‘Getroud met rugby’: Nuwe seisoen, nuwe gesigte

Christel van den Bergh as Renate, Marlee van der Merwe as Kristien en Zetske van Pletzen as Julia in ‘Getroud met rugby’. (Foto: Facebook/Getroud met rugby – kykNET)

Die vyfde seisoen van die kykNET-sepie Getroud met rugby het Maandag afgeskop ondanks die aanpassings en uitdagings wat die Covid-19-pandemie vir die produksiespan teweegbring.

Kykers kan uitsien na nog meer intrige, romanse en baie drama. “Getroud met rugby gaan kykers oor die volgende paar maande op ʼn wipwarit neem. Verwag liefdesdriehoeke, interessante nuwe karakters, pragtige nuwe stelruimtes, gesondheidskwessies en ʼn troue of twee,” verklap Soné Combrink, uitvoerende vervaardiger van die sepie.

Saam met die bekendstelling van die vyfde seisoen, het Getroud met rugby die akteur Theodore Jantjies by die Stryders verwelkom. Jantjies vertolk die rol van Jordan James, die Stryders se nuwe kondisioneringsafrigter. Jordan is pas terug van Nieu-Seeland, waar hy ná ʼn tragiese gebeurtenis ʼn ruk lank gaan woon en werk het.

Claudia Jones as Candice en David Johnson as Liam in ‘Getroud met rugby’. (Foto: Facebook/Getroud met rugby – kykNET)

Volgens Jantjies is hy baie opgewonde oor dié rol. “Dit is ʼn rol wat ek nog nie op die verhoog of selfs op skerm vertolk het nie. Dit is heeltemal anders as waaraan ek gewoond is.”

Die ekonomiese klimaat wat tans wêreldwyd heers, laat die Stryders ook nie onaangeraak nie. Bart (Pierre Breytenbach) het sy hande vol om die span se toekoms te verseker terwyl hy ook verbete vir Kristien (Marlee van der Merwe) se hart baklei.

Amanda (Natasja Jacobs) keer terug nadat sy vroeër vanjaar koue voete gekry het toe Reitz (Sean van Noordwyk) volgens haar te ernstig wou raak. Gaan sy hom hierdie keer ʼn kans gee?

Ryno (Adrian Steyn) en Thinus (Arno Marais) se huwelik word getoets wanneer Ryno besluit om ʼn klerereeks saam met die mode-ontwerper Anton (Tiaan Kelderman) te begin. Sal ware liefde oorwin?

Christel van den Bergh as Renate in ‘Getroud met rugby’. (Foto: Facebook/Getroud met rugby – kykNET)

ʼn Ongemaklike situasie ontstaan wanneer Simon (David Louw) sy ma, Yvonne (Karin Retief), aan Lulu (Ansu Visser) se alternatiewe ouers (Gretha Brazelle en Jürgen Hellberg) voorstel. Candice (Claudia Jones) en Liam (David Johnson) se verhouding blom, totdat Candice se ma, Priscilla (Shemane Harris), by die Willemses kom loseer en daarop aandring om in Candice se sukses te deel.

ʼn Splinternuwe humoristiese karakter, Nesie (Melissa Massyn), trek by die Beltrames in. Dié interessante jong vrou, ʼn kennis van Festus en Koekie se vriend se niggie, gaan kykers laat skaterlag. Nesie se onkonvensionele lewensuitkyk en reguit manier van leef gaan boonop ʼn teddiebeer-Stryder se hart laat smelt.

“Om ʼn groot produksie soos Getroud met rugby vir kykNET te kan vervaardig, is reeds ʼn voorreg vir ʼn skrywer en vervaardiger,” sê vervaardiger Deon Opperman.

Marlee van der Merwe as Kristien in ‘Getroud met rugby’. (Foto: Facebook/Getroud met rugby – kykNET)

“Om dit dan vir vyf jaar te kan doen, is werklik ʼn besonderse voorreg. Toe ek jare gelede aan die eerste seisoen van die destydse dramareeks geskryf het, het ek nooit kon dink dat die storie so ʼn lang leeftyd sou hê nie. My opregte dank en waardering aan kykNET en al die honderde kunstenaars wat oor die jare tot Getroud met rugby se sukses bygedra het.”

Getroud met rugby is weeksdae om 18:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

  • Kyk hier na ʼn volledige video-onderhoud op kykNET se webwerf, waar Jantjies meer oor sy nuwe karakter verklap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
AmY

Lekker lekker.
Ek is mal oor Getroud Met Rugby.