Gekys of enkellopend: Só gaan dit met die boere

Boer Jacques en Corné (Foto: kykNET)

Die tiende reeks van kykNET se gewilde Boer soek ʼn vrou-werklikheidsprogram het Donderdagaand tot ʼn einde gekom.

Uit die slotepisode van dié reeks blyk dit dat slegs drie van die top 10-boere wel liefde gevind het: Boer Adriaan en sy Helene wat volgens die ander boere “smoorverlief” is, boer Willie en sy Johanné en boer Jacques en Corné.

Die boere het vir dié episode by die Devon Valley-hotel buite Stellenbosch in die Wes-Kaap bymekaar gekom om met aanbieder Minki van der Westhuizen te gesels oor hul winste én verliese tydens die verloop van die tiende seisoen.

Só het die reünie verloop:

Boer Adriaan en Helene (Foto: kykNET)

Boer Adriaan en Helene
Boer Adriaan en Helene het aan Minki vertel dat dit “baie goed” met hul verhouding gaan. Die ander boere het dié paartjie as die verliefste bestempel en boer Braam het selfs gesê dat hy hoop om na die troue genooi te word.

Minki het gesê hulle is die “perfekte voorbeeld” dat Boer soek ʼn vrou werk en dat dit ʼn suksesvolle platform is vir twee mense om liefde te vind en bymekaar uit te kom.

“In ons geval het dit so uitgewerk, want ons albei was op die regte plek in ons lewens. Ons albei het geweet hoekom ons ingeskryf het vir die reeks. As jy inskryf vir TV-blootstelling of net om mense te ontmoet of net vir die game daarvan, kan dit vir jou óf baie lekker óf baie sleg wees. Die rede hoekom dit vir my en Adriaan so uitgewerk het, is omdat ons van die begin af geweet het [wat ons wou hê],” het Helene vertel.

Boer Willie en Johanné (Foto: kykNET)

Boer Willie en Johanné
Boer Willie het by die reünie opgedaag saam met Johanné – ʼn meisie wat nié vir hom ʼn brief geskryf het nie.

Volgens Willie het hulle in Potchefstroom ontmoet, maar dat sy hom “as gevolg van die program herken het”. Hy het aan Minki gesê hy het nooit gedink dat liefde nié vir hom tydens die reeks beskore was nie, maar dat hy eerder ʼn meisie sou ontmoet wat op sy voorstoep woon. “Ek het nie gedink ek sou so gelukkig wees nie, maar dinge het toe mooi uitgewerk. Dis baie lekker dat sy so naby is, dit werk vir ons baie goed in die stadium,” het hy vertel.

“Ons kom goed oor die weg,” het Johanné aan Minki vertel. “Ons pad goed bymekaar en my ouers love hom. Hy is baie ordentlik.”

Die paartjie het reeds mekaar se ouers ontmoet. Willie het gesê hulle is “eksklusief” en in ʼn verhouding, en dat daar “ʼn plan” is vir die toekoms.

Boer Jacques en Corné (Foto: kykNET)

Boer Jacques en Corné
Daar heers steeds onsekerheid of boer Jacques en Corné wel in ʼn verhouding is. Hulle kom volgens die ander boere verlief voor, maar het oënskynlik nog nie oor verhoudingsake gepraat nie. Die ander boere het boer Jacques en Corné as “geheimsinnig” beskryf omdat dit voorkom asof hulle verlief is, maar dit nié aan die boere wil erken nie. Hulle het verskeie kere gesê hulle is net vriende, maar volgens boer Ruan sê hulle die heeltyd vir mekaar “engel, druk mekaar en gee soentjies” – iets wat volgens hom nié tussen vriende gebeur nie.

Boer Jacques het voorheen aan Minki gesê dat hy bekommerd is oor die afstand tussen hom en Corné, maar tydens die slotepisode van die reeks gesê dat hulle mekaar nog net twee dae nié gesien het nie.

Minki het gesê “die hele hemelruim werk saam” om hulle by mekaar te kry en te hou. “Ons vat dit dag vir dag – nie te vinnig te veel nie – as ons mekaar nou nog nie grys gemaak het nie, sal ons goed oor die weg kom, en ons kom goed oor die weg. Ons geselskap raak nie op nie en ons raak nie moeg vir mekaar nie,” het Jacques vertel.

Boer Johan (60) Foto: Verskaf

Boer Johan
Boer Johan het alleen by die reünie opgedaag. Hy het gesê die reeks het hom laat besef “God is betrokke” wanneer twee mense bymekaar gebring word. Hy het vertel hy het vrede oor sy egskeiding gekry en dat hy deur die proses besef het dit wat hy is en dit wat hy wil hê, “nié verander het nie”.

“Omdat God werklik betrokke was by hierdie saak in my lewe, moes sekere goed gebeur. Ek het niks verstaan soos dit uitgespeel het nie. As ek vandag terugkyk, pas die legkaart inmekaar,” het hy gesê.

