‘Getroud met rugby’ se Nesie oor dié nuwe rol

Melissa Massyn as Nesie in ‘Getroud met rugby’. (Foto: Willem Botha)

“Of jy nou van haar hou of nie, niemand kan stry dat sy nie vermaaklik is nie.”

Só sê die jong aktrise Melissa Massyn oor haar voorbarige karakter, Euvoniqué Griesel, of Nesie soos sy alombekend is, in die gewilde kykNET-sepie Getroud met rugby.

Massyn het reeds in 2011 in Afrikaanse fliekgangers se harte gekruip as die snipperige, voor op die wa Susan Vivier, oftewel Susatan, in die komedie Hoofmeisie.

Sy het ook later die rol van Katie in die dramareeks Erfsondes vertolk en was te sien in die rolprent Agent 2000: Die laksman.

“Die kykers is tans nog verdeeld oor haar, maar hulle moet net ontspan en haar geniet,” sê Massyn.

Nesie het onlangs deel van die storie geraak toe sy vir oom Festus (Louis van Niekerk) en tannie Koekie (Rina Nienaber) gevra het of sy saam met hulle in Maryke (Marijke Coetser) en Fafa (Altus Theart) se huis kan bly terwyl sy in Johannesburg aan ʼn sangkompetisie deelneem.

“Sy kom ook van die ‘squat’ af, soos hulle dit noem. Sy is ʼn ekstrovert met baie selfvertroue en voel sy is gebore om famous te wees. Sy sal enigiets doen waardeur sy mense kan vermaak.”

Hoewel sy nie te veel daaroor kan sê nie, verklap Massyn wel dat Nesie die aandag van ʼn geliefde Stryder-rugbyspeler trek en dat sy dalk een van die dae haar helder, eksentrieke kleredrag vir ʼn Pompom-meisie se uniform gaan verruil.

Nesie helder die lewens van die Stryders op met haar eksentrieke persoonlikheid. (Foto: kykNET)

“Een ding waaroor Nesie nie ʼn valse gevoel van selfvertroue het nie, is die feit dat sy kan dans. Ek weet nie of sy lekker by die Pompoms inpas nie, want hulle is ʼn baie streng groepie, maar sy druk beslis haar stempel af,” sê sy.

“As kunstenaar is dit altyd vir my lekker om rolle te speel wat nie net alledaags is nie. Ek word elke dag uit my gemaksone gedaag. Dit is ʼn groot geleentheid om in die sepie te kan speel. Die storie het baie drama en dit is vir my lekker om [in die rol van Nesie] komiese verligting te bring.”

Massyn sê sy het van dag een af deel gevoel van die Getroud met rugby-familie. Christel van den Bergh, wat die rol van Renate vertolk, was saam met haar in Hoofmeisie te sien en Kate Roothman, wat tot onlangs te sien was as Anna, is haar beste vriendin.

“Die ervaring om deel te wees van die span is regtig baie lekker,” sê sy.

Sy voeg by dat sy daarvan hou as mense nou nog na haar karakter in Hoofmeisie verwys. “Ek is ʼn groot aanhanger van flieks en kuns en is baie passievol daaroor; so, as iemand jou jare later nog in gedagte het in ʼn rol, is dit ʼn groot kompliment. Ek hou ook daarvan dat mense opgewonde is om my in ʼn ander karakter te sien.”

Getroud met rugby is weeksaande om 18:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lindi

Dis seker ‘n meisie vir Buks. Sy kan maar bly maar ASB raak ontslae van die Lulu karakter!!!!!

Theresia

Nee asb. Hoop nie sy bly lank by die sepie nie. Haar karakter is baie platvloers. En Lulu mag dalk kosmaak, maar sy pas nie in nie. Wat nog te sê as pasmaat vir Simon.
Simon en Renate kan beslis herenig.
En nog iemand wat beslis nie inpas nie is die
Verloofde van Reitz. Mens kan sien sy is baie ouer as hy, en sy gaan die broek dra

Alet

Wat op dees aarde het die skrywers van GMR gedink toe hulle hierdie karakter ingeskryf het….eish dis glad nie snaaks nie.