Gewilde ‘Boer soek ʼn vrou’-paartjie verloof

Boer Willem en Sanel het Dinsdag verloof geraak. (Foto: Instagram)

“Ek voel soos ʼn kat wat room gekry het! Ek glimlag van oor tot oor, my wange is eintlik al seer!”

Só sê Sanel Prinsloo (23), gewilde deelnemer van die vorige seisoen van Boer soek ʼn vrou, wat Dinsdag verloof geraak het aan boer Willem Pool (30) op sy rooibosteeplaas naby Clanwilliam in die Wes-Kaap.

Prinsloo, ʼn gr. R-onderwyseres op Leipoldtville, vertel dit was ʼn groot verrassing en sy het glad nie geweet wat Pool beplan nie.

“Hy het gedurig gespot daaroor dat ons ʼn sesjaarplan het. Ek gaan kuier gewoonlik Woensdae op die plaas, maar het gister deurgery om hom te gaan help op die plaas, want hy het sy rug seergemaak. Toe ek daar kom, het hy vir my gesê ons gaan by die buurman koffie drink, maar voor ons dit doen wil hy net eers vir een van die plaaswerkers gaan vra om ʼn hek te sluit,” vertel ʼn borrelende Prinsloo.

“Ek het alles geglo, want dit is maar oor die algemeen hoe die dag afgesluit word op die plaas. Op pad na die plaaswerker toe, draai Willem toe af by ʼn paadjie wat lei na Langbergpunt, ʼn plekkie op die plaas waar ons altyd braai en kuier. Jy kan daar uitkyk oor Lambertsbaai en die Weskus.”

Willem en Sanel kuier gereeld saam by Langbergpunt. (Foto: Facebook)

Dit is ook daar waar hulle alleentyd op die program deurgebring het en waar hy haar gevra het om sy meisie te wees. Sy vertel Willem het ʼn paar aanwysingsbordjies opgesit met feetjieliggies en ʼn kamera om die groot oomblik vas te vang.

“Hy het ʼn stemboodskap van my ouers gespeel waarin hulle sê hulle gee toestemming vir Willem om met my te trou en waarin hulle vertel hoe lief hulle ook al vir hom geraak het. Ek het toe begin huil, want toe besef ek iets is aan die gang. En daar sak die man toe af op een knie! Ek voel nou nog of ek droom.”

Volgens Prinsloo wou sy nog altyd gehad het haar verlowing moet ʼn verrassing wees, en het Willem al maande gelede gevra wat haar smaak in ringe is. Sy vertel sy is mal oor die roosgoud ring met die ronde diamant wat Willem gekies het.

“Hy weet ek hou nie van goed wat te besig is nie, ek is maar ʼn plain Jane met ʼn klein handjie. Ek moet sê hy het al my verwagtinge oortref. Ek kyk die heeltyd hoe dit lyk! Willem het juis vanoggend vir my ʼn boodskap gestuur om te sê hy hoop nie ek het van die pad af gery op pad skool toe oor ek so na my ring staar nie,” lag sy.

Prinsloo sê haar kamermaat op die Puk, waar sy studeer het, het haar aangemoedig om in te skryf vir die program. “Sy het destyds al gesê Willem is my trouman!”

Boer Willem en Sanel. (Foto: Instagram)

Sy gee toe dat sommige Boer soek ʼn vrou-kykers dink die program is ʼn klug of aangeplak, maar voeg by dat sy dankbaar is vir dié platform wat haar lewe verander het.

“Ek is een van dié wat gelukkig genoeg was om liefde te kon vind en ek is dankbaar vir die mense wat my aangemoedig het om in te skryf. Ek het iets gedoen wat heeltemal uit my gemaksone is, en kyk wat het met my gebeur.”

Sy vertel dat hulle nog nie oor ʼn troudatum gepraat het nie. “Ons is nog te oorweldig deur almal se seënwense met die verlowing. Dit is só lekker dat soveel mense bly is saam met ons en opgewonde is vir wat die toekoms vir ons inhou. Ek is net jammer dit is grendeltyd, want ek sou graag ʼn makietie wou hou om ons verlowing mee te vier.”

Inskrywings vir die 13de seisoen van Boer soek ʼn vrou is nou oop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Beth ·

Baie geluk julle twee!! Mag julle baie jare se geluk, vreugde en seën ervaar. Julle doen mekaar goed en ek geniet elke brokkie nuus van julle. Baie bly vir julle.

Twopence ·

Regtig, is dit die beste wat jy kan sê Piet! Sy is ten minste nie ‘n bang meisie nie.
Baie geluk julle twee, net die mooiste en beste vir die jare vorentoe.

Kaal Keiser ·

Baie geluk !! Julle is ‘n awesome paartjie en wens julle alle voorspoed en geluk toe !

Racheltjie Debeer ·

Baie, baie geluk. Mag julle vir altyd gelukkig saam wees en die Here jul huwelik seën

Henk ·

Hy het darem vir n goeie doel op sy knie gegaan .
” Sanel’s life matter “

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.