Gewilde Afrikaanse sangeres se sprokiesverhaal kom na kassie

Barry Lubbe en Lianie May (Foto: Facebook via Lianie May)

Die Afrikaanse sangeres Lianie May is binnekort in ʼn splinternuwe werklikheidsreeks te sien wat onder meer beloof om ʼn persoonlike blik te bied op haar paadjie na die kansel ná ʼn verlowing van tien jaar én ook die vervaardiging van haar jongste album.

Jenny Griesel, die vervaardiger van die reeks – wat Met my hele hart heet – vertel die sangeres gaan met dié reeks vir aanhangers ʼn kykie in haar alledaagse lewe bied.

May is vanjaar al tien jaar verloof aan Barry Lubbe en het vroeër dié jaar gesê die trouklokkies gaan vanjaar uiteindelik lui.

“Die reeks skop af op haar verjaarsdag. In die toneel vra Barry vir Lianie of sy ná tien jaar uiteindelik met hom sal trou,” vertel Griesel.

Met my hele hart gaan die sangeres se reis na die altaar volg. Aanhangers gaan ook agter die skerms kan sien hoe haar album en jongste musiekvideo’s vervaardig word én op ʼn reis van fotosessies vir die album geneem word.

“Hierdie jaar het ons nou ʼn sperdatum vir die troue – niks mag dus meer in die pad staan nie. Dit is ʼn baie opwindende reeks en aanhangers kry nou vir die eerste keer die kans om haar van die verhoog af te sien, en nie net as Lianie die sangeres nie, maar ook as die verloofde en die vrou.”

Met my hele hart bestaan uit 13 episodes. Die reeks begin op 12 September om 20:30 op VIA, DStv-kanaal 147.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Liza101 ·

Ek is nie seker hoe ek hieroor voel nie, ek hou van Liane maar word daar nie tot ‘n mate ‘n bespotting gemaak van die huwelik nie? Hulle bly al jare soos getroudes saam?

Blommie ·

Ja nee ek stem volkome saam met jou. Die heiligheid van die huwelik is hier beslis ‘n bespotting. Lyk my die TV mense het nie veel meer om oor programme te maak nou gebruik hulle maar hierdie tipe goed of kos, vasvra en belaglike musiek programme. Ek wens hulle wil ‘n self uitgesoekte pakket uitbring sodat mens jou eie keuse kan hê.

Andre Traut ·

Ek is n luisteraar van haar musiek, maar mense, wie is die idee uitdinker vir programme op via? Op hierdie stadium gaan dit van bad to worse. Ek vertrou die fase gaan vinnig oorwaai asseblief

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.