Germandt oor skoknuus vir Louis, Delia in ‘Binnelanders’

Germandt Geldenhuys as Louis Koster in ‘Binnelanders’. (Foto: Verskaf)

Sedert Delia Richter (Odelle de Wet) in Augustus vanjaar in die kykNET-sepie Binnelanders die nuus bekend gemaak het dat sy swanger is, bespiegel en skinder kykers – en Binneland se personeel – oor wie moontlik die pa van haar kind kan wees.

Eers het die gerugte geloop dat dit dr. Brandon Samuels (Zane Meas) is, tot sy dogter Chanel (Lindsey Abrahams) se groot ontsteltenis – veral toe sy uitvind Brandon en haar ma se huwelik is op die rotse.

Dr. Conrad Bester (Hykie Berg), met wie Delia in ʼn kortstondige verhouding was, was ook onder verdenking en selfs dr. Franz Basson (Dawid Minnaar), wat reeds jare lank in Kanada woon en werk, het onder die skindertonge deurgeloop.

Uiteindelik het Delia bekend gemaak dat sy ʼn Koster-baba verwag – sy het Malan Koster (Paul du Toit), die groot liefde van haar lewe wat in ʼn motorongeluk gesterf het, se sperm laat vries. Sy het eers gedink die sperm is vernietig in ʼn brand by die Southern Hope-hospitaal, maar nadat die criobank haar laat weet het hulle het dié sperm opgespoor, het sy dit laat inplant.

Ongelukkig was die sperm met die verkeerde Koster-naam gemerk, en het Binnelanders-kykers en Louis Koster (Germandt Geldenhuys), dr. At Koster (Hans Strydom) se broer, die skok van hulle lewens gekry toe hulle uitvind dat hy eintlik die pa van Delia se kind is.

Delia Richter, vertolk deur Odelle de Wet, ontvang die skoknuus wat haar wêreld op sy kop keer. (Foto: Verskaf)

Louis se sperm is ook in die criobank gevries, want hy en sy vrou, Naomi (Je-Ani Swiegers), sukkel om natuurlik swanger te raak en is besig met in vitro-bevrugting (IVB). Louis, wat nou die spilpunt van die skoknuus is, kry dit ook nie oor sy hart om dit met Naomi te deel nie.

Intussen is Delia skoonveld en Rian (Erik Holm), Delia se goeie vriend, wil vir niemand sê waarheen sy gevlug het nie.

Germandt Geldenhuys, wat die rol van Louis vertolk, lag wanneer hy aan Maroela Media vertel dat dié boeiende storielyn kykers só in vervoering het dat selfs sy eie gesinslede hom smeek vir leidrade oor wat volgende gaan gebeur.

“Eers het ek gedink dit is ʼn baie vergesogte storielyn, maar nadat ek ʼn bietjie navorsing gedoen het, het ek besef dat dit tog iets is wat gebeur,” sê Geldenhuys en verwys na ʼn spesifieke geval wat onlangs die nuus gehaal het waar ’n embrio na bewering by ʼn Amerikaanse kliniek verkeerdelik ingeplant is en die vrou eindelik geboorte aan vreemdelinge se baba gegee het.

“As mense is ons nuuskierige wesens en met ʼn sepie soos Binnelanders, waar ons karakters so deel raak van mense se daaglikse lewens en later vir kykers voel soos naasbestaandes, is dit onafwendbaar dat ʼn storielyn soos dié mense aan die gons gaan hê,” sê Geldenhuys.

“Mense hanteer dit amper soos ʼn speurverhaal en ek moet hier vir die skrywers van Binnelanders erkenning gee vir die ongelooflike skryfwerk wat hulle gedoen het om mense te laat aanhou raai sonder om iets weg te gee.”

Hy vertel dat mense uiteraard geskok en dalk selfs kwaad sal wees oor die rigting wat die storielyn ingeslaan het.

Odelle de Wet as Delia Richter in ‘Binnelanders’. (Foto: Verskaf)

“Veral omdat mense so lief is vir Louis en Naomi as karakters en as ʼn paartjie, en niemand weet hoe dié skokwending hulle as egpaar en as gesin sal beïnvloed nie,” sê hy.

Hy vertel wat bydra tot die intrige van die storie, is dat kykers elkeen van die karakters se perspektiewe en standpunte kan insien.

“Delia wil net haar kind beskerm, Rian wil net ʼn goeie vriend vir Delia wees en Louis wil net die vrede bewaar terwyl hy aan die een kant bekommerd is oor Naomi, maar aan die ander kant ook so opgewonde is dat hy uiteindelik die kind wat hy so lank al begeer, gaan kry, al is dit saam met die verkeerde vrou.”

Dit is die krag van goeie storievertelling, voeg Geldenhuys by. “As akteurs moes ons ook met soveel nuanses speel, want ons moet ʼn storie vertel en emosies weergee sonder om iets te sê.”

Hy vertel dat daar ʼn ander energie op die stel is, veral noudat hy die geleentheid kry om teenoor mense soos De Wet en Holm te speel.

“Dit is vir al drie van ons ʼn baie opwindende storielyn, want daar is geen regte antwoorde nie. Daar is soveel grys areas wat ondersoek moet word en ons moet as akteurs daardie beelde kan skep sonder om iets weg te gee.”

Germandt Geldenhuys as Louis Koster in ‘Binnelanders’. (Foto: Verskaf)

Geldenhuys, wat ook ʼn sangstem van formaat het, se weergawe van die gewyde lied “Kom alle getroues” is opgeneem vir die kykNET-Kersfeesalbum getiteld ʼn Ster vir Kersfees, wat Kersliedjies deur ʼn verskeidenheid glanspersoonlikhede bevat.

Dié liedjie sal ook op 24 Desember in Binnelanders te hoor wees. “Ek en die uitstekende musiekvervaardiger Sean Butler het saam die liedjie verwerk en sover ontvang ons baie goeie terugvoer van diegene wat dit reeds gehoor het. Dit was ʼn baie lekker musiekprojek ten bate van liefdadigheid en ek wil graag mense aanmoedig om na die liedjie én album te luister.”

“Kom alle getroues” deur Germandt Geldenhuys is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Binnelanders is elke weeksaand om 19:30 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.