Gewilde komediereeks gekanselleer ná rassistiese twiet

Roseanne Barr in Maart vanjaar by die bekendstelling van die herleefde reeks van "Roseanne". (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Roseanne Barr in Maart vanjaar by die bekendstelling van die herleefde reeks van “Roseanne”. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Die Amerikaanse televisienetwerk ABC Entertainment het sy gewilde komediereeks Roseanne gekanselleer nadat die ster van die reeks, die omstrede aktrise Roseanne Barr, rassistiese aanmerkings op Twitter gemaak het.

Barr het Maandagaand op Twitter na Valerie Jarrett, Barack Obama se voormalige raadgewer, as “ʼn produk van die Moslem-broederskap en The Planet of the Apes” verwys.

Channing Dungey, hoof van ABC Entertainment, het dié aanmerking as “gruwelik, afstootlik en strydig met [ons] waardes” bestempel.

Barr het die inskrywing op Twitter verwyder en dit ʼn “slegte grap” genoem, maar die skade is reeds aangerig. The Guardian berig Barr het intussen op Twitter gesê sy was onder die invloed van die voorskrifslaappil Ambien toe sy dié uitlating gemaak het.

“Dit was 02:00 in die oggend en ek het Ambien geneem,” het sy op Twitter geskryf. “Dit was ook Memorial Day. Ek het te ver gegaan en wil nie hê dit moet verdedig word nie. Dit was onverdedigbaar.”

Sy het ook na die UFC-aanbieder en komediant Joe Rogan se vorige opmerkings oor Ambien se “skrikwekkende” newe-effekte verwys. “Ek dink [hy] is reg oor Ambien. Ek maak nie verskonings op vir wat ek gesê het nie, maar ek het al vreemde goed gedoen terwyl ek Ambien gebruik het, soos om 02:00 in die oggend eiers teen ʼn muur te breek.”

Barr se talentagentskap, ICM Partners, het ook hul dienskontrak met dié aktrise beëindig.

Roseanne Barr. (Foto: ANA)

Roseanne Barr. (Foto: ANA)

Die herlewing van Barr se gelyknamige komediereeks uit die 1990’s was ʼn verrassingsuksesverhaal vir ABC, wat deur Walt Disney Co. besit word. Die reeks was reeds oorgehaal om ʼn fortuin vir die netwerk in te ryg met sy volgende seisoen.

Die eerste nuwe episode van die reeks is in Maart deur meer as 25 miljoen mense gekyk, wat ʼn hoë syfer is vir ʼn televisienetwerk. ABC het ook verwag dat adverteerders na raming miljoene sou betaal vir die geleentheid om in die advertensiebreuk tussen Roseanne en The Big Bang Theory te sien te wees.

Roseanne het as een van die min netwerkreekse wat oor ʼn werkersklasgesin handel aansienlik aandag getrek ná sy terugkeer na die kassie, toe Barr se karakter president Donald Trump ondersteun het. Dit het die reeks gewild gemaak onder konserwatiewe kykers, en Trump het sélf aangevoer die feit dat die karakter hom ondersteun, het baie met die reeks se sukses te doen.

Barr self het ʼn geskiedenis dat sy op haar Twitter-profiel in politieke samesweringsteorieë delf en het Memorial Day afgerond met ʼn reeks verklarings. Jarrett, ʼn swart vrou, se naam het in kommentaar op Twitter wat verband hou met ʼn Obama-samesweringsteorie opgekom.

Jarrett het gesê sy hoop mense sal ʼn les uit die voorval leer. “Ek is oukei, maar ek is bekommerd oor mense daar buite wat nie ʼn vriendekring of volgelinge het wat tot hul verdediging kom nie.”

Wanda Sykes, komediant en een van die skrywers van Roseanne, het op Twitter gesê dat sy nie na die reeks sou terugkeer nie. Sara Gilbert, wat in Roseanne speel, het ook op Twitter gesê die aanmerking was gruwelik.

Shonda Rhimes, skepper van gewilde reekse soos Grey’s Anatomy en Scandal het gesê Barr het gekry wat sy verdien het.

“Soos ek vir my vierjarige sê: ʼn Mens maak besluite deur ʼn mens se dade. Roseanne het ʼn keuse gemaak. ʼn Rassistiese een. ABC het ʼn keuse gemaak. ʼn Menslike een.”

Volgens Kantar Media het Roseanne na raming $45 miljoen uit advertensies verdien deur die nege episodes wat sedert Maart gebeeldsaai is. Die maatskappy beraam dat die 13 episodes wat vir die volgende reeks beplan was meer as $60 miljoen sou inbring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cherokee ·

Rassisme is verstek by die mens wat lief is vir eie kultuur en nasie.

anton ·

Maar net weer n bewys dat slegs blankes n rassis kan wees!!!
Geen ander nasie kan ooit een wees nie al se en doen hulle wat!!!
Daar is iets ernstig fout met die wereld.

Sieklik ·

Maar THE VIEW met hulle LIBERALE En RASSISTIESE uitsprake teenoor DONALD TRUMP is heeltemal fine? Hulle sit heerlik en skinder en haatspraak pleeg .. vreemd hoe die wereld verander het . NET LIBERALE het ‘n stem . nie konserwatiewes of nasionaliste nie .. SIEKLIK

alwyn burger ·

Ek sou graag die mening van die gewone hardwerkende Amerikanerwou hoor. Wat ons hier hoor en lees , dink ek , is die geveinsde diplomasie van die liberale. Die groot Malcolm X het sy ongemak met die liberale witman uitgespreek. Ook hier ter plaatse spreek die skryfster van “Sorry ,not sorry” haar uit teen die geveinsde liberale witman.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.