‘Game of Thrones’ dán weer op die kassie

Kit Harington as Jon Snow in Game of Thrones (Foto: Game of Thrones)

Die Amerikaanse televisiekanaal HBO het bevestig dat die gewilde TV-reeks Game of Thrones weer vanaf 2019 op die kassie uitgesaai sal word.

Aanhangers van dié reeks sal langer as ʼn jaar vanaf die slotepisode van die sewende reeks moet wag om die jongste gebeure by die sewe koninkryke van Westeros te sien. Kykers sal moontlik selfs langer as ʼn jaar moet wag, aangesien HBO nié bevestig het in watter maand die reeks na die kassie terugkeer nie.

Die agtste en finale seisoen sal uit slegs ses episodes bestaan. HBO het vroeër bevestig dié reeks sal onthul wie die oorlog vir die sogenaamde ‘Irone Throne’ wen en as leier van die sewe koninkryke sal regeer.

Volgens die verklaring van die televisiekanaal het die voorproduksie vir die reeks reeds in Oktober verlede jaar begin. Die verfilming sal egter nog tot in die middel van 2018 voortduur.

Casey Bloys, HBO se hoof van programme, het gesê verskeie sloteindes sal vir die agtste seisoen verfilm word om te verhoed dat die einde van die reeks uitlek. Dit volg nadat dié kanaal in Augustus verlede jaar ʼn slagoffer van kuberkrakers was. Data van meer as 1,5 TB groot, wat glo verskeie episodes van die reeks ingesluit het, is in die voorval gesteel.

David Benioff en DB Weiss, wat as regisseurs vir die laaste seisoen gaan optree, het vroeër gesê hulle beoog om die finale reeks so “skouspelagtig as moontlik” te maak.

Meer as 30 miljoen kykers oor verskillende platforms het elke episode van die sewende seisoen van dié reeks gekyk.

Hoewel die reeks reeds verder gevorder het as die boeke, sal George RR Martin, die skrywer van die oorspronklike boeke, na alle waarskynlikheid in 2018 twee nuwe boeke vrystel.

Bron: Reuters

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.