Johan sê die reeks het sy “denkpatroon geskuif” en dat hy tydens die reeks heel geword het ná die egskeiding. Hy het gesê “daar is iemand op die horison” maar dat dit “self sal uitspeel”.

Boer Heleen
Boer Heleen het ook alleen by die reünie opgedaag. Sy het aan Minki gesê sy het nié die briewe wat aan haar geskryf is, opgevolg nie omdat die “man ʼn jagter is” en dat sy hulle dus nie kan kontak nie. “Ek voel ek wys myself en stel myself beskikbaar en hulle moet my maar kontak en dan vat ons dit van daar af. Daar het niks gebeur nie,” het sy vertel.

Boer Ruan en Bianca (Foto: kykNET)

Boer Ruan en Bianca
Boer Ruan en Bianca het nié in ʼn “romantiese kapasiteit” – soos hulle daarna verwys – by die reünie opgedaag nie. Ruan het tydens die voorlaaste episode van die reeks gesê dat hy dink Bianca voel iets vir hom, maar dat hy die “skuldige een is wat nie iets terug voel nie”.

“Ons het ʼn goeie vriendskap gevorm,” het Bianca aan Minki gesê. “Ons het baie kontak met mekaar – as ons ʼn dag nie met mekaar praat nie voel dit half snaaks,” het Ruan vertel. “Ons is baie oop met mekaar. Ons sal byvoorbeeld vir mekaar sê as ons iemand ontmoet en as ek in Pretoria kan kom, sal ek beslis ʼn draai by haar maak.”

Volgens hulle het die boere se Mosambiekse vakansie hulle vriendskap, en ook sy vriendskap met die ander boere, “baie hegter gemaak”. Ruan het ook gesê Bianca het “nog kwaliteite bygesit” by die vrou wat hy eendag sou wou hê – kwaliteite waaraan hy glo nie gedink het nie. “Sy het dit vir die volgende meisie bietjie moeiliker gemaak,” het hy gesê.

Boer Eben
Boer Eben het toe nié met die “lieflike donkerkopdame” – soos Minki na een van die meisies wat vir hom ingeskryf het verwys het – opgedaag nie.

Hy het aan Minki vertel hy het een van die meisies wat ʼn brief aan hom geskryf het na die plaas genooi en dat alles “goed uitwerk het” tot sowat twee weke vantevore. Volgens hom het hulle verhouding verbrokkel as gevolg van omstandighede waarvan afstand die grootste faktor was. “Ons was redelike ernstig en sy was bereid om plaas toe te trek, maar ons het klomp goed oorweeg en besef dat dit nie kan uitwerk nie,” het hy vertel.

Boer Eben en boer Carl (Foto: kykNET)

Boer Carl
Boer Carl, wat ook alleen by die reünie opgedaag het, het die brief van ʼn “baie oulike meisiekind” opgevolg. “Ons het baie lekker gekuier en ek was by haar op die plaas en dit het vir sowat twee of twee en ʼn halwe maande aangehou. Dinge het nie uitgewerk soos ʼn mens sou hoop nie, maar ek glo alles gebeur met ʼn doel.”

Boer Carl het aan Minki gesê dat hy “definitief nog een of twee meisies” wat aan hom geskryf het wil ontmoet en dat hy hulle sal kontak wanneer hy weer op die plaas is.

Boer Stoffel
Boer Stoffel het aan Minki gesê hy het van die briewe opgevolg, maar dat daar nie met een van die vroue “ʼn spark” van sy kant af was nie. Hy het gesê hy het die briewe van drie van die meisies opgevolg en net een van die meisies vir ʼn tweede keer gesien. “ʼn Mens sal met iemand se gevoelens speel as jy net aanhou om hulle te sien [as daar nie wedersydse gevoelens is nie]. Ek is bly ek het die briewe opgevolg, dit het my so klein bietjie meer vrymoedigheid gegee.”

Boer Stoffel en boer Braam (Foto; kykNET)

Boer Braam
Hoewel boer Braam nie saam met ʼn meisie by die reünie opgedaag het nie, het hy gesê hy is nou baie meer gemaklik om ʼn meisie te nader.

Braam het gesê wat hy uit dié reeks geleer het, is dat twee partye eerlik moet wees oor hulle gevoelens. “Partykeer dink mens jy beskerm die persoon, maar mens moet maar net eerlik wees. Ons is almal groot en kan die punch vat. Doen dit net en kry dit verby,” het hy vertel. Sy raad aan die boere in die nuwe reeks: “Doen dit net en skryf net in!” Hy het ook gesê dié program het sy selfvertroue ʼn hupstoot gegee – iets wat waarskynlik sal verseker dat hy ʼn meisie sal nader sonder die hulp van ʼn werklikheidsreeks.

Nóg ʼn seisoen
Inskrywings vir die 11de reeks van Boer soek ʼn vrou het onlangs geopen. Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 9 Februarie bereik. Lees meer oor die reeks op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.