‘Game of Thrones’ neem voortou by Emmy-nominasies

Ken Jeong (links) en D’Arcy Carden op 16 Julie 2019 tydens die aankondiging van die nominasies vir die 71ste Primetime Emmy-toekennings by die Saban-mediasentrum in Los Angeles. (Foto: Richard Shotwell/Invision/AP)

Vanjaar se toekenningseisoen het afgeskop met die aankondiging van die nominasies vir die 71ste Primetime Emmy-toekennings.

Soos verwag het die gewilde HBO-reeks Game of Thrones die voortou geneem met ʼn allemintige 32 nominasies, insluitend individuele nominasies vir die reeks se akteurs en filmspan.

Gwendoline Christie wat die rol van Brienne of Tarth vertolk, Lena Headey wat as Cersie Lannister te sien is, Sophie Turner in die rol van Sansa Stark, en Maisie Williams wat die rol van Arya Stark vertolk, is almal vir beste ondersteunende aktrise in ʼn dramareeks genomineer.

Alfie Allen (Theon Greyjoy), Nikolaj Coster-Waldeau (Jamie Lannister) en Peter Dinklage (Tyrion Lannister) is op hul beurt almal vir beste ondersteunende akteur in ʼn dramareeks genomineer.

Kit Harington (Jon Snow) het ʼn nominasie as beste akteur in ʼn hoofrol losgeslaan en Emilia Clarke (Daenerys Targaryen) is as beste aktrise in ʼn hoofrol genomineer.

Emilia Clarke as Daenerys Targaryen in ʼn toneel uit die laaste episode van “Game of Thrones”. (Foto: HBO via AP)

In die kategorie beste dramareeks sal Game of Thrones met Better Call Saul, Bodyguard, Killing Eve, Ozark, Pose, Succession en This Is Us meeding.

ʼn Nominasie wat egter die wenkbroue laat lig het, is die reeks se finale episode “The Iron Throne” wat vir uitstekende skryfwerk in ʼn dramareeks genomineer is. Dié nominasie kom as ʼn verrassing aangesien talle aanhangers erg ontevrede en teleurgesteld was met die finale episode van die reeks.

Nog ʼn voorloper in die Emmy-nominasies is Amazon Prime se The Marvelous Mrs. Maisel wat 20 nominasies ontvang het, onder meer vir beste komediereeks. Rachel Brosnahan is genomineer as beste aktrise in ʼn hoofrol vir haar vertolking van Miriam “Midge” Maisel in die reeks, terwyl Marin Hinkle genomineer is as beste ondersteunende aktrise.

Rachel Brosnahan as Midge Maisel in “The Marvelous Mrs. Maisel.” (Foto: Nicole Rivelli/Amazon via AP)

Die sangeres Beyoncé is waarskynlik heel ingenome met die nominasies nadat Homecoming: A Film by Beyoncé altesaam ses nominasies ontvang het. Homecoming: A Film by Beyoncé is ʼn fliek oor Beyoncé se optrede by die 2018 Coachella Valley Music and Arts Festival, en is deur die sangeres geskryf, geredigeer en vervaardig. Die film is onder meer genomineer vir beste musiekregisseur, beste produksieontwerp en beste kostuums in ʼn verskeidenheidsreeks.

Die BBC-reeks Fleabag het altesaam 11 nominasies ingepalm, die sitkom Schitt’s Creek is in vier kategorieë genomineer en die saggeaarde Marie Kondo is genomineer vir haar bekende huisskoonmaakreeks Tidying Up with Marie Kondo.

Mandy Moore is genomineer vir haar rol as Rebecca Pearson in “This Is Us”. (Foto: Ron Batzdorff/NBC via AP)

Mandy Moore, wat skitter in haar rol as Rebecca Pearson in die aangrypende This is Us, is genomineer as beste hoofaktrise in ʼn dramareeks. Sterling K. Brown wat die rol vertolk van die volwasse Randall Pearson in This is Us, is as beste hoofakteur in ʼn dramareeks genomineer.

Die 2019 Emmy-toekennings sal op 22 September uitgesaai word.

Klik hier vir die volledige lys nominasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.