Gesinne ding mee op nuwe kykNET-opwipkanaal

‘Kwarantyn’ saai vanaf Woensdag 10 Junie uit.

Twee uitgebreide Afrikaanse gesinne, wat mekaar van geen kant af ken nie, gaan van Woensdag 10 Junie in ʼn splinternuwe werklikheidsreeks, Kwarantyn, teen mekaar meeding om as die gewildste gesin onder kykers gekroon te word en ʼn kontantprys van R250 000 los te slaan.

Kwarantyn sal op ʼn spesiale opwipkanaal, DStv-kanaal 149 vir Premium- en Compact PLUS-kykers, uitgesaai word. Die program sal 24 uur per dag uitgesaai word.

Maandae tot Saterdae sal daar daagliks om 17:00 ʼn hoogtepunteprogram op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word. Op Woensdae saai ʼn langer hoogtepunteprogram om 20:00 op dié kanaal uit.

Die Le Roux-gesin van Centurion en die saamgestelde Scheepers-familie van Johannesburg sal in ʼn nuwe huis intrek en langs mekaar woon. Hulle sal agter slot en grendel verskillende uitdagings, take en selfdoenprojekte aanpak en kykers sal ná 50 dae die wenners bepaal deur te stem.

Nie net moet die gesinne vir 50 dae saam leef nie, maar hulle sal ook onder meer volgelinge op sosiale media moet werf en elke aand in ʼn speletjiesaand-uitdaging teen mekaar speel vir punte. Suksesvolle uitdagings sal soms beloon word met luukshede en bederfies. In elke huis sal egter ook streng reëls neergelê word.

“Dit is ʼn sosiale eksperiment en die gesinne het eintlik soveel raakpunte,” sê Suzaan Keyter, senior bemarkingsbestuurder van M-Net.

Sy voeg by dat die program slegs soortgelyk is aan Big Brother omdat kykers die gesinne 24 uur per dag kan dophou. “Ek kan nie wag vir ons kykers om die gesinne te leer ken nie.”

Karen Meiring, direkteur van kykNET-kanale by M-Net, sê die program gaan sorg vir groot opwinding en vermaak.

“Voyeuristiese televisie het kykers nog altyd gefassineer en om twee dinamiese Afrikaanse gesinne 24 uur per dag vir 50 dae aaneen dop te hou, kan sorg vir groot opwinding en vermaak, maar ook emosionele oomblikke, nuwe insigte en verrassings. Ons weet nie wat om te verwag nie, maar ons sien uit om vas te stel waarmee die twee spanne vorendag gaan kom,” sê Meiring.

Ontmoet die gesinne

#SpanLeRoux

Die Le Roux-gesin. (Foto: Verskaf)

Dié uitgebreide gesin kom van Centurion. Pa Braam le Roux (50) sal graag vir sy dogter se troue wil betaal met die wengeld indien sy gesin wen.

Hy raak nie maklik verveeld nie en beklemtoon geesdriftig: “Ek is ’n bok vir sports.” Sy vrou, Jana le Roux (49), lag graag vir haar gesin se grappe en geite, maar glo vas haar gesin se spangees en ywer sal hulle as wenners laat uitstap.

Hulle kinders, Lisa (25) en Manie le Roux (19), hou albei van wen, maar is ook nie slegte verloorders nie. Lisa is verloof aan Adriaan Briel (26), wat ook in die huis sal wees saam met sy aanstaande skoonfamilie. Hy is mal oor poetse bak en sê hy’s nie bang vir verveling nie, want hy het uithouvermoë.

Hulle neef Heinrich Olwage (25) is ook deel van #SpanLeRoux. Hy hou daarvan om op ʼn innoverende wyse probleme op te los en belowe dat sy span kykers voorwaar op hulle tone gaan hou.

#SpanScheepers

Die Scheepers-familie. (Foto: Verskaf)

Dié saamgestelde familie is oorspronklik van Johannesburg. Ma Avril Scheepers (46) en tante Pamela Okkers (53) sal hierdie energieke span lei. Albei is sterk vroue wat oortuig is daarvan dat hulle as wenners sal uitstap, want al die spanlede is talentvol, interessant en baie snaaks.

Avril se seun, Austin Scheepers (19), se borrelende persoonlikheid gaan verseker dat hy vriendskappe smee al bly hy steeds uiters mededingend. #Span Scheepers bestaan ook uit hulle uitgebreide familievriende, naamlik die twee Hendricks-sussies, Kel-cee (20) en Jade (18), wat na hulself verwys as “die niggies”.

Kel-cee is ietwat aan die stiller kant en beskryf haarself as “die persoon wat liewer kyk en lag”. Die jong Jade Hendricks glo #SpanScheepers is vol persoonlikhede wat die hele land sal vermaak met hulle grappe, giere en maniere. Die span is voltallig met die teruggetrokke Caryn Cloete (21) wat maklik vir almal se poetse val.

Kwarantyn saai vanaf Woensdag 10 Junie 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 149, uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tong in die kies ·

Hoekom kan die program nie op showmax ook uitgesaai word nie.
Ek beist nie ‘n tv nie en kyk maar showmax.
Dstv het net te duur geword en is absoluut net ‘n luukse

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.