‘Getroud met rugby’ hang tokse op

Die rolverdeling van ‘Getroud met rugby’. (Foto: Verskaf)

Die kykNET-sepie Getroud met rugby sal ná ses seisoene in September vanjaar beëindig word.

Luidens ’n verklaring deur kykNET is dié “moeilike besluit” geneem ná deeglike oorweging en navorsing.

“Die aankondiging volg ná gesprekke met die vervaardigers waarin ooreengekom is dat kykNET die huidige produksiekontrak met ses maande verleng om die span en produksie die kans te bied om toekomsplanne te maak,” lui die verklaring.

“Ons gaan saam met kykers in September vanjaar met ’n swaar hart van die Stryders en hul wel en wee afskeid neem. Die veranderende televisielandskap noop ons soms om wysigings te maak, maar dit bring ook nuwe geleenthede en nuwe stories mee.”

Volgens Waldimar Pelser, direkteur van kykNET-kanale, bedank dié kanaal die skrywer Deon Opperman, Overberg Produksies en elke akteur en lid van die produksiespan wat sedert 2009 ’n bydrae gelewer het tot die merkwaardige sukses van dié eg Suid-Afrikaanse program.

Die manlike rolverdeling van ‘Getroud met rugby’. (Foto: Verskaf)

“Dit is kykNET se wens om die goeie werksverhouding met die vervaardigers, talent en produksiespan van Getroud met rugby ná afsluiting van hierdie hoofstuk voort te sit – ’n hoofstuk waarop ons glo die hele Getroud met rugby-span geweldig trots kan wees,” sê Pelser.

Getroud met rugby is aanvanklik in 2009 as ’n dramareeks van 13 episodes op kykNET uitgesaai. Dié reeks, wat afspeel in die fiktiewe wêreld van die Stryders-rugbyspan, is geskep deur Deon Opperman en Hanli Rolfes.

Ná vyf dramareekse is Getroud met rugby in 2016 in ’n daaglikse sepie omskep. Oor die afgelope 14 jaar het die reeks en sy karakters diep in kykers se harte gekruip, met sterk rolverdelings en storielyne. Die plaaslike kroeg, Pottie’s, was ook al die bymekaarkomplek vir talle spesiale optredes deur van Suid-Afrika se voorste Afrikaanse kunstenaars.

‘Getroud met rugby’ gaan in September tot ‘n einde kom. (Foto: Verskaf)

Opperman, skepper en vervaardiger van die reeks, sê hy is “innig dankbaar” aan kykNET wat alles moontlik gemaak het.

Getroud met rugby was die afgelope 14 jaar ’n enorme deel van my lewe as skrywer en vervaardiger,” sê hy.

Die laaste opnames sal in Julie vanjaar plaasvind, maar die reeks sal steeds tot 30 September vir kykers op kykNET (DStv-kanaal 144) beskikbaar wees.

Getroud met rugby is elke weeksaand om 18:00 te sien. kykNET kan nie in hierdie stadium bevestig watter inhoud dié tydgleuf sal vul nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jakes ·

Ek is bly dat die sepie van die kassie af verdwyn. Die storielyne raak absurd en is seker van die verveligste denkbaar.

Loveydove ·

Gaan dit regtig nie mis nie, hoop nie hulle vervang dit met n oorgeklankte buitelande soapie nie :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.