treffer-kompetisie is nou al goed aan die gang, en die Top 26 is onlangs op kykNet aangekondig.

Die Top 10 sal op 3 Mei by die Grand West Arena in Kaapstad aangekondig word. Ek wil graag sien dat die volgende liedjies (in volgorde van die nommers wat aan hulle toegeken is, en met die naam van die komponis/te in hakies waar dit iemand anders as die sanger of groep is) die eindrondte haal:

  1. 36 woorde– Anneke Hanekom (Anneke Hanekom en Irma Venter)

Die 41-jarige Anneke is van Pretoria afkomstig en haar debuutalbum, Kom nader, is verlede jaar vrygestel. Hierop het sy al gewys dat sy ʼn uiters talentvolle sangeres en liedjieskrywer is, en hopelik sal hierdie liedjie haar groot deurbraak wees. Die boodskap van hierdie liedjie is dat jy nie bang moet wees om vir iemand te sê hoe jy voel nie; as dit te laat is, gaan jy spyt wees daaroor.

https://youtu.be/lgRFCSXIV50

  1. As hy vir jou nog lief was– Christiaan Baardman

Christiaan is nog ʼn deelnemer van Pretoria en is 31 jaar oud. Hy het al ʼn aantal treffers onder sy regte naam, Christiaan Kritzinger, geskryf en opgeneem onder meer Asem en Huppel in my stap, en hy weet hoe om ʼn treffer te skryf. In hierdie liedjie sing hy van gebroke verhoudings, en dat ʼn mens moet aanvaar as ʼn verhouding verby is. Daar is iemand anders wat by jou sal staan.

https://youtu.be/nrr0SUCg6PY

  1. Hemel in jou oë– Janeduke (Emil Struwig)

Die 26-jarige Emil Struwig kom van Johannesburg af, en beskou een van die beoordelaars, Joe Niemand, as sy liedjieskryf-held. Hy het ook al aan die Huisgenoot Tempo-liedjieskryfkompetisie deelgeneem. Hierdie liedjie handel oor liefde met die eerste oogopslag, en dat jy moet sekermaak dat jy die regte en gesonde liefde kry wat by jou pas.

https://youtu.be/t9wha7pIBD8

  1. Lazyboy– Pieter Mohr (Graeme Sacks en Erika Strydom)

Graeme Sacks en Erika Strydom is onderskeidelik 46 en 38 jaar oud en albei is van Johannesburg afkomstig. Hierdie liedjie lewer op ʼn tong-in-die-kies-manier kommentaar oor mense wat menings oor alles het, maar niks anders kan doen as om op die kantlyn te staan nie.

https://youtu.be/–PqHgv7FrQ

  1. Stywer vas– Jaco Nel

Die 35-jarige Jaco Nel is van Mosselbaai in die Wes-Kaap afkomstig. Hier is nog ʼn liedjie wat die potensiaal het om ʼn groot treffer te word, veral onder jonger luisteraars en sy boodskap is dat ʼn mens nie bang moet wees om ʼn kans te waag nie.

https://youtu.be/Eovv8YUKEvA

  1. Na na hey– Lokka Vox (Lokka Vox en Alex DJ)

Lokka Vox is die verhoognaam van die 27-jarige Anki Delport van Benoni. Anki se broer en skoonsuster is Wynand en Lindi Delport, die twee lede van die getroude sangpaar Anders. Sy het die liedjie saam met Alex DJ geskryf, en as ʼn mens eers ʼn paar keer daarna geluister het, kom jy agter dat dit die potensiaal het om ʼn reuse treffer te word. Hierin sing sy van die groot skoolliefde wat weggekom het, en na wie sy nog verlang.

https://youtu.be/ZQIRd3P80bU

  1. Ons het die funk– Maresa en Morné

Maresa May en Morné Smit is van Kuilsrivier in die Wes-Kaap afkomstig en is onderskeidelik 48 en 43 jaar oud. Hierdie liedjie, met Lenny Kravitz-agtige klank (volgens die beoordelaars) dra ʼn positiewe boodskap oor en sal diegene wat negatief is oor die toekoms van Suid-Afrika hopelik twee keer laat dink.

https://youtu.be/gXj5QoJn8O4

  1. Agter die boereworsgordyn-Beer en die Boer (Nico de Beer)

Hierdie liedjie is geskryf deur die 29-jarige Nico de Beer, wat van Boksburg afkomstig is. Hierin sing hy van ʼn klomp mense van “die verkeerde kant van die treinspoor” wat saam kruier en die lewe geniet. Volgens hom moet ʼn mens nie die lewe té ernstig opneem nie en jy kan ook nou en dan toelaat dat jou “inner-zefness”, soos hy dit stel, na vore kom.

https://youtu.be/vKjyUxtEGuw

  1. Laat dit reën– Louis Fivaz (Pieter Krugel)

Die 53-jarige Pieter Krugel kom van Vanderbijlpark en beskou Pierre Greeff as sy gunsteling beoordelaar omdat hy, soos Pierre, sy liedjies as sy kinders beskou. In hierdie liedjie sing hy van elke mens se manier om verlore liefde te verwerk, en dat die stilte kan die Karoo soms nodig is daarvoor.

https://youtu.be/ZNTo6mYP4Cc

  1. Vas dans– ShoNeill

ShoNeill is 28 jaar oud en woon in Secunda. In hierdie liedjie sing sy van ʼn algemene verskynsel by ʼn sokkie; ʼn meisie wat eenkant sit en wag dat ʼn man haar voete onder haar sal uitslaan deur haar te vra om te dans.

https://youtu.be/MdgIjYWBuEM

 

Dit is ongelukkig te vroeg om te sê of, en indien wel wanneer, die geleentheid op televisie uitgesaai sal word en of ʼn CD van die Top 10, of dalk die Top 26, vrygestel sal word, maar ʼn mens kan net hoop dat dit gou sal gebeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.